Die Departement van Landbou het onlangs nuwe regulasies bekend gemaak wat toelaat dat plantgebaseerde en laboratorium-vervaardigde proteïen onder vleisverwante name verkoop mag word, en hulle verwag dat boere dit met oop arms sal aanvaar. Maar Saai, wat die belange van boere verteenwoordig, sê dit is onaanvaarbaar.
In ’n verklaring het die departement gesê: “Die publikasie van die vleisanaloë-regulasies moet deur alle betrokke belanghebbendes verwelkom en waardeer word.” Maar die realiteit is dat baie boere eers van hierdie reëls verneem het toe dit in die media verskyn het, ’n duidelike teken dat daar nie behoorlik met die landbousektor gekonsulteer is nie.
Dit is nie die eerste keer dat die departement beweer hulle het almal ingesluit terwyl sleutelrolspelers in die donker gehou is nie. Net soos met die sogenaamde Landbou- en Landbouverwerkingsmeesterplan, is boere-organisasies en landbou-ondernemings weer eens buite die gesprek uitgelaat.
Wat sê die nuwe reëls?
Volgens die regulasies, wat op 23 Julie 2025 gepubliseer is, mag produkte soos plantgebaseerde of gekweekte proteïen onder benamings soos “”worsbroodjies, chipolatas, bites, steaks, pops, meatballs, rounds, pieces, tenders, burgers, patties, worsies, bangers, griller loafs, polonies, mince of maalvleis, braaivleis, schnitzels” verkoop word, mits dit duidelik gemerk word as nie-dierlik. Maar vir boere is dit ’n direkte bedreiging.
Hoekom is dit ’n probleem?
Die veebedryf sukkel reeds onder swak beleid, energiekrisisse en toenemende koste. Nou moet boere ook nog kompeteer teen produkte wat hul harde werk en tradisionele vleisbenamings misbruik. Dit is nie net oneerlik nie—dit mislei verbruikers.
Wat eis Saai?
- Geen vervalste benamings nie: As dit nie vleis is nie, moet dit nie so genoem word nie.
- Duidelike etikettering: Verbruikers het die reg om te weet wat hulle koop, of dit nou van ’n boer, ’n laboratorium of ’n insekplaas af kom.
- Regte ondersteuning vir boere: In plaas van nuwe hindernisse, het die landbousektor behoefte aan beleid wat werklik help.
Hierdie stryd gaan oor meer as net woorde, dit gaan oor eerlike handel, verbruikersvertroue en die toekoms van Suid-Afrikaanse boere. Saai staan vas: regte kos kom van regte boere, en ‘fake vleis’ moet nie met dieselfde name verkoop word nie.
