Female Farmers
comment 1

Die vonkel van volharding: Elize-Gerda Beukes se liefde vir die land

Woorde: Danie Keet | Fotografie: Mia Truter

’n Vonkel in die oog beteken gewoonlik opgewondenheid en afwagting op iets goeds wat kan gebeur. Dit vertel ook soms die verhaal van ondeundheid en ’n ligtelike uitkyk op die lewe. Maar as jy die vonkel in die oë van Elize-Gerda Beukes sien, vertel dit ’n heel ander verhaal – een van deursettingsvermoë, passie, doelgerigtheid en ’n diep liefde vir die boerdery.

Daardie toewyding het onlangs erkenning gekry toe sy aangewys is as die Noord-Kaap se Nuwe Toetreder tot Kommersiële Boerdery tydens die 2025-toekenningsaand van Landbouskrywers Suid-Afrika (AWSA) se !Xhariep-streek op 3 Oktober.

Veral haar werk met vee en die wingerde wat haar oupa al in die 1930’s op Skaapeiland geplant het, dra die storie van generasies se harde werk en liefde vir die grond voort.

Elize-Gerda Beukes, ’n nuwe-generasie rosyntjieboer van Skaapeiland naby Upington.

“In daardie jare was die boerdery vir ons mense heelwat anders as vandag en ons het grond maar moeilik bekom,” vertel pa Gert op die stoep van hul huis op hul plaas neffens die Oranjerivier. Dit is geleë op een van die talle eilande in die Groot Rivier en is ‘n groen lafenis in die dorre Groen Kalahari.

“Pa Gert se pa, Oupa Hennie, het die plaas in die 1930’s ingevolge daardie tyd se huurstelsel bekom, maar het ‘n heel ander boerdery daar bedryf as waarmee ons vandag werk. Daar was nie brûe oor die rivier nie, net een hangbrug van Skaapeiland na Vyeboseiland. Van dat ek my verstand gekry het, het hulle met diere geboer en eers later met wingerd begin,” vertel Gert. Daarna was dit meestal katoen, lusern en mielies en nog later potprodukte soos ertjies en lensies.

Gert vertel dat die wingerd eers in die 1980`s bygekom en oorgeneem het. “Nou boer ons op dieselfde 8 ha grond, maar hoofsaaklik met rosyntjies, en ‘n bietjie vee,” kom Elize by. “Die kultivars is veral die Merbein en Sultanas, maar weens die veranderinge in die klimaat glo ons die Merbein is die beste vir ons plaas.”

Elize-Gerda (heel regs) saam met ‘n paar van haar werkers wat druiwe droog. Langs haar, van links, is Doreen, Palesa en Mpho

‘n Passie wat Groei

“My eintlike voortliefde is diere en ek sou graag dit wil uitbrei. Ons het ‘n paar landrasvarke, boerbokke en witkop-dorpers, maar dis maar min. Ons het net nie nou genoeg grond hiervoor nie en kort seker ongeveer 4 000 ha om ‘n suksesvolle veeboerdery te bedryf, maar ek is vol hoop vir die toekoms en gaan daarvoor werk.

“Nadat ek in 2016 aan die Hoërskool Keimoes gematrikuleer het, het ek plaas toe gekom omdat ek nog altyd wou boer. Ek het gou besef dat ek nie genoeg kennis het om dit suksesvol te kan doen nie, ongeag die feit dat ek baie by my pa en ma geleer het. Die KAL Academy het na ‘n soektog oor my pad gekom en ek het by hulle aansoek gedoen om verdere opleiding, sodat ek my ten beste kon bekwaam om die plaas vorentoe te vat,” vertel sy entoesiasties.

Elize-Gerda Beukes by die borde wat hulle gebruik om druiwe te droog.

Die Waarde van Kennis

Elize-Gerda het vir die Akademie se ontwikkelingsprogram ingeskryf en het eers die NQF2-kursus vir gemengde boerdery en daarna die NQF3-kursus vir diereproduksie afgehandel – met die toekenning as toppresteerder in haar groep. Hierdie kursusse is spesifiek ontwikkel om nuwe generasieprodusente met teoretiese, praktiese en bestuurskennis toe te rus sodat hulle ‘n kommersieel-suksesvolle onderneming kan bedryf.

“Klimaatsverandering is ‘n werklikheid en ons voel dit hier in ons streek. Ons moet aanpas by die veranderende omstandighede. In die geval van die veeboerdery het die kursusse baie deure vir my oopgemaak en ek kan nou vir my ma en pa vertel van ramme, hoe lyk ‘n stoetram en hoe lank loop ‘n ooi voor sy lam. Ek wil daardie kennis in die toekoms gebruik om my droom te bewaarheid deur my eie veeplaas te kan bedryf. Dis nog nie nou nie, want ons grond is te min, maar dis iets waaraan ek hard werk.“

Elize-Gerda (tweede van regs) saam met, van links, haar tante Katrina, pa Gert en ma, ook Elize, op hul rosyntjieplaas aan die oewer van die Oranjerivier.

Gert glo ook in die belangrikheid van verdere opleiding en selfs in sy tyd as jong boer en plaaswerker het hy kursusse by die LNR en die Upingtonse landboukollege gevolg en ondersteun sy dogter se pogings. “Die jongspan is mos nou slimmer as ons. Ek het vir 19 jaar op ‘n plaas gewerk en daar kennis opgedoen – onder meer van dissipline en streng reëls. Die grootste lesse wat ek oor die landbou geleer het, is dat jy ‘n belangstelling moet hê en moet aandag gee.”

‘n Hart vir die Grond

Elize-Gerda beaam dit: “En jy moet ‘n passie vir die landbouwêreld hê en dit is iets wat ek onomwonde kan sê – my hart en siel lê in hierdie grond, die wingerde, die rosyntjies wat ons produseer en die vee waarna ons omsien. Ek besef ook dat ek fyner kennis nodig het om na ‘n groter boerdery te kan kyk, maar dis hoekom ek die kursusse gedoen het. En ek gaan nog doen as ek enigsins kan.”

Hulle het ook ‘n paar varkies op die plaas langs die Oranjerivier waar Elize-Gerda Beukes die leiding neem.

Ma Elize het ook baie by die landbou geleer. “Ek weet die aarde is deur die Here vir ons agtergelaat om dit te bewerk. As die landbousektor in ons land gaan skink, gaan die hele land in armoede verval. Ons moet aanhou om die voedselketting uit te brei sodat almal in die land kan eet. Ons moet die grond wat aan ons gegee is, bewerk en benut en verbeter. As ons ophou om kos te produseer, gaan ons ten gronde.”

Filed under: Female Farmers

by

Danie is an award-winning journalist with three decades of news writing under his belt. He has a special love for local news, having served as the editor of a community newspaper for seven years. He is has also written for most of the daily newspapers and a variety of online news platforms. People and what make them tick intrigues him, but he is also fond of wine, travel, environmental, investigative and a host of other stories. “Being in the outdoors, with people who has a love for nature in their souls, and to put those feelings and experiences into words, is the ultimate challenge to me as journalist.”

1 Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *