Vanjaar se wenners van die Landbou-navorsingsraad (LNR) se 2025 Nasionale Meestersuiwelboer-toekennings hoef geen tree terug te staan vir vorige jare se wenners nie. Hulle is elkeen uitstaande in die afdeling waarin hulle met ander melkboere meegeding het. Hierdie kompetisie van die LNR is jaarliks ‘n hoogtepunt op Suid-Afrika se landbou-kalender waar erkenning gegee word aan uitstaande prestasie deur die land se top-suiwelboere. Die kriteria van die kompetisie fokus veral op die teel van geneties uitstaande diere, met behulp van prestasie-opname en prestasie-toetsing as instrumente.
DIE WENNERS VAN DIE 2025 LNR NASIONALE MEESTERSUIWELBOER-TOEKENNINGS IS:
- Grootskaal Meestersuiwelboer van die Jaar: JK Basson Familietrust, Darling, Wes-Kaap
- Mediumskaal Meestersuiwelboer van die Jaar: Van Niekerk Boerdery BK, Caledon, Wes-Kaap
- Kleinskaal Meestersuiwelboer van die Jaar: Letsolo PT Dairy, Sebokeng, Gauteng
- Nuwe kategorie: Korrektiewe Dienste Meester-suiwelboer van die Jaar: Goedemoed Korrektiewe Dienste, Maletswai (Aliwal-Noord), Oos-Kaap
- Kudde met die beste somatiese seltelling: Packwood Farm, Knysna, Wes-Kaap, met 170 000 selle/ml
- Kudde met die beste tussenkalfperiode: JK Basson Familietrust, Darling, Wes-Kaap, met ‘n tussenkalf-periode van 375 dae
’n Eretoekenning is ook aan Boy Blanckenberg van Klipheuwel naby Durbanville toegeken as ’n huldeblyk aan sy visionêre leierskap, onwrikbare steun aan suiwelboere en lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf.
Grond tot Mond het met die kategoriewenners gesels om uit te vind juis hoekom hierdie suiwelboere as die wenners in hul onderskeie kategorieë aangewys is.
GROOTSKAAL MEESTERSUIWELBOER VAN DIE JAAR – JK BASSON VAN JK BASSON FAMILIETRUST
JK Basson het in 1990 saam met sy pa tussen Darling en Yzerfontein begin boer. Hul Holstein-melkery bestaan tans uit 2 700 diere waarvan 1 222 koeie drie keer per dag gemelk word. Die melkery is dekades gelede deur sy oupa met net 160 koeie begin.
Enige boerdery bestaan uit verskillende fasette, maar in melkboerdery is daar ‘n hele paar aspekte wat gesinchroniseer moet wees en alles moet bykans perfek in balans wees ten einde suksesvol te kan wees. Die diere moet van topgehalte wees om te verseker dat ‘n uitstaande produk gelewer kan word. En dit is juis tussenin waar al die harde werk lê, vertel JK.
“Ek het baie kennis ingewin by toptelers toe ek in Amerika gewerk het – veral wat betref goeie uiers, bene en bouvorm en waarvoor presies geteel behoort te word. Ons gebruik daarom ‘n teelingprogram om die beste koei te kan teel wat die beste produksie kan lewer.”
Moderne tegnologie maak ‘n groot verskil
Hulle gebruik verskeie programme om elke fasette van die dier en die melkery tot sy maksimale produksievermoë te stoot. ‘n Dierevoedingsprogram verseker dat die koeie die regte kos inneem om beter te kan presteer. Die Digistar-voedingsprogram bestuur die voeding en riglyne word gevolg om seker te maak dat elke koei die regte hoeveelheid kos inneem. Cowmanager, ‘n melkprogram, help om melkproduksie te verbeter deur onder meer tekorte uit te wys en waarop spesifiek gelet moet word in die kudde.
“Ons voer uitstekende semen van Amerika af in om ons verse te KI (kunsmatige inseminasie). Zoetis help ons ook met ons genomiese ontledings.” JK sê hulle lê baie klem op koeigemak en behuising, want dit speel ‘n groot rol in hoër melkproduksie.
“Dit is belangrik om die diere teen die elemente van die seisoene te beskerm. In 2001 het ons die eerste behuisingskompleks opgerig en ses maande later ‘n tweede een. Nuwe verse is toe ingekoop om die kudde te groei en nog behuising is geskep.”
Ocean Breeze Holsteins is, soos die kraai vlieg, sowat 10 km van die see af. Die seebriesie wat die plaas bereik, sorg dat dit by hulle koeler is as in die binneland en dit pas die koeie perfek.
“Die diere kan maklik hitte-stres kry, en daarom is daar ook ‘n voerbaanverkoelingstelsel en waaiers in die stalle en die behuisingskomplekse aangebring om die koeie af te koel.”
Goeie biesmelk is soos goud
“Ons filosofie is om ‘n gesonde kalf op die grond te kry en na haar te kyk na die beste van ons vermoë. Ons gee die verskalwers hoë kwaliteit biesmelk wat getoets word deur ‘n refraktometer. Ná ‘n paar dae word die kalf se bloed getrek en ons kan dan sien wat die vlak van teenliggaampies in die kalf se bloedstroom was. ‘n Kalf wat goeie biesmelk ingekry het, gaan nie sommer siek word nie, wat weer groot kostebesparings tot gevolg het.
JK sê hulle poog om die verse op 14 maande op minstens 430 kg te hê om te kan KI. Wanneer sy goed uitgegroei is met ‘n goeie massa, kan sy op twee jaar reeds in melk kom.
“’n Kalf wat goeie biesmelk ingekry het, gaan nie sommer siek word nie, wat wee groot kostebesparings tot gevolg het.”
Hulle koop goeie kwaliteit lusern aan en maak jaarliks kuilvoer op sowat 600 ha wat hulle ‘n bietjie vroeër probeer sny vir laer veselvlakke. Die boerdery was vanjaar ook die kategoriewenner vir die kudde met die beste tussenkalfperiode (375 dae). Hulle sorg dat die diere deur ‘n veearts ondersoek word om te sien of hulle reg is vir hul siklusse. Die eerste siklus word gemonitor en die koeie word geKI in die tweede siklus op tussen 60 en 70 dae in melk. Hoe vinniger besetting plaasvind, hoe beter is die tussenkalfperiode.”
Koeigemak is van kardinale belang
‘n Gemaklike lêplek in die behuisingskompleks word verseker en kompos, wat op die plaas gemaak word, word gebruik as bedding. ‘n Koei moet lê, gelukkig wees en herkou. “Ons wil ‘n goeie balans tussen produksie en bottervet verseker. Verlede maand was die gemiddelde hoeveelheid melk per dag weggelewer altesaam 46,5 liter per koei en die bottervet was 4,1%.
“Dit is vir ons uiters belangrik om saam met konsultante, voedingskundiges van Nova-voere en veeartse te werk. Elkeen speel ‘n belangrike rol in die bestuur en besluitneming van alle fasette van die boerdery en daarom kom ons ook gereeld bymekaar. Die werkers en bestuurders kry deurentyd opleiding om hulle ook só op die voorpunt van nuwe tegnologie te hou.”
Biosekuriteit en navorsing is essensieel
“Biosekuriteit is vir ons baie belangrik, veral nou weer in die lig van die onlangse uitbraak van bek-en-klou-siekte. Ons koop geen diere in nie, maar voer wel verse uit na naburige lande in Afrika.
“Biosekuriteit is vir ons baie belangrik, veral nou weer in die lig van die onlangse uitbraak van bek-en-klou-siekte.”
JK maak gebruik van navorsing en terugvoering waarvolgens hy dan sy bestuurstelsels toets en aanpas indien nodig. “Ons gebruik die LNR se melkaantekeningskemas met terugvoeringsverslae sodat ons ons kudde kan meet teen dié van ander melkboere.
Die uitdagings sal altyd daar wees. Insetkoste en veral elektrisiteit was ‘n groot kopseer veral met al die kragonderbrekings. “Ons het egter aangepas en ‘n sonplaas opgerig om seker te maak ons kan steeds volhoubaar boer.
Dit is vir ons baie belangrik dat die verbruiker die waarde van melk sal besef en eerder ‘n botteltjie melk as ‘n energiedrankie sal koop!”
MEDIUMSKAAL MEESTERSUIWELBOER VAN DIE JAAR – WIMPIE VAN NIEKERK VAN VAN NIEKERK BOERDERY, CALEDON
Wimpie van Niekerk, van die plaas Spes Bona, boer op hul familieplaas in die Caledon-distrik. Hy en sy neef, Niekie, wat die saaikomponent van die boerdery behartig, boer saam. Geslagte boer al so saam en vroeëre jare het hul pa’s, Willie en Eben, ook saamgeboer.
Die melkboerdery is dekades gelede met 12 Jersey- en 6 Ayrshire-koeie begin. Dit is ‘n geslote kudde met kleindogters van kleindogters van die aanvanklike kudde. Hulle gebruik Deense bulsaad om te KI. “Ons probeer eintlik die Ayrshires uitwerk, want hulle is te groot vir ons stalle en vreet verskriklik baie. Hulle gee wel meer melk, maar die bottervet en proteïene, waarop ons boerdery veral fokus, is te laag.
