All posts filed under: Mega Farmers

Hierdie boere doen ALS om te slaag

34 jaar gelede het die Joubert-broers en James Honiball begin met die bou van gronddamme om hulle trekkers in die af-seisoen te benut. Die Koppies-dam se kontrak is aan hulle toegeken en hulle moes ’n naam vir hulle besigheid registreer. Hulle registreer die naam, ALS, want het gemeen, hulle sal als doen om die besigheid te laat slaag. Só is die besigheid dan in 1990 as ALS geregistreer en vandag het die Groep sowat 1 100 mense permanent in hulle diens.

Amper ’n eeu van vrugte

Ry uit Barrydale in ‘n noordwestelike rigting op die R62 en jy is sommer vinnig by Doornrivier. Die plaas is sedert 1923 in die Smit-familie. Piet Smit vertel dat sy oupa die plaas gekoop het terwyl hy ‘n winkelier op Barrydale was. “Daai tyd was hier nie kommersiële boere nie. Die hele Klein-Karoo was die ene volstruis en dit was ook net vir hulle vere – hulle is nie geslag nie.”

Skatkis Bonsmaras

Die grondpad na Skatkis Bonsmaras hou vir kilometers langs ʼn baie duursame wildheining aan (dit voel miskien net só). Dan kom jy by seker die netjiesste plaas op aarde aan. En dit is hier waar Chris Visser en Blikkies Venter nóg ʼn gedugte span is. Twee fiks en gesonde manne, duidelik sonder opkikkermiddels.
Chris: “Dit is net vir my lekker om na ʼn netjiese plek toe te gaan. Hierdie is my happy place.”

Waar neute beeste troef

“Diversifisering is nie ʼn opsie nie. Dit is ʼn noodsaaklikheid. Ons lewe in ʼn baie wisselvallige besigheidsomgewing waarin daar baie veranderlikes heers. Indien jy dus slegs op een vertakking steun, is die kanse baie goed dat jy een of ander tyd probleme gaan kry. Maar jy moet ook baie goed kyk hoe jy jou vertakkings saamstel, sodat almal nie op dieselfde hulpbronne, dieselfde mark en dieselfde kapitaalbron staatmaak nie.”

T-bene uit Amsterdam

Ons kom by die voerkrale aan en Thys sit aan die stuur van ‘n trekker met ‘n enorme voermenger daaragter. Jy kan sommer sien hy wil nie gesteur word nie, maar hy spring hoflikheidshalwe uit die kajuit om te kom gesels. Die trekker se enjin bly loop. Dalk ter beklemtoning dat tyd nie op hierdie plaas verbeusel word met nietighede soos kletsery met die media nie.