Groot, saggeaard, nuuskierig en besonder lief vir water. Op Rietvlei, die laer gedeelte van Babylonstoren se plaas, is die landgoed se waterbuffels ’n besondere deel van die boerdery. Hul melk word op Babylonstoren verder verwerk tot spesialisprodukte soos mozzarella en gelato, terwyl die kudde nou ook ’n interessante agritoerismehoek tot die plaas se produksieverhaal toevoeg.

’n Nuwe waterbuffeltoer op Rietvlei gee besoekers die kans om die diere, kalwers en melkery van naderby te leer ken. Die storie begin egter by die boerdery self: die waterbuffels se besondere temperament, die sorg waarmee die kalwers grootgemaak word en die ryk melk wat uiteindelik in waardetoegevoegde produkte verander.
Grond tot Mond het Rietvlei se waterbuffels reeds in 2020 besoek. Christo Botha het destyds hul geaardheid so beskryf: “Hulle’s verskriklik saggeaard en baie nuuskierig.” Sy vrou, Leonie, was toe reeds nou betrokke by die grootmaak van die kalwers. Vandag versorg sy steeds die jong waterbuffels met die hand, terwyl Kobus Lambrechts die boerdery op Rietvlei bestuur.
Saggeaarde reuse
’n Waterbuffel se voorkoms kan maklik intimiderend wees, maar hul temperament verskil hemelsbreed van dié van ’n Afrika-buffel. Hulle is rustige, nuuskierige diere wat goed op menslike kontak reageer, en daardie band begin reeds wanneer hulle klein is. Leonie voer die kalwers met die bottel en leer elkeen se persoonlikheid ken. Sommige vat maklik die bottel, ander verg ’n bietjie meer geduld en aanmoediging. Dié daaglikse kontak help die kalwers om gemaklik rondom mense te raak en later makliker by die roetine van die melkery aan te pas. Die kalwers kry ook name, en die mense wat daagliks met hulle werk, leer gou elke dier se eie geaardheid ken.
En dan is daar natuurlik hul liefde vir water. “Vandaar die naam, hulle is mal oor water,” het Christo destyds vertel. Water en modder help waterbuffels om op warm dae af te koel, en ’n lekker plas of dam is vir hulle ’n uitnodiging om in te gaan lê en rond te rol.

Van waterbuffelmelk tot mozzarella
Die waterbuffels se melk is ’n belangrike deel van die Rietvlei-storie. Dit is ’n ryk, spierwit melk wat besonder goed werk vir produkte soos mozzarella. Die melk van Rietvlei word in Babylonstoren se melkkamer verder verwerk, waar dit onder meer in Italiaanse styl waterbuffelmozzarella en romerige gelato omskep word. Hier kry ’n mens ’n mooi voorbeeld van waardetoevoeging op ’n landbouproduk: melk beweeg van die dier en melkstal na ’n spesialisproduk met ’n heel ander waarde en mark.
Alta Eybers, die kaasmaker wat met die waterbuffelmelk werk, het haar kennis van mozzarella oor jare opgebou. Toe waterbuffels in 2018 deel van die boerdery geword het, moes sy ook leer hoe dié melk verskil en hoe dit tydens die kaasmaakproses reageer. Sy het daarna verdere opleiding in Italië ontvang, onder meer by kaasmakers in Roncà en later in Salerno, in ’n streek waar mozzarellamaak al geslagte lank deel van die plaaslike koskultuur is.

Mozzarella vra veral geduld en goeie tydsberekening. Die wrongel word voorberei en uiteindelik gerek totdat die kaas sy kenmerkende sagte, gladde tekstuur ontwikkel. Daarna word dit gevorm en in pekelwater geplaas. Vir die verbruiker is dit maklik om net die blink wit bol mozzarella op die bord te sien, maar op die plaas begin daardie produk by die waterbuffel, haar voer en versorging, die melkery en die mense wat daagliks met die diere werk.
Klassieke musiek met melktyd
Selfs die melkstal het sy eie karakter. Klassieke musiek speel vir die waterbuffels terwyl die daaglikse werk rondom hulle aangaan. Kobus het die idee gekry nadat hy op ’n Italiaanse plaas afgekom het waar musiek gebruik word om waterbuffels rustig en tevrede te hou. Die sagte musiek pas goed by die rustige temperament van die diere en skep ’n interessante kontras met die bedrywighede van ’n werkende melkery. Dit is ook ’n goeie voorbeeld van hoeveel aandag aan dierehantering gegee word, want waterbuffels reageer goed op ’n kalm roetine, menslike kontak en ’n omgewing waarin hulle gemaklik voel.
Die plaas word deel van die ervaring
Die nuwe toer maak hierdie deel van die boerdery nou meer toeganklik vir die publiek. Besoekers sien ’n melkdemonstrasie, kan ’n kalfie met ’n bottel voer en, waar moontlik, help om ’n waterbuffel te versorg. Hulle kry ook die geleentheid om produkte van waterbuffelmelk te proe. Die ervaring betrek doelbewus al vyf sintuie, met die geluide en geure van ’n werkende plaas, die grootte en tekstuur van die diere, die smaak van die suiwelprodukte en selfs ’n klei-aktiwiteit waar besoekers hul hande kan vuilmaak.
Vir kinders is dit ’n kans om ’n plaasdier van naderby te leer ken, terwyl volwassenes ’n duideliker prentjie kry van die pad wat voedsel loop voordat dit op die tafel beland. Die boerdery self bly dus die kern van die ervaring.
Waterbuffeltoer
Die waterbuffeltoer word elke Dinsdag en Donderdag van 13:30 tot 16:00 aangebied. Besoekers ontmoet tussen 13:20 en 13:30 by Babylonstoren se kaartjiekantoor vir die kort rit na Rietvlei.
Die koste is R600 per volwassene en R500 per kind tussen vier en 18 jaar. Kinders jonger as vier jaar neem gratis deel. ’n Deposito van R250 word vereis om ’n bespreking te bevestig, en groepe word tot 10 gaste beperk.
Bespreek hier: https://babylonstoren.com/water-buffalo-tour

