Woorde: Danie Keet | Fotografie: Mia Truter
Diversifikasie is vir Dolfie Walters van die plaas Rustfontein buite Malmesbury die sleutel tot volhoubare boerdery. Wat begin het as ’n tradisionele graanonderneming, het oor die jare uitgebrei na ’n gevestigde komposaanleg, terwyl die familie ook met beeste, wingerd en ander ondernemings saamwerk.
’n Plaas met baie fasette
Dolfie het in 1997 op Rustfontein begin boer nadat hy op Bakenfontein grootgeword het. “Dis hoofsaaklik ’n saaiplaas met sowat honderd Angus-beeste wat op die vleie wei,” vertel hy. “Ons moes egter van die skape ontslae raak weens die vele diefstalle. Net verlede week is ’n trop van sewentig skape in een aand gesteel, maar danksy die plaaslike gemeenskap is hulle vinnig opgespoor.”
Intussen het Hendre sy pa oortuig om weer kleinvee aan te hou en ’n Dormer-kudde begin. Tannie Erika Hanekom, ’n bekende Dormer-teler, het hom baie geleer oor raseienskappe en hantering.
Koring se stryd, kanola se kans
Dolfie lag dat hy nou moet baklei vir ’n plek op die stropers omdat sy seuns hom vooruit is. Op die 800 ha plaas word koring, kanola en hawer afwisselend geplant. “Verlede jaar was moeilik – swak pryse, laer opbrengste en minder gehalte. Die koring se proteïenvlakke was laag weens te min sonlig en te veel reën,” vertel hy. “Die koringprys bly ons groot uitdaging, en daarom móét ons diversifiseer.”
Vir hom lyk kanola tans belowender. Die prys, gemiddeld R8 800 per ton teenoor R5 500 vir koring, maak dit meer lewensvatbaar, al bly insetkoste dieselfde. Hulle oes gewoonlik tussen 2 en 2,5 ton per hektaar, soms tot 2,8 ton. “Kanola doen goed hier, buiten peste soos slakke, muise en tarentale wat groot skade kan aanrig,” sê hy. “Dis waarskynlik omdat minder kraaie oor is – hulle het vroeër die tarentale se eiers geëet. Dit wys hoe maklik die natuurlike balans versteur kan word.”
Van afval tot goud
As deel van sy diversifikasiedoelwitte het Dolfie in 2005 ’n komposteringsaanleg gevestig wat vandag ’n groot deel van sy besigheid uitmaak. “Ons gebruik alle natuurlike afvalstowwe vir die kompos omdat ek glo dit is goed om die produkte ’n natuurlike siklus te laat voltooi; byvoorbeeld, strooi moet eers deur ’n dier se pens gaan voor ons dit gebruik.
“Ons het begin met Swartland Wynkelders se druiwestingels en -doppe en het toe deur ’n vriend toegang gekry tot abattoir-afval van Roelcor op Malmesbury. Baie van sulke ondernemings sukkel deesdae om van afval ontslae te raak omdat die groot stortingsterreine vol is.
“Die bedryf het baie uitdagings, en enigiets wat in Malmesbury sleg ruik, word aan ons komposaanleg toegeskryf – maar dis natuurlik nie waar nie. Ek sê altyd: ek maak nie stink kompos nie, ek laat ‘stink’ lekker ruik,” spot Dolfie.
Die roumateriale wat hy gebruik, is enige organiese afval wat hy so goedkoop as moontlik en so na aan sy aanleg as moontlik in die hande kan kry. Verder as 100 km raak vervoer duur, en as ’n mens vir die produk moet betaal, is dit nog duurder. Die roumateriaal kom uit die omgewing, maar ook so ver as Worcester, Ceres, Stellenbosch, Paarl en Moorreesburg.
“Dit is ’n uitdagende produk om mee te werk, en jy moet dit dadelik meng met ou kompos en toemaak, omdat dit voëls en wilde diere lok. Daar moet ’n gunstige balans tussen koolstof en stikstof in die kompos verkry word – ongeveer 25 dele koolstof vir elke stikstofdeel.”
Die onsigbare helpers
Volgens Pierre Goosen van Living Soil, wat Dolfie met die biologiese prosesse van kompostering bystaan, weet min mense dat daar lewende én dooie kompos bestaan. Sommiges ken ook nie die verskil tussen kompos en kunsmis nie.
“Die biologiese komponent van kompos is die mikro-organismes wat reeds op die oppervlak van organiese materiaal sit voordat die komposmaakproses begin. Dit is dus ’n kernbestanddeel van kompos en waarskynlik die belangrikste een, al kan ons dit nie sien nie.
“By Living Soil help ons boere om minder afhanklik te wees van kunsmatige insette en eerder te steun op biologie. Ons bestuur die biologie én die aanvanklike voedingstowwe vir boere met die doel dat die organismes self al die nodige voedingstowwe voorsien, en dat die boer minder hoef te doen. Kompos is ’n mengsel wat grotendeels bestaan uit afgebreekte organiese materiaal en biologiese komponente.”
“Daar is ’n voedselketting onder hierdie klein organismes, en aërobiese (voordelige) organismes floreer waar suurstof teenwoordig is. Anaërobiese (nadelige) organismes oorleef weer waar daar min of geen suurstof is nie. Organiese materiaal word afgebreek deur bakterieë en fungi. Fungi word geëet deur onder andere nematodes (klein wurmpies), terwyl bakterieë geëet word deur protozoa (eensellige organismes soos amoebes) en ook nematodes. Nematodes en protozoa word weer geëet deur groter organismes, wat op hulle beurt deur voëls en molle gevreet word.
“Kompostering is die proses waardeur hierdie organismes organiese materiaal afbreek, mekaar opeet en voortplant. Die hitte wat uit ’n komposhoop straal, is die resultaat van die spoed waarteen die organismes vermeerder. Die stelsel is só ontwerp dat geen groep te groot kan word nie,” verduidelik hy die ingewikkelde biologiese proses.
Nog ’n fassinerende aspek is dat die aërobiese organismes ’n beskermende lagie rondom hulself vorm wanneer die komposhoop te warm raak – tot soveel as 65 °C – waardeur hulle oorleef. Die nadelige organismes beskik nie oor hierdie vermoë nie en word uitgeskakel.
Lewende kompos is kompos waar ’n minimum getal voordelige organismegroepe, met goeie diversiteit, teenwoordig is. Dooie kompos, daarenteen, is die inhoud van ’n sak kompos waar die insetmateriale beperk was en waar slegs bakterieë voorkom. Sulke kompossakke het meestal geen ventilasiegate nie, wat beteken die organismes is dood of slegs in spoorvorm.
“Die voordele van lewende grond is grootliks finansieel: dit lei tot beter oeste, minder of geen onkruid, minder arbeid en ’n kleiner behoefte aan kunsmis of gifstowwe,” verduidelik hy die produk wat deur Dolfie voorsien word.
Dolfie vertel dat groenafval nou op groot skaal uit Kaapstad na sy terrein aangery word omdat dit nie meer op ander stortingsterreine gestort kan word nie. Hy ontvang dit dan en versnipper dit tot werkbare grootte. “Ek kry dit goedkoper as wat ek my eie koringstrooi kan gebruik.
Masjiene, wurms en koolstofkrediete
“Dan word dit in ’n tipe broeikas geplaas – lang, statiese hope waar die afbrekingsproses vir omtrent ’n maand duur. Daarna oes ons dit uit die broeikaste en pak dit in windrye met ’n komposmasjien wat dit omdolwe.
Hierdie masjien is deur ons self ontwerp en gebou met die hulp van Agrimark op Malmesbury. Dit beweeg teen sowat 300 m/uur wydsbeen oor die rye kompos en word aangedryf deur ’n New Holland T7040-trekker met ’n creeper-ratkas. Vir die eerste dag daarna is daar ’n ligte reukie in die lug, maar as dit dan later genoeg suurstof kry en die mikrobes aan die werk spring, verdwyn die reuk.”
“Ek begin nou ook met vermikompos eksperimenteer. Dit is ’n soort erdwurm, ook bekend as red wigglers, maar wat nie onder die grond bly nie en net in organiese materiaal leef. Dit sal die gehalte van die kompos verder verbeter, maar as jy dit uit ’n biologiese oogpunt wil verbeter, moet jy meer moeite doen,” verduidelik hy.
Hy vertel sy seun Aldo, wat baie meer geduld voor ’n rekenaar het, is besig met onderhandelinge met OAE Greens om koolstofkrediete met die kompos te verdien. Besighede koop die krediete om te kompenseer vir hul koolstofbelasting. Dit is egter ’n komplekse proses waar bewys gelewer moet word van jare se produksie en afvalinnames. Een komponent hiervan is dat hulle betrokke moet wees by gemeenskapsprojekte – iets waarmee DNA Kompos al reeds besig is.
Die meeste van die DNA-kompos gaan terug in die landbousektor, waar produsente dit gebruik om vogbeheer op bankies tussen bome en wingerdstokke te verbeter. Hulle besef al hoe meer die waarde van organiese prosesse. Hy verkoop ook bakkievragte aan mense in die omgewing.
Hoenders van formaat
Terwyl sy pa en ouboet Loedolf met komposmaak en saaiery besig is, is Hendré ’n ware entrepreneur, besig om in ’n skouhoenderteler van formaat te ontwikkel.
“Ek het eers ’n kudde Boerbokke gehad, maar dit het ek stuk-stuk verkoop om geld te kry om die hoenders te kon koop. Nou is hier al 16 verskillende rasse, van verskillende groottes en kleure, hane en henne, en ek skou hulle gereeld. Onder die rasse is Orpington, die hoofras met sewe kleurvariasies, Sussex, Lakenvelder, Hamburg, Ameraucana, Wyandotte, Indian Game, Modern Game, Sebright, Leghorn, Pekin, Barbu d’Uccle en Serama,” vertel hy.
Hy het reeds in die laerskool met gewone plaashoenders begin – die hoenders wat mens gewoonlik op plase sien – soos Loman Brown en Leghorn. “In die hoërskool het ek my eerste hokke begin bou – Pa moes maar help al weet hy niks van hoenders af nie – en in 2019 die eerste skourasse ingekry, alhoewel ek die skoue net bygewoon en nie self geskou het nie. Vandat ek in graad 9 was, het ek self begin skou en sommer gou pryse begin wen. Vanjaar by die Wes-Kaapse pluimveeskou het ek 19 eerste plekke, 9 tweede plekke en 3 derde plekke gekry, met ’n bonus van 3 raskampioene en 4 reserwe-raskampioene.”
Hendré – ja, sy bynaam op skool was “Chicken” – vertel dat hy verskillende rasse teel en verduidelik dat elke ras sy eie standaarde het waarvolgens dit beoordeel word, van kleur en grootte tot houding en voorkoms.
“Die hoogste toekenning wat skouhoenders kan behaal, is die raskampioen. By die SA-kampioenskappe in Bloemfontein, die grootste skou in die land, het ek 15 hoenders ingeskryf en 4 eerste plekke, 3 tweede plekke en 4 derde plekke behaal, asook 2 raskampioene – ’n prestasie waarop ek baie trots is,” vertel die jong boer wat ook al die titel van Jongboertjie van die Jaar verower het.
“Dis nou teelseisoen, en Augustus en September is die hoogtepunt van die broeiseisoen. Ek kies dan die regte hane om by die henne te kom, elke ras in sy eie hok en die teelgroepe bymekaar. Dit hou aan tot vroeg in die nuwe jaar. Ek haal egter die eiers uit en broei dit in broeikaste uit, binne 21 dae, om soveel as moontlik produksie van elke hen te kry. Die kuikens word dan onder rooi ligte grootgemaak, en van die middel van volgende jaar begin ek weer hoenders verkoop. Dit doen ons by skoue of aanlyn-veilings. Hoe meer pryse ’n mens wen, hoe groter is die aanvraag na jou hoenders, en hoe meer geld kan jy maak. Vir ’n gemiddelde hoender kan ’n mens tussen R100 en R400 kry; goeie kwaliteit hoenders verkoop uit die hand tussen R500 en R1 000, maar vir top skouhoenders op veilings kan pryse tot R10 000 en meer styg.
“Die hoenders word voor die skoue goed versorg: hulle word met seep en water gewas, die naels en bekke word geknip, en hulle word apart gehou omdat hane die henne raaktrap. My ma se haardroër word soms gebruik om hulle mooi droog te maak,” vertel hy met ’n glimlag.
NAME: Rustfontein | OWNER: Dolfie Walters | AREA: Malmesbury, Wes-Kaap

