Woorde: Griet du Plessis | Fotografie: Mia Truter
Daar is baie redes waarom Jan Grey as AWSA se 2025 Boer van die Jaar aangewys is, maar dit kom uiteindelik neer op visie, presisie, sterk mensebestuur en ’n diep respek vir die grond.

Janvos Landgoed op die plaas Brakfontein, Mpumalanga, funksioneer as ’n geïntegreerde stelsel waar melkkoeie op koel sand rus, waar die Boran-stoet met hul kenmerkende gehardheid en rustige aard die ruggraat van ’n langtermyn-genetiese strategie vorm, en waar saaigewasse en appels help om risiko te verskans.

Wanneer ’n mens met Jan praat, besef jy vinnig hoe hy boerdery sien: elke deel beïnvloed die ander. Melkproduksie, stoetgenetika, voer, arbeid en kultuur werk in ’n fyn balans saam.

GELUKKIGE KOEIE, HOË PRODUKSIE
Die beginsel is eenvoudig: ’n gelukkige koei produseer meer melk. Hierdie beginsel loop deur sy hele stelsel, van die ‘bedding’ tot die ventilasie. Janvos se 50-punt DeLaval Rapid Exit melkstal hou die melkproses vinnig, rustig en doeltreffend. Die koeibehuising en wagareas is oorhoofs bedek, wat in warm maande ’n temperatuurverskil van tot 11° kan bring en die koeie koel en gemaklik te hou.

Sand as belegging
In die behuising waar die lakterende koeie bly, lê hulle op fyn gewaste sand. Jan verduidelik:
“Dis vir ’n koei die gemaklikste ding om op te lê. Dan het ons die DeLaval Cow Comfort-stelsel ingesit, waar hulle hul koppe kan oplig terwyl hulle vreet – dit help met vertering en bottervet. Dis snaaks hoe so ’n klein dingetjie so ’n groot verskil maak. Ons het ook buigbare stalle, oftewel cubicles, wat meegee as ’n koei teen dit gaan lê, met rubberagtige pype sodat sy nie seerkry nie. Die DeLaval koei-borsels, Swinging Cow brushes, is ook baie gewild onder die koeie en bevorder hulle gemak. So lê die koeie gemaklik en herkou, soos op die strand.
Die sand moet aangevul word – koeie gebruik 9 kg per dag deur dit uit te skop en te mors – dus hervul en hark ons dit gelyk. Ons gebruik gewaste sand sonder klei, wat so skoon soos seesand is. Dit kompakteer nooit nie, bly koel en hou hitte-stres aansienlik laer.”

Voeding: van kalf tot hoë produksie
Vir Jan begin alles by die kalfies.
“Voeding is bitter belangrik. Dit begin met jou kalfies in die hokke en hoe hulle groei. Mens wil nie hê kalfies moet siektes opdoen nie. Ons pas daai kalfies op soos goud van die dag wat hulle gebore word.”
Hy beklemtoon hoe belangrik dit is om vanaf dag een streng kolostrum-bestuur te volg, skoon hokke te handhaaf en vars water beskikbaar te hou.
Wanneer dit by die melkkoei se voeding kom, bly sy benadering dieselfde: presisie.
“Die koei moet kry wat vooraf uitgewerk is vir hulle,” sê hy. Om dit reg te kry, steun hy op ’n kundige span wat bestaan uit Chris Fourie van Dairy Management Consultants (DMC), suiwelvoedingkundige Schalk Bothma van RumiTrition, herkouervoedingkundige Kenneth Botha van RumiTrition en kuddeveearts dr Danie Nolte. Hulle werk saam om probleme te voorkom en om die rantsoen optimaal ingestel te hou.

Die totale gemengde rantsoen bestaan hoofsaaklik uit mielie-kuilvoer, mieliemeel, hoë proteïen-konsentraat, melassestroop, brouersgraan en ruvoer, waarvan baie op die plaas self geproduseer word. Die saaiery beslaan 3 200 ha, met blokke GMO en non-GMO-mielies; sojabone, oulandsgras, tef en soms word hawer ook aangeplant. Dit gee aan die boerdery uitstekende beheer oor voerkoste en gehalte.
CowManager en gesekste semen
CowManager monitor elke koei se eetgedrag, beweging, herkou-aktiwiteit, temperatuur, rustye en hitte. Die vroeë waarskuwings maak dit moontlik om mastitis en metaboliese probleme betyds aan te spreek voordat dit ernstig raak.
“CowManager werk so dat jy kan sien watter koeie is siek, hoe lank vreet die koeie, watter tyd spandeer hulle om te herkou. Jy kry ’n lys van siek koeie, en dan natuurlik koeie wat op hitte kom, en ons probeer dan op die piek van hitte, kunsmatige inseminasie doen wat ons konsepsie syfer geweldig verhoog het,” verduidelik Jan. CowManager verbeter ook die gebruik van gesekste semen deur akkurate hittebepaling.
“En dan het gesekste semen ’n geweldige bydrae gelewer, want dit gaan oor die kalfgemak van die koei. Daar word hoofsaaklik verskalfies gebore wat kleiner is, en dus herstel en piek die koeie vinniger – met minder geboortetrauma en sterker produksiepieke. Nou het ons ekstra verse wat verkoop kan word. Ons voer bietjie verse uit na Kenia en Tanzania, want ons vrugbaarheid is so goed dat ons meer verse kry as wat ons benodig,” sê Jan.

Die melkery op ’n mespunt
Die melkery was al twee keer op ’n punt waar dit nie wins-gewend was nie. Die vaste kostes was eenvoudig te hoog, en die syfers wou nie mooi saamwerk nie.
Jan: “Ons het twee keer in ons lewe gesit en besluit wat gaan ons doen, toe die melkery nie winsgewend was nie. En toe het ons besluit om groter te gaan sodat ons die kostes deur meer koeie kan deel. Jou deler moet groter word om jou vaste kostes af te bring.”
Die besluit om te vergroot het alles verander. Meer koeie het die koste per liter laat daal en die melkery weer op ’n volhoubare pad geplaas. Jan sê die omswaai was nie net skaal nie, maar ook beter bestuur en tegnologie.
“Hier het CowManager ’n helse groot rol gespeel met die vrugbaarheid. Ons het DeLaval se Delpro kuddebestuursprogram ingebring. Delpro gee vir ons insig in melkvolumes, tempo en individuele koeiprestasie in die melkstal, wat die bestuursbesluite nog skerper maak.”

DIE BORAN-STOET: GEHARDE DIERE MET BAIE POTENSIAAL
Die Boran-stoet is die deel van Janvos wat vir Jan langtermyn waarde inhou. Die stoet bestaan uit sowat 855 geregistreerde diere, waarvan ongeveer 360 SP-koeie die kern vorm. Die res beweeg deur die opteelfases F1, F2 en F3, waar elke vlak daarop gerig is om die genetiese basis voortdurend te verbeter. Rekordhouding en stamboekregistrasie is ’n sleutelbeginsel, omdat die stoet daarop gefokus is om diere te teel wat in kommersiële veldtoestande presteer.
“Ons is ook besig met ’n opteelprogram.”
Die unieke produksieveiling
Een van die hoogtepunte op die stoet se kalender is die jaarlikse produksieveiling in Mei, wat Janvos saam met hul bure, Opperman Borane, aanbied. Hierdie veiling het oor tyd ’n sterk reputasie opgebou, juis omdat dit nie net suiwer stoetdiere bied nie, maar ook ’n groot aantal Boran kruis-vroulike diere. Hierdie diere is besonders gewild: die gehardheid, moedereienskappe en aanpasbaarheid van die Boran wys reeds in die eerste generasie kruisings. Kommersiële boere hou daarvan omdat hulle relatief vinnig resultate sien in hul kalwers se groei, oorlewingsyfers en vrugbaarheid.

Kommersiële logika en genetiese waarde
Jan beskryf die stoet in praktiese terme. ’n Stoetdier en ’n kommersiële dier vreet dieselfde hoeveelheid voer, drink dieselfde water en gebruik dieselfde spasie. Die verskil lê in die waarde wat hulle oor tyd skep. ’n Stoetbul met goeie genetika voeg waarde per hektaar by wat lank ná sy dood nog sigbaar is in die kudde.
Vir Jan is die stoet ’n belegging in die toekomstige prestasie en ekonomiese veerkragtigheid van die hele boerdery. Dit skep marge, dit skep nuwe markte, en dit skep genetiese vooruitgang wat oor dekades meetbaar bly.

Rol van graan en voer in die groter stelsel
Die gewasstelsel op Janvos is sentraal tot hoe die hele boerdery funksioneer. Op Janvos word elke hektaar doelbewus ingespan om winsgewendheid te verhoog. Hy maak gebruik van bewaringsbewerkingspraktyke om volhoubaarheid te verseker.
Presisietegnologie word gebruik om elke hektaar se volle potensiaal te ontgin.

Vir Jan gaan die gewasgedeelte oor risikoverspreiding en doeltreffendheid. Hy verduidelik dat die kombinasie van sojabone en mielies vir hom sin maak omdat dit sy risiko oor twee gewasse versprei en sy implemente optimaal benut.

BAKLEI DIE SAAK, MAAR BLY SAG OP DIE MENS
Een van die grootste lesse wat Jan oor die jare geleer het, is om die probleme direk aan te spreek sonder om sy mense persoonlik aan te vat. “As jy van universiteit plaas toe kom, weet jy maar min. Ek het baie geleer by bestuurders en werkers. Ek het gesien mens moet hard wees op die kwessie, maar sag op die mens.”
Met 90 permanente werknemers beteken dit dat mense baie duidelik verstaan hoe hul werk bydra tot die finansiële gesondheid van die boerdery. Hierdie stelsel skep dissipline, maar ook trots. Bestuurders weet wanneer hul afdeling goed presteer. Hulle sien dit in die jaarstate, in gesprekke en in die departementele maandstate.

APPELS: ’N STRATEGIESE VERSKANSING
Die appelboerdery vorm ’n aanvullende deel van die stelsel. Jan verbou Royal Gala, Top Red, Pink Lady, Sundowner en Granny Smith, meestal op M7-onderstamme.
Vir bestuiwing plant Jan 10% Granny Smith by elke kultivar. Hulle begin in week 3 met die pluk van Royal Gala’s, wat ’n bemarkingsvenster bied omdat dit van die vroegste vars appels in die suidelike halfrond is. Vroeg in Februarie volg Top Red’s, einde Februarie die Granny Smith’s, Pink Lady’s in middel Maart en Sundowners in April.
Alle boorde is onder nette vir haelbeskerming, wat terselfdertyd ligverspreiding verbeter en sonbrandskade verminder.
“Maar die appels is ’n skoon game. Dis ’n lekker deel van die besigheid.”
Water- en temperatuurbeheer is belangrik in hierdie afdeling. Mikrobesproeiing word gebruik om blomme te beskerm teen koue en om die vogtigheid te handhaaf. Die appels word verpak by The Big Apple naby Ermelo.
Jan: “Ons het 30 ha appels wat ons onder nette produseer. Die nette is uitsluitlik vir hael. Elke jaar val daar maar hael, al is dit ligte hael wat dan merkies maak en dan kan ons nie uitvoer nie, maar moet klas-2 pak wat ’n groot inpak maak op ons inkomste. Oprigting van nette is ’n groot kapitale uitgawe. Ons betaal maar duurerig om appels te vestig. Jou gelykbreekpunt kom eers rondom jaar 8, nooit vroeër nie. Dis maar ’n langtermyn belegging. Dit maar amper soos die houtboere wat wattle of bloekom plantasies aanplant – dis maar ’n lang tyd voor jy jou geld terugkry. Maar die appels is ’n skoon game. Dis ’n lekker deel van die besigheid. Ons het bietjie met uitvoere te doen. So dit bietjie randverskansing. Bietjie buitelandse valuta wat jy kan verdien. As jy eers aan die gang is is dit lekker, want jy maak jou kapitale uitgawe aan die begin. Daarna is die boorduitgawes nog maar hoog, want mens spuit chemie, gebruik diesel, en arbeid. Jy moet nogsteeds mooi jou somme maak, maar jou groot kapitale uitgawe – betaal ’n ou gelukkig net een keer.”
DIE ROL VAN WATER, GROND EN BEWARING
Hoewel die fokus dikwels op diere lê, is Jan baie bewus daarvan dat geen van sy ondernemings sonder gesonde grond en water kan bestaan nie. Deurdat die Boran-stoet, en die koeie op weiding in rotasie geplaas word, kry gedeeltes van die plaas kans om te herstel. Deur gewasrotasies met sojabone en grasse word grondstruktuur opgebou. Mieliereste word deel van ’n groter bewaringsplan. Hy praat eerder van praktiese volhoubaarheid as van modeslagspreuke.
Hy is ewe prakties oor water. Die plaas lê in ’n gebied waar reënval nie altyd betroubaar is nie. Daarom is die bestuur van damme, spruite, pype en pompe vir hom net so belangrik soos die bestuur van sy diere. Watermonitering, opknapping van ou stelsels en die doelbewuste gebruik van tegnologie om lekke en verliese te voorkom, is alles deel van die pakkie.
Volgens hom kan ’n mens nie verwag dat jou kinders later op dieselfde grond moet boer as jy nie self vandag verantwoordelik met hulpbronne omgaan nie.

FAMILIE EN GEMEENSKAP
Die moeilikste besluit vir Jan was om die skaapafdeling toe te maak, wat sy pa se passie was.
Jan: “Om die skape te verkoop was die moeilikste besluit. Dit was my Pa se passie. My pa het gewerk tot hy in sy boots oorlede is. Hy het ’n vreeslike passie gehad vir die SA Vleis Merino’s en hy was ook ’n stoetteler en het ook kommersiele skape gehad. Na sy afsterwe het ons besluit om die afdeling toe te maak. Die druk op finansies was maar redelik op die skaapbedryf. Ek het nie die passie gehad wat my pa gehad het vir die skape nie, so ek sou nie reg laat geskied het aan my pa se nalatenskap met die skape nie. Dan is diefstal ’n groot risiko. Diefstal het ’n groot rol gespeel en my pa wat nie meer vir my kon raadgee nie. Ek het ’n kernkudde uitgehou wat 330 ooitjies en ’n paar rammetjies insluit, want my seun is in sy vyfde jaar as veearts-student. As hy eendag wil kom boer, kan hy net so aangaan daar waar sy oupa opgehou het – met sy oupa se genetika.
“Ek is geplant in Suid-Afrika – dis my land, my mense. Ek baklei saam met almal wat die land ’n beter plek wil maak, al loop alles nie altyd reg nie.”
Ons verkoop nie maklik iets nie – ons hou aan om dit te maak werk! Boerdery is nie altyd winsgewend nie. Party jaar gaan dit maar swaar, daar is maar siklusse in wol, en vleispryse, maar met die voordele van skaal en deur effektiewe bestuur en tegnologie te inkorporeer, deur meer effektief en produktief te boer, probeer ons maar dit wat ons doen te laat werk, sodat ons dit nie hoef te laat gaan nie. Ons maak dit winsgewend.”

GEPLANT IN SUID-AFRIKA
Ten spyte van al die uitdagings waarmee Suid-Afrikaanse boere te make het, praat Jan met passie oor sy toekoms hier. Hy sê hy is ’n trotse Afrikaner en dat hy weet hy sou elders sukses kon behaal, maar dit sou nie dieselfde wees nie.
Jan: “Ek is ’n boer gebore, en dit is my passie. Ek kan nêrens anders gaan boer en so gelukkig wees nie, want jou mense en kultuur bly anders. Ek is geplant in Suid-Afrika, dis my land, my mense, en ek is ’n patriot. Ek baklei saam met almal wat die land ’n beter plek wil maak. Alles loop nie reg nie, maar ons is hier en speel die wedstryd tot op die einde. Ek dink die meeste boere voel maar soos ek.”
Ligging: Janvos Landgoed is op die plaas Brakfontein, naby Davel, in Mpumalanga geleë. Melkery: Die TMR-melkstelsel melk ±650 koeie drie maal per dag in ’n 50-punt DeLaval rapid-exit stal. Delpro kuddebestuursprogram en CowManager-tegnologie word gebruik. Boran-stoet: Die stoet bestaan uit ±855 geregistreerde diere, waarvan 360 SP-koeie is, met ’n jaarlikse produksieveiling in Mei. Saaigewasse: ’n Derde GMO-mielies, ’n derde non-GMO-mielies en ’n derde sojabone word as kontantgewasse in rotasie verbou. Hawer, oulandsgras en tef word vir voer aangeplant. Appels: Janvos produseer appels op 30 ha onder nette, insluitende Royal Gala, Pink Lady, Sundowner en Topred. Die span: 90 Permanente werkers

