Site icon Grond tot Mond

Dennegeur se Stephan Beukes as Wes-Kaap se Boer van die Jaar aangewys

Stephan Beukes, derdegeslagboer van Dennegeur Farms buite Grabouw, is op 9 Oktober as die Wes-Kaap se Boer van die Jaar vir 2026 aangewys. Die toekenning deur Landbouskrywers SA se !Xhariep-streek erken sy leierskap in die uitbreiding van die familieboerdery, die bestuur van risiko’s en die ontwikkeling van die gemeenskap wat deel van die onderneming vorm. Die wenners is tydens ‘n geleentheid by Durbanville Hills aangekondig.

Vir die Beukesfamilie strek die verhaal van Dennegeur egter veel verder terug as Stephan se oorname van die leisels in 2019. Sy oupa Sas het reeds in die 1960’s die grondslag gelê vir ‘n onderneming waarin die welstand van werknemers en hul gesinne ‘n belangrike plek inneem. Sy pa, Josias, het dié benadering voortgesit, en vandag is dit deel van die nalatenskap waarop Stephan en sy suster, Carina van Wyk, voortbou.

Groei deur beplanning en investering

Sedert Stephan in 2019 hoofuitvoerende beampte geword het, het Dennegeur aansienlik uitgebrei deur onder meer die verkryging van Vredenhof en Applethwaite. Die onderneming beskik volgens die jongste inligting oor 455,65 ha vrugteboorde en het in bergingsgeriewe, verpakkingskapasiteit, energiesekerheid en bestuursontwikkeling belê.

Die groei word ook in die pakhuis se deurset weerspieël. Volgens syfers wat ná die toekenningsgeleentheid bekend gemaak is, het die aantal vrugtebakke wat verpak is van 33 111 in 2019 tot 55 050 in 2025 gestyg. Die onderneming se verpakkingsverslag vir 2026 toon dat 58% van die vrugte as Klas 1-uitvoervrugte geklassifiseer is.

Dennegeur se produksie is hoofsaaklik op appels toegespits, met pere wat ook deel van die onderneming vorm. Die klimaat van die Elginvallei, met sy koel winters, gematigde somers en invloed van die seelug, bied gunstige omstandighede vir appelverbouing. Maar sukses in vrugteproduksie word nie bloot deur gunstige klimaatstoestande bepaal nie. Doeltreffende besproeiing, gesonde grond en noukeurige bestuur is ewe belangrik.

Grondgesondheid bly ‘n prioriteit

Toe Grond tot Mond Dennegeur in 2024 besoek het, het Johannes Fourie, destyds die plaasbestuurder, vertel hoe die onderneming probeer om met die natuur saam te boer. Hy het verduidelik dat snoeihout en ander plantmateriaal opgekap en as organiese materiaal in die boorde teruggeplaas word om grondgesondheid te verbeter en die natuurlike biologiese prosesse in die grond te ondersteun.

Fourie het destyds ook vertel hoe grondontledings gebruik word om die toediening van voedingstowwe volgens die behoeftes van verskillende dele van die boorde aan te pas, eerder as om kunsmis oral teen dieselfde dosis toe te dien.

Dié benadering tot hulpbronbestuur word steeds weerspieël in die onderneming se omgewingspraktyke wat in die 2026-toekenningsaansoek uitgelig is. Dit sluit die gebruik van grondbedekking, herwinning van biomassa, die verwydering van indringerplante en die rehabilitasie van natuurlike gebiede met inheemse plantspesies in. Besproeiingsbeplanning en energiemonitering vorm eweneens deel van die onderneming se risikobestuur.

Ná die vloede weer op die been

Stephan se vermoë om onder druk besluite te neem, is veral tydens die verwoestende vloede van 2023 op die proef gestel. Die onderneming het daarin geslaag om sy vermoë om gewasbeskermingsmiddels toe te dien binne 72 uur te herstel, terwyl besproeiing binne twee maande oor die hele boordarea herstel is.

Die spoed waarmee die onderneming ná die ramp herstel het, is een van die redes waarom sy bestuursbenadering tydens die beoordeling uitgesonder is. Benewens noodbeplanning steun Dennegeur op markdiversifikasie, gereelde finansiële ontledings en die deurlopende monitering van hulpbronne om die onderneming se weerbaarheid te versterk.

‘n Stigting wat saam met die boerdery gegroei het

‘n Besonderse deel van Dennegeur se verhaal is die maatskaplike ontwikkelingswerk wat oor drie geslagte uitgebou is. Tydens Grond tot Mond se besoek in 2024 het Carina van Wyk, hoofuitvoerende beampte van die Dennegeur-stigting, vertel hoe haar oupa Sas reeds in die 1960’s grond vir ‘n skool en kerk beskikbaar gestel het. Haar ma, Antoinette, het later ‘n dagsorgsentrum op die plaas begin sodat vroue met jong kinders ook in die pakhuis kon werk.

Wat as ‘n eenvoudige dagsorgfasiliteit begin het, het mettertyd tot ‘n veel omvattender ontwikkelingsprogram gegroei. Carina het in 2009 by die bestuur van die onderneming se maatskaplike ontwikkeling en menseverhoudinge betrokke geraak. In 2019 is die Dennegeur-stigting as ‘n organisasie sonder winsoogmerk gevestig.

Tydens die 2024-onderhoud het sy verduidelik hoe die aanvanklike dagsorgsentrum tot ‘n vroeëkinderontwikkelingsfasiliteit uitgebrei is. Die fasiliteit is naby die pakhuis ingerig sodat moeders hul babas gedurende die werksdag kon borsvoed. Die stigting het destyds ook ‘n nasorgprogram vir leerders van graad R tot graad 12 aangebied, waar kinders maaltye, hulp met huiswerk, ekstra onderrig en geleenthede vir sport en musiek ontvang het. Daarbenewens was daar ondersteuningsdienste vir afgetredenes en toegang tot terapeutiese en geestesgesondheidsdienste.

Volgens die jongste toekenningsinligting ondersteun die stigting steeds programme vir kindersorg, onderwys, gesondheid, berading en afgetredenes. Die omvang van die onderneming se verantwoordelikheid teenoor sy werknemers word verder deur sy indiensnemingsyfers beklemtoon. Gedurende die piekseisoen bied Dennegeur werk aan 1 067 mense.

Nog twee wenners vereer

Twee ander landbou-ondernemings is ook tydens die !Xhariep-toekennings vir hul toetrede tot kommersiële boerdery vereer. Angelo Marman van Abitz Farming is as die Wes-Kaap se Nuwe Toetreder tot Kommersiële Boerdery van die Jaar aangewys. Sy boerderyloopbaan het met vyf tilapiavisse in sy agterplaas op Malmesbury begin. Die inkomste uit visboerdery het hom gehelp om groenteproduksie te finansier, waarna hy sy onderneming geleidelik uitgebrei het.

Vandag bedryf hy ‘n organiese groenteboerdery van ongeveer 8 ha naby Chatsworth, waar groenteproduksie met varke en pluimvee in ‘n kringloopstelsel geïntegreer word. Die onderneming bied werk aan sowat 13 mense en skep ook opleidingsgeleenthede vir ander produsente.

In die Oos-Kaap is Ikamva Lethu Farms in die Sondagsriviervallei as Nuwe Toetreder tot Kommersiële Boerdery van die Jaar aangewys. Die sitrusonderneming is deur 17 produsente en die Sundays River Citrus Company (SRCC) gevestig om nuwe ekonomiese geleenthede vir plaaswerkers te skep. Deur hul hulpbronne saam te voeg, kon die produsente ‘n nuwe kommersiële onderneming ontwikkel sonder om die lewensvatbaarheid van hul bestaande plase deur onderverdeling in gevaar te stel.

Meer as sukses binne die plaashek

Marike Brits, voorsitter van Landbouskrywers SA se !Xhariep-streek, sê vanjaar se wenners wys hoe die waarde van goeie landboupraktyke veel verder as die plaashek strek. Sy het Stephan se gedissiplineerde leierskap, die herstel ná die vloedramp en die behoud van werksgeleenthede uitgesonder.

Marman se groei van ‘n klein agterplaasprojek tot ‘n kommersiële onderneming en Ikamva Lethu se samewerkingsmodel wys volgens haar hoe landbou ook nuwe geleenthede vir ander kan ontsluit.

Vir Dennegeur is die toekenning erkenning aan ‘n familieonderneming wat oor drie geslagte gegroei het, met vrugteproduksie as ekonomiese grondslag en die ontwikkeling van mense as ‘n gevestigde deel van sy bedrywighede.

Exit mobile version