Farm to Fork, farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Van ‘n Karakoelplaas in Mariental na ‘n Alpakkaboerdery in SA

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont en Dewald Kirsten

Dietmar Keil is ’n Namibiër wat tydens die genadelose droogte van die tagtigerjare op ’n skaap- en karakoelplaas naby Mariental grootgeword het. “Ek het myself belowe ek sou nooit boer nie,” sê die eienaar van die grootste alpakkaboerdery in Suid-Afrika. 

Dietmar Keil deel ’n teer oomblik met Paloma, sy alfa-hembra, wat ook ’n berugte spuwer is. 

OMPAD PLAAS TOE

Dietmar is ná skool in die middel negentigs na Duitsland waar hy skrynwerk gestudeer het. Alhoewel sy vrou, Kerstin Heisterkamp, ’n Duitser is, het hulle in Namibië ontmoet. Dietmar en Kerstin het in 2002 van Duitsland na Suid-Afrika teruggekeer en kom woon op Klein Landskroon wat in 1987 in familiebesit gekom het. Dit is vandag die tuiste van The Alpaca Loom Coffee Shop and Weaving Studio. 

Hulle het niks van alpakkas geweet nie en Google was nog nie die onuitputbare bron van inligting wat dit vandag is nie. 

Hoe Dietmar en Kerstin by alpakkas uitgekom het, is ’n interessante storie. Met hul aankoms was daar net ’n paar buitegeboue op Klein Landskroon. Die plaas is 17 ha groot met 7 ha bewerkbare grond. Hulle was onseker oor die tipe boerdery wat hulle wou begin. “Kerstin het ’n koei gekoop, maar sy’t drie dae later gevrek omdat daar ’n stuk draad in haar was,” vertel Dietmar. Vrylopende varke, skape en kalwers vir die produksie van kalfsvleis het gevolg – met groter sukses as die ongelukkige koei – en hulle het ’n gemengde bestaansboerdery opgebou. Tot hul paaie met alpakkas gekruis het by die Bien Donné Agri-Expo. Met hul lang nekke, groot oë en opgetofde kuiwe is alpakkas onweerstaanbaar oulik. Dit het ook gehelp dat die alpakkasmous baie optimisties was oor die waarde-aanwas van dié diere en hul ragfyn wol. 

Alpakkas word in September geskeer dat hul wol tydens hoogsomer steeds kort is en voor die winterkoue weer teruggroei.

FOTOGENIESE IMPULS-KOPIE

“Ons het ons eerste alpakkas van ’n foto af gekoop,” lag Dietmar terugskouend. “Toe die ses ooie uit Chili, Suid-Amerika, hier aankom, het ons bietjie geskrik, want hulle was soveel kleiner as op die foto. Toe besef ons dat die Suid-Amerikaanse Indiane wat saam met die alpakkas op die foto was, redelike kort mense is.” Met die aankoop van die diere het hulle niks van alpakkas geweet nie en Google was nog nie die onuitputbare bron van inligting wat dit vandag is nie. “Ons het nét een dik boek gehad: The Complete Alpaca Book deur Eric Hoffman,” sê hy. Vandag het The Alpaca Loom 360 alpakkas, 5 lamas en 5 dromedarisse. 

Alpakkas se wol wissel van 14 mikron, soortgelyk aan dié van ’n jong sybokkie. Tussen 32 en 34 mikron. 

KAMEELFAMILIE

Alpakkas en lamas word dikwels met mekaar verwar, maar alpakkas is opmerkbaar kleiner as lamas. Hul wol is ook fyner en meer gesog. Albei is afkomstig van Suid-Amerika en behoort aan die kameelfamilie, en kruisteling tussen alpakkas en lamas is dus moontlik. Dietmar en Kerstin wou aanvanklik net met alpakkas teel om die diere en hul wol te verkoop. “Ons het nie planne gehad om self iets met die wol te doen nie,” sê hy. Daar is tans ongeveer 50 alpakkaboere met 6 000 alpakkas regoor Suid-Afrika wat 12 ton wol per jaar genereer. 

Dieter meen hulle is baie slim– nes kamele – en ook lekker ondeund.

KOES!

“Kamele is só slim,” sê Dietmar. En hulle is almal berugte spuwers. Dietmar sê dat sommige baie “spittative” is, en ander weer glad nie. Ek wil weet of “spittative” ’n regte woord is. “Ek weet nie. Ek’t dit waarskynlik opgemaak,” lag hy. As die grootste alpakkaboere in Suid-Afrika, mag hulle (volgens my) die alpakkawoordeskat uitbrei. Ons praat van “ramme” en “ooie”, maar dit is streng gesproke nie korrek nie. Hoewel alpakkas vier spene het, is “bul” en “koei” ook nie van toepassing nie. ’n Manlike alpakka word ’n macho genoem – na die Spaans – die vroulike dier is ’n hembra en ’n kleintjie is ’n cria. Sodra ’n hembra dragtig is, spoeg sy na die macho. “Dis hoe ons weet sy’s swanger,” sê hy.

Ek wil weet of “spittative” ’n regte woord is. “Ek weet nie. Ek’t dit waarskynlik opgemaak,” lag hy. 

Volgens Dietmar lê die waarde van alpakkaboerdery in die verwerking van hul wol. Terwyl ons gesels, jil opgewonde kinders in die kraaltjie waar hulle alpakkas streel en voer. Landbou-toerisme is ’n baie welkome, addisionele inkomste-aar wat saam met die boerdery gegroei het. 

Hulle het die alpakkas in 2004 gekry en die wol laat spin om daarmee te eksperimenteer. Dietmar het in 2009 spinwiele en weefstoele aangeskaf en die plaas het in 2010 begin om hul eie wol met die hand te spin en te weef. “Toe’t Google ons baie gehelp,” sê hy. 

Die vreugde wat hierdie mooi diere bring is aansteeklik. Kinders van alle ouderdomme geniet hulself gate uit in die speelarea. 

NIE NET MOOI GESIGGIES NIE

Die Keils boer sedert 2010 uitsluitlik met alpakkas. “Hulle is baie soos skape en is ook herkouers wat dieselfde siektes en inentings as skape kry,” sê hy. Alpakkas is meer as net mooi gesiggies. Benewens skop en spoeg, trap hulle ook met hul voorpote wat met twee klouagtige naels toegerus is. Machos word gereeld verkoop as wagters om skaapkuddes teen roofdiere te beskerm. Ons ry na die twee kampe waar die hembras en machos apart wei. Met hul lang nekke en wimpers is hulle uiters fotogenies en wissel hulle in kleur van roomwit tot steenkoolgrys. Terwyl ons gesels, kom loer Paloma, die alfa-hembra, oor die draad. Sy lyk uitdagend, beduiweld en baie sjiek. “Sy’s ’n spuwer,” sê Dietmar. Sekondes later het hy ’n kol gekoude gras op sy linkerskouer. Wanneer hy goedhartiglik op die gras gaan sit vir ’n mooi foto saam met sy trop, spoeg Paloma hom vier keer vinnig teen die agterkop. Praat van geniepsig!

Volgens Dietmar lê die waarde van alpakkaboerdery in die verwerking van hul wol. 

Ek sien hoe ’n alpakka ’n agterpoot omhoog lig om haarself in die sy te krap. As lede van die kameelfamilie het hulle dieselfde 360-grade-mobiliteit in hul bene. “Hulle skop ook soos ’n kameel in alle rigtings,” beaam Dietmar. Alpakkas waarsku skape teen roofdiere deur ’n geluid soortgelyk aan dié van ’n tarentaal te maak. Terwyl ons tussen die groep beweeg, hoor ek ’n ligte neurie-geluid wat ook tipies van hierdie uitsonderlike diere is. 

Suid-Afrika het twaalf geregistreerde kleure alpakkawol, waarvan room die algemeenste is en grys die gesogste.

TEELTROP

2018 was ’n goeie jaar en die plaas het 70 diere verkoop vir teeldoeleindes, as troeteldiere en jong machos as kuddewagters. Die gemiddelde prys vir ’n standaard alpakka beloop ongeveer R6 000, en ’n teeldier begin by R15 000. ’n Stoet-hembra in die mees gesogte skakering (tans is dit grys) kan tussen R30 000 tot R35 000 kos. “Suid-Afrika het twaalf verskillende kleure geregistreer,” sê Dietmar. Wit alpakkas is meer volop as die ander kleure. Alpakkas is 12 000 jaar gelede getem, maar nie in die 

Europese sin van die woord nie. “Met Europese industrialisasie is alle ander kleure uitgeteel en net wit skape het behoue gebly. Gelukkig was die Indiane nie so gesteld op wit nie.”