“Ek glo ‘n melkboerdery is een van die mees presisie-boerderye wat daar is. Ons uitgangspunt is: om te meet is om te weet; daarom is rekordhouding vir ons van groot belang.”
Ontwikkeling oor die jare
“My pa het byvoorbeeld jare gelede een melklesing in 30 dae gehad, maar nou het ons met elke melking een lesing en kan ons in ‘n maand 60 datapunte gebruik om te besluit of ‘n koei uit die kudde gehaal moet word of nie.”
Ontwikkeling in die melkery behels ‘n verkoelingstoring wat die melk van 37ºC tot 20ºC afbring, wat beteken die kompressors kan baie ligter werk. Ons kan ook verstellings sodat ons net die krag wat ons nodig het, gebruik. Sonkrag help natuurlik ook dat ons elektrisiteitverbruik laer en goedkoper is.
Die SenseHub-hittebande van Allflex is een van die beste toevoegings in ons melkery, vertel hy. “Ons het eers met die hitte-plakkers gewerk, maar dit was nie altyd konsekwent nie en die tydfaktor het te veel speling gehad. Vandat hulle die hittebande gebruik, kan hulle ‘n merkwaardige groei in hul dragtigheidsyfers sien met groei vanaf 60% tot amper 90%. ‘n Veearts hanteer die skandering en met nuwe tegnologie is die inligting reeds op die rekenaar gestoor nog voordat hy die plaashekke verlaat.” “Tegnologie het boerderypraktyke só veel vergemaklik, dat ek eintlik nie kan dink hoe mens daarsonder kon klaarkom nie.”
Voeding is nr. 1
Voedsel word spesifiek toegedien en elke koei kry haar eie rantsoen. Dit is prestasiegebaseerd, want hoe meer melk sy gee, hoe meer kos kry sy.
Hoewel baie van die voeding geoutomatiseerd is en ons programme dui vir ons duidelik aan hoeveel voer die koeie, verse en kalwers moet kry, is dit steeds belangrik om elke dag by die bakke te gaan draai om doodseker te maak dat die kos reg gemeng is.
Aanvanklik het hulle met sowat 270 beeste geboer, maar in 2017 het hulle ‘n nuwe stal gebou wat gehelp het dat die kudde groter kon groei.
Kernboerderybeginsels wat gevolg word
Wimpie sê hulle probeer die lewensduur van die koeie rek, al beteken dit laer liters op die lange duur. Ons fokus is op hoë bottervet en proteïene. Hulle werk op ‘n volvoerstelsel en ‘n weidingsstelsel. Die toppresteerdende beeste is op die volvoerstelsel en koeie wat later in laktasie kom, skuif oor na weiding.
Tweederde van die kudde loop op die weiding en dit verg fyn bestuur. Wanneer die weiding minder raak, voer hulle strooi- en kuilvoerbalen.
“Die belangrikste element van ‘n volhoubare melkery is om dit eenvoudig te probeer hou. Die beeste moet melk gee, gesond wees en goeie kos kry. Die somme moet natuurlik ook klop. Dit kos sowat R15 000 om ‘n vers groot te kry; dan moet jy seker maak jy maak die regte vers groot.
“Die DelaVal-melkstelsel maak die lewe vir ons baie makliker. Alles is met ons selfone gekoppel en ons reaksietyd is baie vinnig. Waar ons in die verlede sowat 9 ure gemelk het by 270 koeie, melk ons nou 500 koeie in 5 ure. Die kalwers word gevoer met kalfvoermachines. Hul voeding word aangepas volgens hul ouderdom. Hoewel tegnologie baie duur is, maak dit boerdery supermaklik en haal dit die menslike foute uit die stelsel, wat tyd en geld bespaar.”
Goeie teelmateriaal maak die verskil
Ons boerdery maak staat op goeie genetika. Gemiddeld lewer ‘n Jersey-koei sowat 30 liter en die bottervet- en proteïen-persentasie is hoog. Langlewendheid is van groot belang, want nuwe verse breek eers gelyk met een en ‘n half laktasies. Dan eers begin mens geld maak. ‘n Sewende-laktasiekoei is dus beter as ‘n eerste-laktasievers. In ons kudde poog ons om die gemiddelde laktasie te verbeter.”
Omgewingsimpak word gemonitor
Wimpie meen goeie waterbestuur en die volhoubare gebruik van misdamme gaan al hoe belangriker word. Ons gebruik die miswater en die droë mis weer op die plaas. Water word baie effektief bestuur en daar word nie onnodig gepomp nie.
