All posts filed under: Farm Kitchen

Rooibok-Filet-Flambé

Richard Kaufmann, van die Red Sands Country Lodge, bederf ons met Rooibok-filet-flambé. Die vleis word in skyfies gerangskik bo-op ‘n roomsous-reduksie. Die vleis is doeksag, vars, en heerlik. Die geur van impala word perfek gekomplementeer deur die brandewyn en die aromatiese peperkorrels in die ryk sous.

Boerek (Turkse spinasiepastei)

‘n Goeie soort wakkerword is as mens besef dat wat jy altyd gedink het ‘n ouderdomsverwante agteruitgang van jou smaaksintuig is, niks anders is as dat kos al minder na iets proe nie. Een hap van die doodeenvoudige spinasiepastei is genoeg – die kors is krakerig vars en die bietjie feta net so lekker. Maar dit is die spinasie self wat my laat regopsit. Dit is asof ek skielik met ‘n mondvol plaas sit.

Kaiingbeskuit uit ‘n ander tyd

Natasha bak ‘n tradisionele kaiingboerbeskuit. Sy maak haar eie gis van aartappels wat in water geweek word. Dan maak sy ‘n suurdeeg met weinig suiker en sout, en deurspek met kaiingstukkies. Hierdie gisproses dateer uit die ou dae en die resep kom van Neels se ouma Betta, by wie Natasha leer bak het. Skaapstertjies word fyn gemaal en gebraai voor dit met die deeg gemeng word. Die beskuit proe baie beslis na skaapvet.