Site icon Grond tot Mond

VinoVeritas deur CTP Toep – reuse sprong vir Veritas aanlyn-wynverkope

Daardie gesogte Veritas Goud- en Dubbelgoud-wenwyne en -brandewyne sal voortaan beskikbaar wees vir maklike bestelling en aflewering op jou drumpel, danksy ’n nuwe, spesiaal ontwikkelde toepassing vir aanlyn-wynverkope – ʼn briljante nuwigheid in die wêreld van wynkompetisies deur Veritas, Suid-Afrika se oudste en mees gesaghebbende kompetisie  vir markklaar wyne en brandewyne.

Hierdie reuse sprong vir die land se top wynkompetisie is moontlik gemaak deur baanbreker samewerking tussen die organiseerders – die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) – en sy jarelange finansiële vennoot CTP Packaging (deur sy afdelings SA Litho Label Printers en CTP Cartons & Labels), met die goed-gevestigde Getwine-portaal vir aanlyn-dienste en die Johannesburgse Cognition FoneWorx toep-ontwikkelaar.  

Dit is ʼn baie betekenisvolle wynbedryf-gebeurtenis wat op ʼn besonder geleë tydstip kom, waar die Suid-Afrikaanse verbruiker ʼn groot beweging ten gunste van aanlyn-aankope, insluitend wyn, weens die Covid-19 beperkinge en realiteite vertoon, terwyl daar die  behoefte is om te herstel van die bedryf se verlore momentum met verkope.  

“Hierdie is ʼn trotse oomblik in die 30-jaar lange geskiedenis van Veritas dat ons so ʼn unieke toepassing van stapel kan stuur, wat beide die Suid-Afrikaanse wynbedryf en die verbruiker sal baat,” het SANWSV-voorsitter Christo Pienaar gesê. “Hierdie mylpaal is bereik ondanks die moeilike tye wat die wynbedryf gedurende die Covid-19-pandemie ervaar en dit sal vanjaar al direkte voordele hê van verkope  vir al die kelders en die wyne en brandewyne wat Dubbelgoud en Goud losslaan. Veritas se fokus was uit die staanspoor om die verbruiker van ʼn riglyn na die top wyne en brandewyne wat aan die kompetisie deelneem te voorsien en die top presteerders kan nou in die gemak van hul tuiste bestel word. 

“Ons het dus daarin geslaag om ʼn negatiewe situasie in ʼn groot positiewe een te omskep, wat tot groot voordeel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf in hierdie moeilike tye sal wees, ook met langtermyn voordele vir almal betrokke,” het Pienaar bygevoeg.  

Die koperspubliek van wyn en brandewyn sal hierdeur die toegewyde VinoVeritas Toep op hul slimfone of persoonlike rekenaars kan aflaai, die uitslae kan lees en onmiddellik van die 198 produkte bestel wat met Goud- of Dubbelgoud-medaljes by die 2020 Veritas Toekennings bekroon is.  

ʼn Voorvereiste vir wynmakerye se deelname aan Veritas is dat ʼn minimum van 300 bottels wyn en 120 brandewyn vir aankope beskikbaar moet wees – maar toegang tot hierdie wenners via kleinhandel-verkoopspunte landwyd was in die verlede dikwels uitdagend uit ʼn logistieke oogpunt. 

Die samewerking met Getwine en hul vaartbelynde distribusie-netwerk sal hierdie situasie nou radikaal verbeter.  

ʼn Voornemende wyn-aankoper sal voortaan (van vandag) in staat wees om die toepassing eenvoudig af te laai, te registreer en dan van 20:00 op die aand van 14 November  bestellings te plaas – wanneer die Veritas-uitslae bekend gemaak sal word by ʼn afgeskaalde toekennings-middagete by die Val de Vie residensiële landgoed se  polo-kompleks in die Paarl.  

Die aanlyn kooptransaksies vir die wyne en brandewyne, waarop die toepaslike Veritas-bottelplakkers sal verskyn, is transaksies tussen die verbruiker en Getwine. Dít wat die prys, betaling en aflewering volgens die ooreenkoms betref. Gratis vervoer word landwyd hierby aangebied vir bestellings van 12 bottels of meer. 

ʼn Aantreklike promosie wat hiermee gepaard gaan, is dat een gelukkige wyn- en brandewynliefhebber wat vir VinoVeritas registreer, daagliks van 4 – 14  November, ’n sesbottel-kis van Veritas se wenprodukte kan losslaan, sowel as die groot prys van twee sitplekke vir die Veritas-toekenningsfunksie op 14 November. 

In die lig van die Covid-19 beperkings op openbare byeenkomste, sal die jaarlikse gebruiklike landwye publieke proeë van Veritas-wenners nie vanjaar plaasvind nie. Die volledige Veritas-uitslae sal egter wel terselfdertyd aanlyn op die verskillende webtuistes van die rolspelers beskikbaar wees – Veritas, CTP/SA Litho, Getwine en Cognition – ondersteun deur inligting in die wye sosiale en ander media. Hierdie kanale sal die gebruiklike uitslae-boekie wat oor die jare danksy borgskap van SA Litho gepubliseer is, vervang  – terwyl hierdie maatskappy aanbly as ʼn rojale finansiële vennoot van die Veritas Toekennings.  

Om te soek vir die VinoVeritas-toepassing, dit af te laai en daarop te registreer, gaan na Google Play of die Apple App Store op jou slimfoon – verken dan die toekennings, kies wyne en bestel hulle direk deur die Toep. Jy sal ook toegang hê tot sosiale media-stroming en verdere relevante inligting. Daar sal ook twee ikone op die veritas-webwerf wees waarop jy sal kan klik om direk na Toep geneem te word vir  registrasie. 

SANWSV se VinoVeritas-vennote is:·         

Exit mobile version