Sy bestuurspan is vir hom van uiterste belang. Niekie help aan die saaiboerderykant waar dit met die melkery oorvleuel en die kuddebestuurder, Jaco Conradie, is ‘n staatmaker. Geduld Klein, wat reeds jare op die plaas is en ook vir sy pa en oom geboer het, is ‘n ou hand wat jare se ondervinding het. Sy pa help geweldig baie met raad en eerlike terugvoer. “Arbeid is nie duur nie. Oneffektiewe arbeid is duur. Gelukkig het ons ‘n baie positiewe span en help die werkers tussen die afdelings op die plaas, veral oor naweke.
“Opleiding is kardinaal in enige besigheid want dit sluit onnodige onkostes uit. As die werkers ingelig is oor wat van hulle verwag word, is dit maklik om daarop voort te bou. Elkeen neem verantwoordelik vir die rol wat hy/sy moet vertolk. Ek deel erkenning mildelik uit, want juis dit spoor mense aan om ten volle hul kant te bring.”
“Dit is dan ook waarom die LNR-toekenning vir my en my span ‘n groot eer is. Harde werk wat konsekwent gedoen word, sal altyd vrugte afwerp. Ek is baie trots op die span vir dit wat ons vermag het”, sê Wimpie.
KLEINSKAAL MEESTERSUIWELBOER VAN DIE JAAR – CHRISTIAAN TSOLO VAN LETSOLO PT DAIRY, SEBOKENG, GAUTENG
Christiaan Tsolo glo harde werk, geloof en genade is wat sukses bring. Die plaas, Kaalfontein, naby Vanderbijlpark is waar hy en sy twee seuns hul melkery behartig. Met die hulp van die Departement van Landelike Ontwikkeling het hy die grond reeds in 2008 bekom en het sy melkery met 15 Holstein-koeie begin.
Die kudde bestaan vandag al uit 62 beeste waarvan tussen 25 koeie gemelk word. Die gesin het ‘n huis in Heidelberg waar sy vrou, Christina, woon, maar op die plaas is waar jy hom altyd sal vind, tussen sy diere. Sy twee seuns, Nelson (37) en Philip (32), boer saam met hul pa.
LNR help geweldig met melkstelsels
Christiaan sê die LNR help hom geweldig baie met die melkaantekeningstelsel wat presies wys hoeveel bottervet en proteïene die melk bevat. Melkstatistieke wat hulle vir hom deur gee, help om ingeligte besluite te neem. Die melk word aan Abraham Mohapi Melkery verkoop. Die melklewering is soggens sowat 250 liter en saans 195 liter.
Christiaan melk met behulp van drie trolliemasjiene waarop twee beeste gelyktydig gemelk kan word.
Diefstal en arbeidsprobleme is ‘n uitdaging
Probleme wat hy ondervind in sy melkery is onder meer diefstal. “Die werkers is lui om naweke en oor feestyd te werk. Dit is iets wat ek gaan aanspreek, die komende jaar, en ander werkswyse gaan implementeer om te kyk of ons dit kan oplos. Ons het ook ‘n varkboerdery en daarom is arbeid vir ons baie belangrik. Ons kan nie die boerdery alleen hanteer nie en is afhanklik van arbeiders”, sê Christiaan.
Wind en reën speel ook altyd ‘n rol en dit het in die verlede dikwels veroorsaak dat die krag afgaan. In 2021 het Melk SA egter gehelp met bykomende beeste en het hulle sonpanele gedeeltelik gesubsidieer om die kragprobleem te verlig. “Sedertdien gaan dit baie beter en is ons nie meer van kragvoorsiening afhanklik nie.”
Voer en medisyne is plaaslik bekombaar
Ook die plaaslike agribesighede is baie goedgesind teenoor Christiaan en kan hy enige tyd aanklop vir raad en hulp. “Party se produkte is duurder as ander, so mens moet maar mooi jou huiswerk doen voor jy jou aankope doen.”
“Dit is van uiterste belang om seker te maak jou somme klop. Voer is duur, maar die beeste eet baie lekker en dan gee hulle meer melk.”
’n Veearts van die Departement van Landbou staan hom baie mooi by met inligting en maniere om siektes te behandel, sê hy.
Christiaan is ontsettend lief vir sy diere. Hulle het nie net nommers nie, maar elkeen het name ook en word geroep om in te kom om gemelk te word. Dan kom hulle. Witkop, Sadrag en Masepule is maar enkele van die name wat hy sy geliefde koeie noem.

