Farm Tourism, farmers
Leave a comment

Om die duiwel en anderkant uit

Deur: Hein Eksteen. Fotografie: Michel Dei-Cont.

Daar loop ʼn storie in Richmond se omtes in die Noord-Kaap rond, amper soos ʼn skimhond (jy weet nie of die brak ʼn spook of ʼn wese van vlees en bloed is nie). Maar die hond is dáár, en hy snuffel tot vandag nog naby ʼn bekende gastehuis op ʼn welbekende plaas. En dit al sedert ongeveer 1901, tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog (of die Tweede Vryheidsoorlog, 1899–1902), tot en met die hede.

Die storie vertel van hoe die Boeremagte met behulp van hul guerrilla-oorlogvoering – die skuil in loopgrawe en algehele onvoorspelbaarheid – die Engelse gereeld naby ’n koppie voorgelê en afgeransel het. Die Engelse het dus ’n heilige vrees vir die Boere en hul taktieke ontwikkel. Onthou, die Britse magte was gewoond aan vaste veldslae waar die bevelvoerders van die twee teenstrydige groepe soldate gesamentlik besluit het waar en wanneer die veldslag sou plaasvind. Op die gegewe dag het die twee magte teenoor mekaar gestaan en die skote het begin klap. Die Engelse se probleem was dus dat hulle nooit geweet het wanneer en vanwaar hulle aangeval sou word nie.

“Daar is blykbaar ’n gevreesde Boere-generaal naby ’n koppie hier oorkant geskiet en daar begrawe. Die Britse bevelvoerders was uiteindelik tot so ’n mate gekarnuffel dat hulle die manskappe beveel het: “Go round the devil!” Nou is die bekende veeplaas se naam Rondawel met sy Rondawel Gastehuis – Round the devil! word toe Rondawel. “Maar ek is nie heeltemal seker of die plaas se naam van daardie storie af kom nie.” Só vertel Pieter en Tereza van der Merwe, die trotse eienaars van die plaas en gastehuis.

Of die benaming korrek is – dat die Britte die Boere-generaal as ’n duiwel beskou het en dat die soldate eerder óm die graf moet trek alvorens die generaal hulle vanuit die graf aanval – of bloot ’n mite is, is tersyde. Die werklikheid: Pieter en Tereza moes tydens hul lewens telkemale as gevolg van uitmergelende omstandighede Round the devil gaan. Soos dit weldra duidelik sal word.

’N MAN WAT MET HOUT KAN PRAAT

Hulle koop die grond in 2001 en die gasterondawels was toe pas gebou. Maar hierdie vertelling handel nie oor landbou nie. Eerder oor houtwerk en twee mense se benydenswaardige deursettingsvermoë.

“My liefde vir houtwerk kom al vanaf my jongjare en ek wou eintlik houtwerk as vak op skool neem. Daai jare was die alternatief wiskunde of tik. Toe sê my pa ek kan altyd later houtwerk op my eie aanleer en eerder wiskunde neem. Hy het geglo dit sal my later beter te pas kom. Ek weet nie aldag of hy reg was nie.”

Pieter se liefde vir houtwerk is van uiterste belang. Hierdie vaardigheid sou hy jare later inspan om vlugvoetig Round the Devil (een van vele) te galop. Miskien was Pa tog tot ’n mate reg, aangesien Pieter met merinoskape boer, en die skaapprodusent en óók die houtwerker moet immers kan somme maak.

Nietemin, met Pieter wat kan boer en houtwerk doen en Tereza met haar gastehuis, lê die pad vorentoe dus vir hulle pienk en plesierig? Helaas, nee… Die ou wysheid: sodra die mens beplan, begin die gode giggel.

Droogte.

In 2019 was Pieter veronderstel om 1 400 lammers te speen. Hy het ’n skamele 50 gespeen. Maar hy kom Round the Devil deur ál sy vee aan een ander boer te verhuur. Maar, soos ons almal weet, is leuens en duiwels soos kakkerlakke: indien jy een sien, kan jy seker wees daar is vele meer. 

En só was dit. Kuier Pieter, Tereza en hul kroos in Struisbaai en een aand lui die telefoon. Sy buurman laat weet: “Pieter, julle huis op die plaas is aan die brand.” Die volgende oggend, toe hulle daar opdaag, staan net die mure. “Die vloere was van kiaat gemaak. Die plafonne was ook van hout. Die houtmeubels. Alles wat kon brand, het gebrand. Tot die plaasbakkies se sleutels was tot niet. Gelukkig was die skure waar die voertuie, implemente en my houtwerkgereedskap gestoor was, nie geraak nie.”

VAN AS TOT HEREHUIS

Maar Pieter en Tereza was nie in sak en as nie en kry dit reg om die nagmerrie in ’n droom te omskep. Hulle het lankal die idee gehad om iewers ’n ou huis te bekom en dié te restoureer. In Richmond gaan hulle egter nie hul geld terugmaak nie en die Kaap is te ver. Hier het hulle egter nou die geleentheid om hul eie huis te laat herbou en die meubelmaak en ander houtwerk self te behartig.

Waar daar tot ’n wyle gelede net as gelê het, staan nou ’n herehuis. Teen ’n steilte vanwaar jy oor groen (dit het onlangs goed gereën) vlaktes en koppies (onder andere die generaal se koppie) kyk.

Vier ruim en suite-slaapkamers. Elkeen met ’n buitestoep vanwaar jy met ’n beker boeretroos in die hand die son kan sien opkom. In elke kamer het Pieter tamaai (in Eugène Marais se woorde: so wyd soos die Heer se genade) ingeboude kaste uit eksotiese hardehout gefatsoeneer. Die beddens het hy natuurlik ook self gebou. In een van die kamers is tot ’n hemelbed. En lessenaars toegerus met laaie en uittrekblaaie vir skootrekenaars en dies meer. Tot die lessenaars se stoele.

“Ek het alles met voeë en houtlym aanmekaar gesit. Daar is nie ’n enkele skroef of dowel in een van die meubelstukke nie.” Die afwerking is perfek. Kyk maar met ’n vergrootglas en geen fout is sigbaar nie – nie eens opsigtelik vir ervare stofmakers nie.

Ironies genoeg het van die mooiste karaktereienskappe van die oorspronklike opstal daartoe aanleiding gegee dat die ou huis vinniger in puin gelê het. Die kiaatvloere en dakbalke. Die voorgeslagte het mos die vloere ’n meter of wat bo die grond op mure gebou. Voor die ou huis kon mens onderdeur die plek loop. Toe die vloere begin deurbrand, word daar natuurlik ’n vars bron van suurstof geskep.

“En daardie klomp suurstof maak toe dat die vlamme soos mushrooms in die vertrekke opstyg.” En dan die balke. Dié was baie dik en uiteraard lank en baie na aan mekaar. Dus nóg brandgoed om die inferno verder in sy kwaad te stook. Een sitkamerstel het die vuur vrygespring, aangesien dié elders in ’n stoor gehou was. Die res van die ruim sitkamer se meubels het Pieter toe ook gemaak.

“Indien ons die huis wou hê soos wat ons dit in die geestesoog gesien het, sou net die meubels R1,6 miljoen gekos het. Ek kon alles natuurlik baie goedkoper self maak.”

DIE LIEFDE VIR HOUT EN HERWINNING

Neem byvoorbeeld die eetkamertafel. Lank en breed. Daar kan maklik tot 14 siele gemaklik sit sonder dat jou elmboë jou bure se eetlus belemmer. “Die eetkamertafel het ek van Oregon Pine gemaak. Die hout was vloerbalke wat ek uit ’n ou plaashuis op ’n buurplaas gehaal het. Vragte en vragte van hulle. Maar die meeste van die hout was reeds vrot en ek kon net hierdie tafel van al daai hout maak.”

Pousering: Oregon Pine is ’n haakse benaming. Die regte naam is Douglas Fir. Die Afrikaans: Douglasden. Desnieteenstaande praat Afrikaanse (en Engelse) houtwerkers van Oregon Pine. Finish en klaar. Amper soos wanneer ’n taalsuiweraar vir die houtwerker sê hy moet sy tafelsaag of dikteskaaf se laers vervang en die houtwerker staan daar met sy bek vol tande. Maar laat weet vir die houtwerker om die masjiene se bearings te vervang en hy doen dit daar en dan.

Terloops, enige houtwerker wat sy skaafsels werd is, loop nie die kans verby om hout iewers te herwin nie. Hierdie gawe word dan ook vinnig die houtwerker se grootste las: Waar stoor jy uiteindelik al die hout? Want sien, hout versamel en die aankoop van duur gereedskap is twee vorme van die houtwerker se ernstigste verslawings. Verder sit die stofmaker met ’n ander turksvy: offcuts (terloops, die woord vertaal as afvalstukke in die soetste taal, maar gesoute houtwerkers verkies offcuts). Offcuts het die vreemde manier om kleintjies te kry. Veral stukke eksotiese hardehout. Selfs die kleinste stukkie word vir die toekoms bewaar – miskien kry my agterkleinkind dit iewers in die volgende eeu nodig.

WYN, HOUT EN ’N KORTER DUIM

Van tafelsae gepraat. Pieter verwys na sy regterduim. Dié is effens korter as sy linkerboetie.

“Ek saag eendag ’n stukkie hout met my tafelsaag. Die hout haak en ruk my duim teenaan die lem en daar hang my duim aan ’n stukkie vel. My buurman moes my kom haal en hospitaal toe neem om die spulletjie weer aan te werk. Maar die ou werk net so goed soos voorheen.”

Hierdie laaste staaltjie (pynlik soos dit was) vertel Pieter in sy wyn- en kuierkelder. Nogmaals: die mooiste houtrakke waarin om en by 600 bottels verouder. Maar kyk, die aanhou van wyn is soos om met merinoskape te boer. Jy moet die ouer wyn (en ou ooie) uitkry om met jonger wyn (en jong ooie) te vervang.

RUSPLEK LANGS DIE N1

Terwyl ons in die kelder sit om tot die beste van ons vermoë plek te maak vir jong ooie (ek bedoel wyn), vertel Tereza van haar gastehuis.

“Die voordele verbonde aan die bedryf van ’n gastehuis is interessant teenoor die nadele. Die voordele is finansiële onafhanklikheid vir my. Ek werk ook met mense en dit is iets wat ek baie geniet. My kinders het ook baie uit die gastehuis geleer, aangesien ek hulle gedurende skoolvakansies daar laat werk het.” Duidelik teen vergoeding.

“Die nadele. ’n Gastehuis is effens soos ’n tronk. Dit hou jou vas. Jy kan nie regtig weggaan nie. Byvoorbeeld, wanneer jou kinders met vakansie is, is dit die gastehuis se besigste tyd. Maar die mense wat hier op die plaas kom oorbly, wil juis op ’n plaas wees en het dus ’n ander ingesteldheid en is dus baie gemakliker.”

Ons sit om die ruim eetkamertafel en Tereza bedien skaapnek en allerlei bykosse soos net ’n vrou op die platteland dit kan maak. “Die ander lekker ding is dat ek vir die gaste saans kook en hulle geniet dit baie om hier van die vleis te eet wat op hierdie plaas hul bossies gevreet het.” Vanaf die veld tot waar dit in die mond smelt.


Wie dus self hierdie stilte, gasvryheid en plaasatmosfeer wil ervaar, kan by Rondawel Gasteplaas bespreek. Die gasteplaas lê net 38 km buite Richmond langs die N1 en is ideaal vir ’n gerieflike oornag of ’n rustige wegbreek. Besprekings kan gedoen word by terezavandmerwe@gmail.com

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *