Site icon Grond tot Mond

Limagrain se hoë standaarde verseker betroubare saad vir elke produsent

Planttyd laat min ruimte vir onsekerheid. Die lande is voorberei, insette is aangekoop en die planter moet loop sodra die toestande reg is. Teen daardie tyd wil ’n produsent weet dat die saad in die planter deeglik getoets is en gereed is om sy deel te doen.

Saadkwaliteit beïnvloed ontkieming, vestiging, stand en uiteindelik die opbrengspotensiaal van die gewas. Daarom beskou Limagrain saadkwaliteit as een van die belangrikste vertrekpunte vir ’n suksesvolle produksieseisoen.

Limagrain se saad voldoen aan die vereistes van die Plantverbeteringswet en die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema. Die maatskappy stel egter ook sy eie interne gehaltestandaarde, wat strenger as die voorgeskrewe minimum vereistes is. Elke saadlot word deeglik getoets voordat dit aan produsente beskikbaar gestel word.


’n Belangrike deel van dié proses is groeikragtigheidstoetsing, oftewel vigour testing. ’n Standaardontkiemingstoets wys hoeveel saad onder gunstige laboratoriumtoestande ontkiem. Soos elke produsent weet, is toestande op die land egter selde ideaal. Grondtemperatuur, vog en ander omgewingsfaktore kan ’n groot invloed op opkoms en vestiging hê.

Groeikragtigheidstoetse help daarom om ’n beter aanduiding te gee van hoe sterk die saad is en hoe dit waarskynlik onder minder gunstige veldtoestande sal presteer. Daar word onder meer gekyk na die saad se groeikragtigheid en vermoë om sterk en eenvormig te vestig.

Limagrain bestee heelwat tyd en hulpbronne aan hierdie gevorderde toetsing om laboratoriumresultate so na moontlik aan verwagte veldprestasie te bring. Vir die produsent beteken dit groter vertroue dat die saad nie net onder ideale toestande sal ontkiem nie, maar ook die groeikragtigheid het om ’n goeie begin in die land te maak.

Deeglike saadtoetsing help om die risiko van swak vestiging te beperk en verhoog die kans op ’n sterk, eenvormige stand. Dit ondersteun die opbrengspotensiaal van die kultivar en bied waardevolle gemoedsrus in ’n tyd van die seisoen wanneer elke besluit tel.

’n Produsent kan nie elke veranderlike beheer nadat die saad geplant is nie. Hy kan wel kies om te begin met saad wat volgens hoë standaarde getoets is. Dit is die sekerheid wat Limagrain deur sy fokus op gehalte en groeikragtigheid aan produsente wil bied.

Geskryf deur: Lyniarie Erwee |
Gehaltebeheerbestuurder:
Limagrain Field Seeds
E: lyniarie.erwee@limagrain.com

Exit mobile version