Diversification, News
comments 2

Sydney Claassen – Groentegesondheid uit die grond uit

Sydney Claassen, wat onlangs as die Wes-Kaap se Nuwe Toetreder tot Kommersiële Boerdery aangewys is, staan stewig in sy gomlastiekstewels midde-in sy groentelanderye. Vanuit sy 12-hektaar-onderneming lewer hy vars groente aan kleinhandelaars soos Woolworths, met ’n duidelike fokus op volhoubare praktyke en die bemagtiging van ander boere.

Hy kom sonder enige twyfel voor as ʼn persoon wat die ou gesegde, ʼn boer maak ʼn plan, goed ken. Dit lyk asof hy lánkal vir alles ʼn plan het en of uitdagings voor die voet weggevee word. Inteendeel, in Sydney se geval is dit asof hy eerder reeds die teenvoeter vir elke uitdaging het.


 Sydney Claassen

Leke glo dit is eenvoudig om met groente te boer: jy bemes, plant en sit rustig agteroor totdat die vrug van jou arbeid gereed is om geoes te word. Die skaal waarop hy boer en die gepaardgaande intensiteit daarvan kan eerder vergelyk word met vyf komposisies wat tegelyk op vyf verskille klaviere gespeel word. Om nootvas te wees vereis voorbereiding om die onvoorsiene van ver af uit die boom te kyk.

Hierdie gawe is by hom ingeskerp deur sy ouers wat ook in Lynedoch se omgewing buite Stellenbosch met groente geboer het.

Maar het hy nie van kleins af gesien dat boere gereeld swaarkry nie? “Beslis. Dit is hoekom ons deesdae weet ons moet slimmer boer.”

“Ek is baie bevoorreg om in hierdie omgewing gebore en getoë te wees en my passie vir boerdery kom van my pa-hulle af.”

Maar het hy nie van kleins af gesien dat boere gereeld swaarkry nie?

“Beslis. Dit is hoekom ons deesdae weet ons moet slimmer boer.”

Sydney kon die praktiese aspekte van landbou by sy pa en oupa aanleer, maar moderne teorie het tekortgeskiet.

Dis hier waar KAL Academy hom bygestaan het – en steeds bystaan – om beter voorsiening vir die onvoorsiene te maak. Dus, om slimmer te boer.

“Ons is ʼn klomp jong manne wat ses jaar terug begin boer het. Ons het die advertensie gesien en kontak met die KAL Academy gemaak. Daardie tyd het hulle uitgekom om te sien wat ons doen en sê. En hulle wou weet of ons bereid was om onsself verder in landbou te vestig. Hulle kon sien wat ons al gedoen het, aangesien ons reeds in produksie was.”

Lynedoch, buite Stellenbosch, is tradisioneel wingerdwêreld, maar Sydney glo daar moet boere wees wat sorg daar is elke aand kos op die tafel. En botterskorsies is deel van hierdie benadering.

Intussen huur Sydney alreeds vir 12 jaar die grond by die munisipaliteit. Die instansie het sekere kriteria wat voorskryf dat die aansoeker ʼn plaaslike inwoner moet wees en landbou moet ken. Die munisipaliteit was bewus van Sydney se oupa en pa en die knoop word toe deurgehaak.

“Toe ek by die KAL Academy aansluit, het ek reeds omtrent sewe tot 10 jaar se ondervinding met betrekking tot groenteverbouing gehad. Die tyd wat ek daar spandeer het, was om daardie finale kennis te bekom. Veral met kontantgewasse moet ’n mens ʼn baie spesifieke plan hê om te volg.”

“As dit vandag 10 millimeter gereën het en die lektor beveel aan jy doen môre dit of dat, kan jy maar luister.”

Alhoewel sy pa en oupa op die ou manier geboer het – tegnieke wat Sydney aanvanklik net so gevolg het – voel hy nie dat die tradisionele en moderne wyses in konflik hoef te wees nie.

“Jy moet luister na wat die slim mense van die Academy vir jou sê. As dit vandag 10 millimeter gereën het en die lektor beveel aan jy doen môre dit of dat, kan jy maar luister. Dan is daar sekere goed wat jy moet doen gedurende daardie fase waar daar geen reën is nie en jy moet jou crops kan onderhou. Die mense weet waarvan hulle praat.”

Dit is op hierdie gebied waar die KAL Academy vir Sydney van baie waarde was. Hy gee toe dat boere baie by mekaar kan leer, want baie van die faktore is dieselfde, soos byvoorbeeld kunsmis en besproeiing, maar die indiwidu staan alleen op sy grond en hy moet in staat wees om bykans instinktief besluite te kan neem. Soms is daar nie tyd om te wonder of uit te vra nie.

“Dit en dissipline. Jy moet weet jy moet môreoggend op ʼn sekere tyd opstaan en doen wat nodig is.”

Kontantgewasse se lewensduur is kort – gemiddeld 60 dae – en met die insetkoste, weer, reën en dies meer, het die boer nie baie tyd om foute reg te maak nie. Loop iets gedurende week drie skeef, kan die oes teen dag 60 tot niet wees.

Sydney het tot by NQF Vlak 4 gevorder en gespesialiseer in Plantproduksie. Maar nog is het einde niet met betrekking tot sy akademiese aspirasies nie en hy studeer tans aan UNISA.

Sydney Claassen by sy span agter hom, van links na regs; Jenifa Solaris, Christina Wilson, Fikhile Stimela, Lydia Johnson, Sesethu Mbelu, Maggie Fourie, Philasande Ndongeni en Zodwa Tsola.

“Die ander belangrike ding omtrent KAL Academy is die volgehoue ondersteuning wat hulle verskaf aan my en ander boere wat reeds afstudeer het. Daar is altyd kontak tussen ons en hulle is altyd daar om raad te gee,” sê hy.

“Die kommunikasie tussen die boere en die Academy moet egter wedersyds wees. Jy kan nie na die tafel toe kom en niks na die partytjie toe saambring nie. Hulle wil sien hoe hulle studente vorder. 

Vervolgens help Agrimark Packaging Sydney om verpakkings-materiaal – ʼn broodnodige element vir enige kontantgewasboer wat aan party van die voorste leweransiers in die land voorsien – teen laer pryse aan te koop.

“Die ander nadeel van ander maatskappye teenoor Agrimark, is dat jy by eersgenoemde 90 persent van die prys daar en dan moet betaal wanneer jy aankope doen. Twee weke later moet jy die uitstaande 10 persent gee. Ons is egter nou in ʼn posisie om vir Agrimark te sê dat ons twee hektaar moet voorberei en vra dat hulle my vir twee weke aan die hand moet neem. Maar ná die twee weke moet jy kan teruggaan om te laat weet die saad in die grond is. Van jou kant af moet jy die verhouding lewendig hou. Maar dit het nie oornag gekom nie. Ons moes werk daarvoor.”

Met ander woorde, daar is vele risiko’s. Hoekom nie wingerd verbou soos die menigte ander boere nie?

“Ja, hierdie is tradisioneel wingerdwêreld en daar is plek vir nog, maar ek glo daar moet boere wees wat verseker daar is elke aand ʼn bord kos op elke familie se tafel. Kyk, jy kan saans kies tussen ʼn bottel rooiwyn of ʼn witwyn, of geen wyn nie, maar kos moet daar wees.”

Sydney het juis sy besigheid, Pinehaven Agricultural Trading, op grond van hierdie siening gebou. Boonop vestig hy drie jaar gelede ook koljander as verdere komponent tot sy wisselbou. En so verskaf hy hierdie gesogte krui vir tussen sewe en nege maande van die jaar aan die mark. Die rede vir vinkel se maat se afwesigheid gedurende die laaste drie maande, is eenvoudig: die somer tree aan en koljander hou nie van warm weer nie.

Nietemin, Sydney plant sy topvyf gewasse. Drie in die somer: groenboontjies, vinger- en botterskorsies om teen die winter gereed te wees vir sop gedurende die Kaap se gure weer.

“Koljander maak ʼn baie groot gedeelte van ons mark op, want hy is ʼn twaalfmaand-produk.”

Gewoonlik nege maande, maar wel twaalf maande indien jy oor die moed beskik om hierdie tingerige krui gedurende die somer aan te plant. Sydney beskik oor daardie deursettingsvermoë en het verlede jaar ses ton geoes.

“Nommer vyf is ons crown-pampoene. Dit is uniek in die sin dat sy raklewe baie langer is as die gewone boerpampoen.”

Tussen die somer en winter word na ander sopgroente oorgeskakel. Spinasie wat ook twaalf maande van die jaar in produksie is. Rape vir soppakke. Sopseldery.

Mendoncia Isaacs bedryf die Plaasmark waar gehaltegroente van die hand gesit word. 

“Dan het ons ʼn mengsel van basilie en roket wat in die winter geplant word om reeds voorsiening te maak vir die warm somerdae. Dus moet jou beplanning baie goed wees, want hier in Julie of Augustus moet jy iets plant wat jy weet die verbruikers in die somer nodig gaan hê.”

Sydney se beplanning is puik en Agrimark bring hul kant, maar niemand kan die natuur beheer nie. Uitdagings, uitdagings, uitdagings.

“Om die uitdagings te probeer omseil, plant ons nooit te veel van een produk nie. Kry jy onverwagse reën in die somer is dit ʼn probleem. Vrugtebome kan byvoorbeeld daardie reën vat, maar kontantgewasse kan nie. En jou crop rotation is baie belangrik.”

Daarom plant Sydney produkte wat gedurende die eerste rondte in die dieper grond groei, die fase daarna in medium grond en laastens in die bogrond.

Die geoeste plante se reste bly in die grond en bespaar sodoende op die nodigheid en onkoste van kunsmis.

“In April plant ek rape in diepgrond en hulle staan gewoonlik twee tot twee-en- ʼn-half maande. Dan, in Augustus, plant jy blomkool, want dié groei in die middelgrond. Blomkool het nie ʼn penwortel wat voeding in jou diepgrond te gaan soek nie. Jou derde fase is dan die bogrond waar jy byvoorbeeld groenboontjies en soetrissies plant. Hierdie plante se reste bly natuurlik agter en bemes jou grond en dit spaar jou weer kunsmis.”

Hierdie siklus duur ongeveer agt maande en daarna kan weer met rape begin word, gevolg deur blomkool en laastens groenboontjies. In dieselfde blok grond. 

“Om die uitdagings te probeer omseil, plant ons nooit te veel van een produk nie. Kry jy onverwagse reën in die somer is dit ʼn probleem.”

Sydney se vertikale grondbestuur – daar kan selfs na verwys word as vertikale uitbreiding – verg noukeurige beplanning en daaglikse beheer. Hy kry dit egter reg om daardie vyf komposisies op die vyf klaviere soos ʼn wafferse Mozart uit te voer.

Daar is ook geen einde aan Sydney se toekomsplanne nie. Besoek sy Plaasmark langs die Annandale-pad in Lynedoch en jy sal sien dat groot verrassings reeds besig is om in sy diepgrond te begin ontkiem.

2 Comments

  1. I must say this article is extremely well written, insightful, and packed with valuable knowledge that shows the author’s deep expertise on the subject, and I truly appreciate the time and effort that has gone into creating such high-quality content because it is not only helpful but also inspiring for readers like me who are always looking for trustworthy resources online. Keep up the good work and write more. i am a follower.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *