Drought, Farm to Fork, farmers
comments 2

Waar die katte ken van saffraan

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont

Kyk, Williston is ʼn anderste entjie plek, maar stap die Williston Mall binne en nog voor die deur agter jou toeskuif, bevind jy jou in ʼn ruimte wat aansienlik anders as anderste is. Eksentrieke kuier-, eet-, drink- en lêplekke. Ou karre en motorfietse. Kwinkslae wat jou polsslag op hol sit. Tot ʼn renbaan waar jy jou lyf Verstappen kan hou – met ʼn draadkar. Gepas genaamd: Draad Prix.

“En wat maak jy hier?” vra ’n vrouestem onverwags agter my. Ek swaai om. Sy is stewig gebou. Staan met die kieliebakke in die wind. Haar indringende blik op my gerig. Ek verduidelik ek ry rond en praat met boere. “Van hulle kan jy my niks sê nie.” Ek stem onteenseglik saam.

Die Williston Mall in Williston.

Handskoene nodig

“Laat ek jou vertel. Ek, my pa en my broer, het ses plase. Tot nou toe, het ons al drie saam op een plaas gebly. En ek is natuurlik die een wat moet huishou. Nou trek ek na een van die ander plase en ek sluit daai hek sodra ek deur hom is. Op my eie.” Padlangs en op die man af. Dit is Williston se mense. Want ʼn harde wêreld kweek geharde mense. Egte mense, met hart en siel. Soos die Boesman- en Namakwalanders en Karoomense nou eenmaal is.

Allerhande katte

Hierdie gehardheid word op die pad na die plaas Sandtuin beklemtoon. Dit is nie ʼn haakse benaming nie. Die omte is só droog, jy maak met sand en klip tuin.

“Nee wat, roep my sommer Rooikat. Almal maak só.” Dit is Hannes Esterhuyse. Terloops, die seun en dogter heet onderskeidelik Meerkat (Nicol) en Seekat (Milrie). En watter kat is Rooikat se wederhelf? “Sy bly Juanita.” En die naam Rooikat? Of is hierdie vraag ongevoelig? Die rooikat, soos die rooijakkals, is immers swetsery op die skaapboer se tong. “Man, toe ek die eerste keer in die koshuis aankom, het die kinders my só genoem omdat ek verwilderd gelyk het – soos ʼn rooikat in ʼn vanghok.”

Hannes Esterhuyse spog met een van die vele jigs wat hy gebruik om sy lewe mee
te vergemaklik.
Rooikant se biddende reënmeter is na jare se droogte uiteindelik gehoor aan gegee.

Rooikat het sy verwilderdheid oorleef. Nes hy die sloerende droogte oorleef. En hy glimlag nog altyd. “Alhoewel ek die glimlag gereeld moet uitdruk. Dit het al baie beter met ons gegaan, maar ons het eintlik niks om oor te kla nie. Juanita hou op die dorp skool en ek het my sideline. As jy nie vandag ʼn sideline het nie, is jy die spoor byster.”

“Die droogte kan jou druk totdat jy naderhand pensmis proe.”

Rooikat
Met net ʼn bossie hier en ʼn grassie daar is ‘n skaapboer se lewe in hierdie geweste sommer vinnig
baie deurmekaar.
SUBSCRIBE TO OUR NEWSLETTER AND WIN!
Five winner get each a case of Darling Cellar wines, which include:

1 bottle MCC Blanc de Blanc Brut, 1 bottle MCC Brut Rose, 2 bottles Chocoholic Pinotage, 1 bottle De-Alcoholised Sparkly Rose and 1 bottle Old Bush Vines Chenin Blanc.
Click here to enter: https://grondtotmond.com/subscribe/

Strooitjies in die droogte

Die droogte kan jou druk totdat jy naderhand pensmis proe. Die omgewing se gemiddelde jaarlikse reënval is veronderstel om 160 mm per jaar te wees. Oor die afgelope klomp jare was dit beswaarlik 50 mm. En nie in een bui nie. Vyf hier. Agt daar. “Ons is baie ver agter.”

Die bou van treilers van enige aard is Rooikat se sweishart se punt.

Die reëngodin kan haar sluier enige tyd van die begin van die somer af oor die Boesmanland gooi. Maar soos met enige verhouding wat skeefloop, hou sy té lank terug. “Verkieslik moet jy dan elke twee tot drie weke reën kry. Maar dit moet goeie reën wees, met goeie opvolgreën. Verstaan, die opvolg is net so belangrik soos die eerste buie.”

Tydens droogte staar twee keuses die skaapboer in die gesig: moet die vee verminder word (en dan kom die reën oor ʼn dag of drie en sy genetika is daarmee heen), of klou hy aan sy skaap (en daar val nie een druppel water in die afsienbare tyd nie).

Kenners reken dit neem ongeveer drie jaar met bogemiddelde reën vir veld om te herstel. Wat is die kanse? “Ons weet nie of ons nou in ʼn lang- of korttermynsiklus is nie. Een ding wat ek wel weet, is dat dit in my kort lewetjie baie droër geword het. Ons het as kinders naweke in die Sakrivier visgevang. Ek dink daar is vandag nie eens ʼn enkele kuil oor nie.”

ʼn Bok is ʼn boer en ʼn suksesvolle skaapboer in Williston se omte is een met ʼn sideline.
Of jy nou uiesaad plant, volstruise op kraal voer, of staalwerk doen soos Rooikat, ʼn sideline moet jy hê.

Die Boesmanland ontvolk toenemend. Grondpryse val. En boere met die finansiële vermoëns gaan op groter skaal boer. En die res?

“Hier is boere wat nou uiesaad plant. Maar daarvoor moet jy uiteraard water hê. Dit is egter hoë inkomste en hoë risiko. Ander bedryf volstruise in voerkrale. Angorabokke doen tans baie goed – ten spyte van die feit dat jy hulle heeljaar moet voer gee, maak jy steeds ʼn wins.”

Reën sedert die droogte

Rooikat laat weet hulle het sedert die begin van September 2021 reeds 110 mm reën ontvang. Die langtermyn is egter 160 mm per jaar. Volgens Rooikat sal dit omtrent vyf jaar duur vir die veld om te herstel. Maar dan moet hulle vir daardie aantal jare bogemiddelde reën op die regte tye kry tesame met opvolgreën met die regte tussenposes. Anders gaan die proses aansienlik langer duur.

ʼn Gawe Kapenaar het vir Rooikat in Engeland geleer hoe om hoeke in staalwerk uit te werk en daarin skuil die geheim agter sy sukses.

Wanneer is te veel te min?

Rooikat boer met dorpers. Omdat die kontrei te droog is vir ander rasse en die dorper reeds aangepas het om aan die agterspeen te drink. Ten spyte van die ras se gehardheid, het dit ook sy toleransiegrens. En dit is waar strikvrae soos deur ʼn Stalinorrel op die skaapboer afgevuur word. Moet ek my getalle hou waar hulle is? Moet ek my vee minder maak?

“Jy weet nooit of jy die regte ding doen nie. Verkoop jy jou skaap, kom die reën. Dan sit jy sonder vee. Verkoop jy nié en die reën kom óók nie, sit jy ook vas. Ek sit tans met minder as ʼn derde van my skaap en die res is verhuur. Ek wil hulle nie uit my hand laat gaan nie, want ek wil my genetika behou. Ek het hard gewerk om my ooie te kry waar hulle nou is.”

Rooikat het bekend geword as een wat alledaagse ontwerpe ombou tot omtrent nuwe uitvindsels.

Rooikat plant nie uiesaad nie, hardloop nie weg vir katoolse volstruis-mannetjies nie en stamp nie kop met angorabokke nie. Wat is sy sideline?

“Jong, ek het aanvanklik grond gehuur en toe kom vat ʼn droogte my – nie so erg soos hierdie een nie, maar erg genoeg om nie langer die huur te kon betaal nie. Toe kom ek terug Sandtuin toe met die wete dat ek klaar geboer is.” En daar sit Rooikat toe weer, verwilderd in die spreekwoordelike vanghok. Maar ʼn boer maak ʼn plan (of hy nou wil boer of te not).

“Een oggend bel iemand my en vra of ek vir hom ʼn raam vir ʼn sonpaneel kan maak. En só het die oproepe die een na die ander gekom.”

Gryp die tier aan die keel

Rooikat het op skool ʼn bietjie gesweis. Later op Grootfontein óók. Selfs later in Engeland waar hy in die plaatmetaalbedryf werksaam was. Daar loop hy toe ʼn gekwa-lifiseerde ketelmaker uit die Kaap raak.

“Hy was ʼn baie smart ou en het my die fyner tricks geleer. Die man kon ʼn ding een kyk gee en sê die storie is reguit, sweis vas. Ek het ook by hom geleer hoe om hoeke reg uit te werk en om sodoende akkurate staalwerk te doen.”

“Toe kom ek terug Sandtuin toe met die wete dat ek klaar geboer is.”

Met sy reguit reg en sy hoeke akkuraat, besef Rooikat toe dat daar ʼn behoefte aan staalwerk in die omgewing is. Niemand anders doen dit nie. “Ek het baie klein begin en groot probleme gehad – probleme wat ek vandag nog het omdat ons baie afgeleë is. Om staal hier te kry is ’n enorme nagmerrie. Bygesê, my eerste besending staal het met ʼn groentelorrie uit die Kaap gekom. Maar ek het besef as ek hierdie ding wil doen, kon ek nie halfhartig inklim nie.”

Man van staal

’n Rooikat mag miskien verwilderd in ʼn vanghok voorkom, maar hy het ander baie sterk eienskappe (om skaap te vang is duidelik nie een daarvan nie). Soos om in die nag te kan sien. Prooi slinks te bekruip. En waar hy vat, los hy nie sommer nie. Met eienskappe soortgelyk aan sy naamgenoot, sê onse Rooikat toe die staalbedryf die stryd aan.

Die veeldoelige treilerstelsel is vir die skaapboer onontbeerlik. Kompleet met tydelike krale vir wanneer skaap in die veld gewerk word, tot die laai van vee op trokke.

“Ek het driefasekrag geïnstalleer en ekstra kragproppe en ligte aangelê. Toe is ek Kaap toe om die beste driefase MIG-sweismasjien wat ek op daardie stadium kon bekostig, te koop. Die ou werk tot vandag toe nog baie goed. Ek glo ook in brand names en ek koop glad nie onbekende name nie, want ek moet goeie gereedskap hê omdat ek te ver van alles af bly om goed te laat regmaak.”

Ja, jy kan gaan afkyk. Maar almal weet die ouens op YouTube laat alles maklik lyk.

Met redelike dog beperkte kennis, moes hy self leer om alles te doen. Die ontwerp van nuwe toerusting en die vernuwing van bestaande ontwerpe. Ja, jy kan gaan afkyk. Maar almal weet die ouens op YouTube laat alles maklik lyk. Totdat jy dit ook probeer doen.
Nietemin, Rooikat besef toe vinnig hy het ʼn behoefte aan self-voerders (ʼn staalkonstruksie waaruit skaap vreet). Met die bestaande modelle reën die voer nat en die vee kan binne-in klim en daarin mis.

Kat uit die boom gekyk

“Ek het die spulletjie bekyk en ʼn hoogs verbeterde weergawe ontwerp en gemaak. Dit het goed afgegaan en ek maak bitter baie van hulle. Ek het hierdie week ʼn bestelling van dertig ingekry. Hulle is eintlik baie eenvoudig en bekostigbaar. Daarom verkoop ek so baie van hulle.”

Jy kan swaaihekke, treilers met verstelbare skaapkrale, laaibanke en dinge waaraan jy nog nie eens gedink het nie, koop. Ja, tot rooikathokke. Ek wonder stilletjies of Rooikat, wanneer hy binne-in die hok moet sweis, soms effens verwilderd voel.

Nog ‘n voorbeeld van Rooikat se vakkundigheid wat die werf vol staan.

Rooikat wys vir ons sy werkwinkel. Eintlik is sy werkplek ʼn groot deel van die werf. Op pad soontoe stap ons verby sy reënmeter – ʼn biddende staalman op sy knieë wat die meter in sy hande na die hemel hou. Omdat hy alleen werk, staan sy jigs die wêreld vol. (Jigs is apparate wat handvaardiges koop of self maak om hul taak te vergemaklik, soos iets om byvoorbeeld pype te buig en die punte toe te knyp sodat hulle gesweis kan word omdat jy nie ʼn ronde pyp reghoekig aan ʼn ander ronde pyp kan vassweis nie.)

Nou ja, soos die Williston Mall en baie van die Willistonners, is Rooikat ʼn anderster mens. ʼn Begeestering. Mike (ons fotograaf) som hom goed op: “It’s amazing. In spite of the hard life he leads, every time you take his photograph, he just lights up.”


NAAM: Sandtuin | EIENAAR: Hannes Esterhuyse | AREA: Williston, Noord-Kaap | PRODUK: Dorpers en staalwerk | OPSOMMING: Nes die geharde skape waarmee hy boer, is Rooikat se genetika ontwerp om selfs in die droogte-donkerte geleenthede raak te sien en te benut – vandaar synuttige sweiswerk-sylyn. | KONTAK: +27 83 462 9679

2 Comments

  1. Cobus van Deventer says:

    Ek haal my hoed af vir iemand soos “Rooikat”. Ek het dit nou baie geniet om van sy doen en late te lees! Ek sal baie graag daardie omgewing wil besoek en met daardie taaigebreide mense wil kuier. Dankie vir die pragtige leesstof!

  2. Dupie Du Plessis says:

    Goeie naand, Heng dis great om die hande werk te sien en te lees wat daar aan gaan in daardie omgewing. Ek onthou ek het baie baie lank gelede by daardie dorpie verby gery. Ek dink ek het nog iewers verkeerd gery, verdwaal en dis hoe dit gekom het dat ek daar verby is. Tot my spyt nooit daar gestop te bang ek verloor totaal rigting, hahaha. Ek het staalwerk gedagte vir Oom, as ek so mag sê, dis vir iets wat ekself nodig het maar soek iemand om vir my te maak teen vergoeding. Sal bly wees as ek antwoord kry. Groete Dupie Du Plessis vanuit Parys

Leave a Reply

Your email address will not be published.