Net na skeertyd is die kontras tussen die kaal lywe en groot kuiwe amper komieklik.

GESOGTE WOL

The Alpaca Loom bied skeerkursusse aan om nuwe boere en agriwerkers die kuns van alpakkaskeer te leer. Die kudde word een maal ’n jaar in September geskeer sodat hul wol betyds kan teruggroei om hulle teen die ergste somerhitte te beskerm. Geskeerde wol word in drie balies gesorteer: wol van die bene en maag is die swakste, die nek lewer die middelgraad en die saal gee die beste kwaliteit. Die kop bly ongeskeer en nét na skeerseisoen is die kontras tussen hul flambojante mopkoppe en kaalgeskeerde lywe komieklik. Alpakkas se wolgehalte wissel van 14 mikron – soortgelyk aan dié van ’n jong sybokkie – tot 32 na 34 mikron. Die plaas produseer ongeveer 700 kg wol per jaar met ’n gemiddelde gehalte van 20 na 21 mikron. “Alpakkawol was altyd gebruik vir die Inka-adelstand, terwyl die gewone Indiane lamawol moes dra,” vertel Dietmar. 

Die plaas spin en weef sedert 2010 hul eie wol op die perseel. 

“Mense vra my altyd of dit winsgewend is om vyf alpakkas te hê. Dan vra ek hulle of dit winsgewend is om vyf skape te hê. Maar ons het self met sewe alpakkas begin en die trop mettertyd vergroot,” sê hy.

“Mense vra my altyd of dit winsgewend is om vyf alpakkas te hê. Dan vra ek hulle of dit winsgewend is om vyf skape te hê. Maar ons het self met sewe alpakkas begin en die trop mettertyd vergroot,” sê hy. Dit is finansieel meer voordelig om gekleurde alpakkas te teel. ’n Wit macho en wit hembra sal meestal ’n wit cria teel. Die donker kleure is gekoppel aan ’n meer resessiewe geen, en soms het ’n wit alpakka ’n versteekte kleurgeen. Dietmar hou fyn boek van die genetiese teenwoordigheid van verborge en sigbare kleurgene in sy kudde ten einde kleurdiversiteit te bevorder. Roomkleurige of wit alpakkas kan ook blou oë hê, maar dit gaan soms met doofheid gepaard.

Alpakkawol is fyn en super snoesig, maar ook meer waterbestand en warmer as omtrent alle ander wolsoorte. Perfek vir winterkleding.

CRIA-TURE

Ons besoek die kraal waar die hembras hul crias versorg. Hembras is vir 11,5 maande dragtig en kan twee weke ná geboorte weer dragtig raak. Hulle het twee lamseisoene per jaar: van Maart tot Mei, en Oktober tot Desember. ’n Hembra moet minstens 45 kg weeg en ouer as een jaar wees voor dekking mag plaasvind. ’n Klomp crias drom saam om ons in die voerkraaltjie. Ek is minder skrikkerig om deur ’n kleintjie gespoeg te word, maar lag nietemin deur my neusgate om te keer dat ’n plakkie nat gras my in die mond tref.

Ongeskeerde alpakkas in hul volle, wollerige glorie. 

Dietmar se kundigheid as skrynwerker is sigbaar in die houtgeboue van The Alpaca Loom se wewery, restaurant en winkel. Die winkel verkoop ’n verskeidenheid alpakkaprodukte wat op die plaas geweef word. Alpakkawol word nie gekleur nie en lewer ’n eindproduk wat sjiek, sag en baie warm is. Gaan kuier gerus by die alpakkas. Voer hulle, doen ’n kraaltoer, of stap ’n draai met ’n alpakka aan ’n halter. Hulle laat ’n mens eenvoudig lag.


Eienaar: Dietmar Keil | Besigheid: The Alpaca Loom Coffee Shop and Weaving Studio Area: Paarl, Wes-Kaap, Suid-Afrika | Kontak:  084 793 3666 | info@alpacas.co.za  www.alpacas.co.za

   

Filed under: Farm to Fork, farmers, Niche Farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *