Agri Biz People, Agri-entrepeneur, Diversification, farmers, Female Farmers, Innovation
Leave a comment

Ivan Snyman se pad van Boksombende- held tot landbouinnovasie

Rooie? Is dit werklik jy?
Inderdaad. Ivan Snyman bevestig hierdie verrassing deur met trots ’n foto op sy selfoon te wys. Daar pronk hy met die bekende bosrooi hare saam met sy mede-Boksombende- lede: Trompie, Rooie, Dawie en Blikkies. Die rooi hare is nou grys, maar die stout trek om die mond en in die oë bly behoue.


Links: Ivan Snyman (ook bekend as Rooie, lid van die Boksombende) kry hoendervleis van hoe lekker hy en Antoinette boer. Regs: Antoinette Snyman het aanvanklik twintig henne aangehou om besig te bly. Sy het egter die gaping gesien en daardie getal staan nou op 600. Sy het ook Ivan se verpillingsaanleg geïnspireer.

Die logiese vraag: hoe loop ’n 15-jarige kind se lewenspad vanaf akteur, gebore en getoë in Roodepoort, tot by boer buite Vredenburg? Alvorens daarby uitgekom word, eers die geskiedenis van die plaas Snyman Landgoed.

Wel, Ivan en sy wederhelf Antoinette trek vanaf Johannes- burg na Melkbosstrand. Die kusdorp word egter te groot en besig vir die twee, en hulle maak ander planne.

Hierdie besigheid in Johannesburg? Die volgende verras- sing: Ivan bou kragstasies.

“Met lockdown het ek permanent hier kom woon, maar het steeds die besigheid daar bo.”

Bo en behalwe die 15 ha, huur hy nog 140 ha in die nabyheid. Hy produseer vrywei-hoendereiers en skaap. Vervolgens word voer aangeplant waarvan voerpille
vir die skaap op die plaas vervaardig word.

Terug na die logiese vraag: hoekom sou ’n bouer van kragstasies begin boer? Het hy te veel geld gemaak?

“Nee, ek bou hulle steeds en het dus nog nie genoeg geld gemaak nie.” Weer daardie bekende Rooie-lag.

Ivan en Antoinette boer met 200 Vleismerino’s. Die diere loop glad nie op die lande nie en word eerder intensief in twee hektaar kampe geboer waar hulle hooi en pille gevoer word.

’n Alternatief: sekere mans wat deur hul menopouse ploeter, koop ter salwing óf ’n meno- Porsche, óf ’n meno-plaas. Hierdie vraag is egter gans te persoonlik. Boonop, alhoewel joernaliste vreesloos behoort te wees, pak jy nie ’n lid van die legendariese Boksombende gewapen met slegs die spreekwoordelike pen nie.

Aangesien kragstasies en kragvoorsiening ’n turksvy is, praat ons liewer oor die Snyman Landgoed se verskeie land-boukomponente.

“As jy suksesvol wil boer, moet jy diversifiseer.”

Diversifisering: indien die appels ’n Libbok op die boer trek en onderdeur die dwarslat eindig, moet die pere sy Pollard- ding doen.

Die skaapvoerpille het begin toe ek amper ‘n hartaanval gehad het toe ek sien wat sy vir die skape se voerpille betaal.

Diversifisering is egter nóg ’n vetplant oortrek met dorings. Landbouers het twee uiteenlopende benaderings: óf hulle diversifiseer, óf hulle spesialiseer. Word diversifisering verkies, moet die boer oor genoeg grond beskik. Ivan beskik nie oor groot grond nie, maar verkies tog diversifisering.

“Ja, ons boer op kleinskaal, maar jy moet uiteindelik ver- skeie komponente bedryf.”

Weer eens met die stout laggie, vertel Ivan hulle het bloot met die eiers begin om sy vrou, Antoinette, besig te hou. Nou trek hulle by 600 eiers per dag. Die verpillingsaanleg is kwansuis ook Antoinette se skuld – anders gestel, ook deur haar geïnspireer.


Die voordeel verbonde aan die voerpille is as verweer teen die alomteenwoordige wind aan die Weskus. Los voer waai weg. Pille bly lê waar hulle gestrooi is.

“Die skaapvoerpille het begin toe ek amper ’n hartaanval gehad het toe ek sien wat sy vir die skape se voerpille betaal. Toe koop ek ’n klein pilmasjien en het op kleinskaal begin. Daar was wel ’n aanvraag vir daardie pille in die omgewing en ek is die enigste ou wat plaaslik ’n verpillingsaanleg bedryf. Dit is tensy jy Moorreesburg of Malmesbury toe wil gaan.” Enigiemand wat oor die aptyt beskik om kragstasies tydens Suid- Afrika se donkerste dekades te bou, kan enige bul by die horings pak. En só bekom Ivan ’n aansienlik groter verpillings- aanleg.


Die voerbestanddele word eers met ’n hamermeul in 6 mm stukkies gekap en dan met hierdie vervoerband na die menger vervoer.

Die verpilde voer bestaan uit al die bestanddele wat boere gewoonlik vir hul skaap gee, maar word eerder in korrelvorm aangebied. Die rede daarvoor is die alomteenwoordige wind langs die Weskus. Wind waai die onverpilde voer weg. Pille is swaarder en bly lê waar hulle uitgegooi is.

“En die kleiner boere op die plotte het weer nie toegang tot al die verskillende voere wat die groter boere het nie.”

Pille word as volg gemaak. Die hooi kom van die land af en word met lusern gemeng. Nou word die twee met ’n hamer- meul in 6mm stukkies gekap. Daarna word die gekapte stukkies met ’n vervoerband na die menger geneem totdat ’n sekere gewig bereik word. Ander bestanddele, soos proteïen- mengsels, mielies en molassemeel, word bygevoeg en gemeng. Die volgende proses bestaan uit die vervoer van die gemengde voer na die pilmasjien wat die voer kompakteer.

“Die harde pille is nou vuurwarm en gaan dan vir afkoeling. Een ton op ’n slag. Dit neem ongeveer een uur. Dan gaan die verkoelde pille weer met ’n vervoerband na wat ek noem my shaky-shaky. Dit is basies ’n skudmasjien soos wat die ouens op die diamantmyne gebruik. Die masjien skud al die stof uit en die pil kom skoon aan die anderkant uit.”

Die pille word in 40 kg sakke verpak en is dan gereed vir die mark.


Ivan het hierdie verpillingsmasjien aangeskaf nadat hy amper aan ’n hartaanval beswyk het toe hy uitvind hoeveel sy vrou, Antoinette, vir die voerpille betaal.

Ivan en Antoinette boer met relatief min ooie, 200 Vleis- merino. Hulle loop glad nie op die lande nie en word eerder intensief in twee hektaar kampe geboer waar die vee hooi en pille gevoer word.

“Die Vleismerino is ’n skaap wat baie goed in hierdie omgewing aard, en hulle is ’n wol- en vleisras. Toe ek hier aangekom het, het ek nie veel van skaapboerdery geweet
nie en het van die ander boere gevra. Hulle het gereken die Vleismerino is die ras wat baie goed hier aard en hulle is dubbeldoelig. Ek het die raad aanvaar, want mens hoef mos nie altyd die wiel te probeer herontdek nie.”

Sy jaarprogram vir die skaaptelery lyk as volg: die ooie nooi die ramme in November oor, 40 dae lank. Dan is hulle dragtig vir vyf maande en lam dan, 10 maande later is hulle markgereed.

“Onthou, ooie verkies om in die winter op die natste en koudste dae te lam.”

Die uitdagings verbonde aan skaapboerdery?
“Dis een helse uitdaging.”
Volgens Ivan lam al die ooie in ’n gegewe jaar en alles loop dood-dollies. Die volgende jaar kom weer met verskeie probleme. Van die grootste maaifoedies is markprys.


Ivan reken hy het die plaaslike produsente uitgevra oor die geskikte ras vir hierdie omgewing. Die antwoord was Vleismerino, en dus was dit nie vir hom nodig om weer die wiel te herondek nie.

“Jou mark op die oomblik vir lam is van so ’n aard dat jou marges iets stupid is, soos jy maak twee of driehonderd rand per lam. Dus moet jy getalle hê. Iets soos ’n duisend plus lammers indien jy ’n lewe wil maak van skaap. As jy twee- honderd het soos ek, is dit basies ’n break-even-storie. Maar, aangesien ek my eie hooi en pille het, kan ek doen wat ek doen. Tans wat die boer kry vir lammers is maar laag.”

Met ander woorde: indien boere genoodsaak word om hooi en pille aan te koop, is die koeël deur die haan wat op die kerk se toring staan.

“En dit is bitter sleg. Twee jaar terug was die prys een- honderd rand en dit sit darem iets in jou sak.”

Ivan beskik egter oor baie goeie teelmateriaal en koop ook gereeld goeie ramme aan waarmee hy teel. Dus is hy in staat om teelooie en -ramme aan ander boere te verkoop, teenoor die verkoop van die lammers as lewende hawe.


Siektes word bekamp deur seker te maak die hokke en die hoenders se water is altyd skoon. Regs bo: Aanvanklik lê die jong henne kleiner eiers (regs bo). Sodra hulle volwasse is, lyk die prentjie heeltemal anders.

“Ek is glad nie ’n voorstander van slag nie en slag ook glad nie op die plaas nie. Hier is wel ’n slag- en ’n koelkamer. Antoinette gebruik egter die koelkamer om haar eiers in te pak.”

’n Boer wat nie van slag hou nie?
“Seker maar omdat ek ’n dorpseun was.”
Dorpseuns glo mos hoeka skaaptjops word in pakkies in super-marke gebore.
En daarom boer Antoinette juis met lêhenne in plaas van braai-kuikens.
“Antoinette het ’n passie vir hoenders, maar hulle is sommer skrophoenders wat hier all over rondloop. Toe kry sy twintig

Hy-Line henne en hulle lê op hul beurt weer twintig eiers per dag. Maar ons kan mos nie twintig eiers elke dag eet nie. Daarom verkoop sy toe eiers aan haar vriendinne wat koekies bak.”
En net daar sien Ivan ’n gaping waardeur vroulief soos Cheslin Kolbe sal kan breek. Daar bestaan ’n winsgewende mark vir plaaseiers.

“Ons het die getalle so bietjie-bietjie vermeerder en later selfs die hoenderhotel hier agter gebou. Dit is ’n groot face- brick gebou met allerhande fancy toerusting in.”

Teen alle verwagting lê hierdie 600 henne nie genoeg eiers om die aanvraag te bevredig nie.

“Mens wil nou nie noodwendig oor geld praat nie, maar ek kan sê die henne en die plaaseiers is die moeite werd. Die somme klop aan die einde van die dag.”

Die henne begin op 20 weke eiers produseer. Hierdie eiers is egter aansienlik kleiner en moet elders in die mark ’n tuiste vind. Vandat hulle begin lê, is die henne in vol produksie vir ongeveer 18 maande.

“Ons sny daardie getal maande af na gemiddeld 16 maande, want jy kan dadelik sien wanneer jou produksie begin afneem.” Die henne word in groepe vervang. Sodra ’n bepaalde groep se produksie daal, word daardie groep onmiddellik met ’n nuwe vervang.

“Dit verhoed dat ons ’n dip in ons produksie vat. Ons het wel ’n val in produksie gehad toe daardie voëlgriep in Johan- nesburg die wêreld getref het. Gedurende daardie periode kon ons nie nuwe henne in die hande kry nie. Maar ons het die storie deurgetrek.” Die nuwe henne wat later bekom is, begin juis nou lê.


Boonop word die henne elke drie maande van sekere medisyne voorsien om wurms en ander siektes te voorkom.

Henne wat die einde van hul produksieperiode bereik, word lewendig verkoop.

“Ons noem hulle off-layers en as die woord uitgaan dat hulle beskikbaar is, neem dit net een dag voordat die hele spul vort is.” Siektes is die grootste uitdaging. Hierdie tameletjie word bekamp deur seker te maak die hokke en die hoenders se water is altyd skoon. Boonop word die henne elke drie maande bepaalde medisyne toegedien om wurms en ander siektes te voorkom.

Ten laaste: Ivan hoop sy kleinseun ontwikkel ’n belang- stelling in landbou en sal eendag die boerdery oorneem. Die hoop beskaam nie en dit word verder onderskraag deur die werklikheid dat die jong man reeds oor ’n welige bos rooi hare beskik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *