farmers, Niche Farmers
comment 1

Hoe kleiner hoe kragtiger

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont

Sommer met die intrapslag hou Bruce Milne, verbonde aan Country Bounty naby Curry’s Post in KwaZulu-Natal se Middelland, sy hande na my toe uit en verklaar: “Party dae is die rumatiek só erg dat ek my vingers nie kan buig nie. Drie eetlepels broccoli-mikrogroente vir ʼn paar dae, en hulle werk weer soos die dag van my geboorte.”

Die wye verskeidenheid mikrogroente wat Bruce in ongebruikte sampioenkweekkamers verbou.

’N MAN VOL TALENT

En só moet sy hande wees. Bo en behalwe die feit dat Bruce ʼn mikrogroente-boer is, en ʼn eksplorasiegeoloog wat mynmaatskappye oor die lengte en breedte van Suid- en Oos-Afrika ondersteun, is hy ook ʼn selfopgeleide beoefenaar van selfverdedigingstegnieke. En hy leer veral vroueboere hoe om aanvallers kaalhand kaf te draf.

Die logiese vraag is dus: Hoe kon Bruce die wêreld van eksplorasiegeologie verwissel vir die verbouing van lang, maer en oënskynlik weerlose plantjies? Sou die aanplant van oerwoude, of boer met Brahman-bulle nie nader aan sy aard wees nie?

Gillian se piramiedvormige nisgroentestellasies.

Pousering. Alvorens ons die raaisel rakende Bruce se beroepskeuses oplos, eers ʼn ander een. Wat is microgreens in die soetste taal? Tot tyd en wyl die woordskeppers met ʼn gepaste benaming vorendag kom, plant ons mikrogroente in ontkiemingsbakkies.

PADDASTOELDROME

Terug na Bruce en sy vrou, Gillian. “Ons het in 2015, ná 35 jaar in Oos-Afrika, na Suid-Afrika teruggekeer en begin om op kontrak met sampioene te boer.”

Sampioene, van alle gewasse?

Nietemin, die sampioenboerdery volg toe die weg van alle vlees (of swamme). En daar sit hulle met die sorgvuldig geboude en geïsoleerde tonnels. Wat nou?

Só ontwikkel mikrogroente vanaf saadkorrels tot peuters tot hipergesonde volwassenes.

Vroulief Gillian, ʼn ekoloog, kom met ‘n plan: nisgroente. Daardie soorte wat niemand anders in belangstel om te verbou nie. Kropslaai in hul babaskoene. Spinasie, eweneens, as peuters. Heritage-tamaties met hul om en by 40 variëteite. Al die vreemde plantjies wat baie vroeg van hul ma’s af weggeneem word en teen ʼn aansienlik hoër prys van die hand gesit word.

Bruce en Gillian Milne

TONNELVISIE

Sy gebruik piramiedvormige stellasies om die tonnels optimaal te benut en om water te bespaar. En daar is tientalle stellasies. Elke stellasie verg slegs vier liter water per dag. Indien die duisende plantjies op die ou manier in die grond gegroei het, sou elkeen vier liter water per dag benodig het.

Slim. Maar wat moet haar man doen?

Die antwoord is eintlik heel eenvoudig. Soos hy edelmetale en ander minerale op vreemde plekke soek en vind, net so het hy maniere gesoek om te oorleef. En dit gevind in die kweek van spruite en mikrogroente – in die ongebruikte sampioenkweekkamers. En goud en minerale is mos nie juis groot en gespierd nie.

“Ek het vroeg in my lewe agtergekom mense is eintlik redelik lui. Dus het ek seker gemaak my stelsels sluit absoluut alles in.”

“Ons het begin om ons groente, spruite en mikrogroente by plaaslike boeremarkte te verkoop. Aanvanklik het mense die mikrogroente skuins aangekyk, maar nadat ons hulle ingelig het oor die voedingswaarde van hierdie klein plantjies, het hulle gebyt. En toe wou hulle sommer self begin plant.”

BOU DIT SOMMER SELF

Nóg ʼn o ja-oomblik: immer die ingenieur, het Bruce probeer om namens sy klante kweekstelsels vir spruit- en mikrogroente in die hande te kry, maar dié op die mark was almal ondergeskik, baie duur, of onvolledig. Toe bou hy sy eie.

“Ek het vroeg in my lewe agtergekom mense is eintlik redelik lui. As jy herwaarts en derwaarts moet gaan om al die dele van enige toestel te bekom, los jy dit. Dus het ek seker gemaak my stelsels sluit absoluut alles in.”

Vir mikrogroente verskaf hy die groeimedium (‘n goeie gehalte saaimengsel), die bakkies waarin die sade ontkiem en groei, ʼn verskeidenheid saadkorrels (ertjies, broccoli, geel en swart mosterd, roket en talle ander), geskrewe instruksies sowel as video’s, die ontsmettingsmiddel om die plantjies gesond te hou, en sommer resepte ook!

Boonop het hulle ’n “Midge Trap”, oftewel muggie-lokval. Mikrogroente lok hierdie insekte, en om hulle af te weer, gebruik ’n mens ’n plastiekhouer gevul met appelasyn, water en opwasmiddel, dan maak jy die deksel toe en trek die kleefband van die deksel af om ʼn gaatjie te ontbloot. Muggies word deur die appelasyn gelok, vlieg deur die gaatjie en die arme skepsel se tydelike word met die ewige verruil.

’N GROTER SKAAL?

Natuurlik werk die aanplant van mikrogroente óók op kommersiële skaal. Vyfster-restaurante en -lodges in die grammadoelas (soos op Bazaruto-eiland en in Botswana) word genoop om hul groente ten duurste per lugvrag te laat aflewer. Country Bounty voorsien hulle van kweekstelsels en nou buig daardie sjefs self hulle ‘mikroboompies’ terwyl dié nog klein is.

SPRUITE TEENOOR MIKROGROENTE?

Dit is eerstens belangrik om onderskeid tussen die twee te tref. Spruite groei in klam lug en die wortels, sade en ‘eerste stammetjies’ word als geëet. Mikrogroente groei in ’n groeimedium en jy smul net aan die blare en stamme. Afhangend van die soort sade wat gebruik word, bereik mikrogroente hul volwassenheid tussen een en drie weke. Spruite tussen drie dae en ʼn week.

Die saadkorrels word bo-op die grond gesprinkel. Maklik.

Spruite is gelaai met vesel, proteïne, ensieme, karoteen (in sommige soorte) en niasien (vitamien B-3) wat alles help om jou senustelsel, spysverteringskanaal en vel eksieperfeksie te hou.

“Spruite groei in klam lug en die wortels, sade en ‘eerste stammetjies’ word als geëet. Mikrogroente groei in ’n groeimedium en jy smul net aan die blare en stamme.”

MIKRO VOL MAKRO

Ten spyte van hul beperkte grootte, lewer mikrogroente resultate wat ligjare bo hul gewigsklas is. Daardie klein, maer en tingerige plantjies het 40 maal meer skop as die volwasse weergawes. Byvoorbeeld: rooikool en daikon-radys kom met swaargewig vitamien C en E. Koljander met karoteen. Roket help om kanker te voorkom en verbeter sig. Beet laat die vel blos, verminder haarverlies en reinig die bloed. Broccoli beskik oor ʼn baie hoë inhoud vitamien A, dit help die oë om beter te sien en dit bestry groenstaar (gloukoom) en ander degeneratiewe oogsiektes.

Saadkorrels se ontwikkeling tot volwaardige spruite.

Dit ook belangrik om hierdie soort groente rou te eet, aangesien hitte hul lewenskrag belemmer.

Opvoeding met betrekking tot mikrogroente se voedingswaarde is ʼn onmisbare deel van Country Bounty se onderneming.

“Mikrogroente het miskien nie ʼn direkte invloed op die voorkoming van Covid-19 nie, maar die antioksidante versterk die immuunstelsel en dit maak jou meer weerbaar teen die virus.”

CHEMIESE WAPENRUSTING

Die fitochemikalieë teenwoordig in hierdie piepklein plante beskerm sekere liggaamselle teen beskadiging wat tot kanker kan lei.

Hulle verlaag boonop cholesterolvlakke en help om van daardie ongewenste kurwes en rondings ontslae te raak.

En dan broccoli – daardie nederige plantjie met die hart van ʼn leeu. Dit bevat die bykans magiese chemiese verbinding (sulforafaan) wat nie net die immuniteit aanhelp nie, maar die hart gesonder laat klop. Dit help suikersiekte voorkom. Maak die DNS in liggaamselle weer jonk. Sprinkel dus twee eetlepels van hierdie doepa daagliks oor jou kos en, voor jy jou oë uitvee, is jy weer ʼn blinknuwe sikspens.

Vir hulle wat die herbivoriese leerstellings volg, is hierdie voedingsbron natuurlik voor in die koor. Bruce en Gillian se voorgestelde resepte sluit interessante kombinasies in.

Met hierdie kweekstelsel kan jy binne 12 dae jou eie mikrogroente oes.

KWEEK JOU EIE KLEINTJIES

Week die sade van jou keuse in ʼn flou Milton-oplossing vir agt uur (ek het met ertjies geoefen). Gooi die groeimedium in ʼn saaibak of -houer en strooi die geweekte sade bo-oor. Giet die oorblywende weekwater uit oor die sade om die groeimedium te steriliseer totdat die water onder by die bak uitloop. Bedek die oppervlak met nog ʼn bak en sit ʼn gewig van 200-300 g (soos ‘n beker vol water) binne-in die boonste bak om druk te behou.

Verskuif die stelsel nou vir twee tot drie dae na ʼn donker en goed gelugte plek en gee gereeld water. Ná ʼn paar dae, sodra die sade ontkiem het, draai die boonste bak om sodat dit ʼn koepel oor die plantjies vorm. Sit dit dan vir nog twee tot drie dae terug in ’n donker plek.

Sodra die plantjies die bokant van die omgedraaide bedekkingsbak (of dan, koepel) bereik, haal die bak af en plaas die plantjies in ʼn plek met baie lig (egter nie in direkte, warm sonlig nie). Tot nou mag die plantjies gelerig voorkom, maar nou vervaardig hulle chlorofil en word hulle groen. Sodra die eerste blare vorm, is hulle gereed om oor jou tjops of slaai te sprinkel.

Indien luiheid tussen jou en die aankoop van al die verskillende onderdele staan, bestel die volledige mikrogroente-kweekstelsel teen R220.00 by Country Bounty deur www.countrybounty.co.za te besoek.

Petit bon appétit!


Country Bounty: Curry’s Post, KwaZulu-Natal | Kontak: www.countrybounty.co.za

Filed under: farmers, Niche Farmers

by

Hein is a wandering collector of stories who lives by the words of Lee Marvin in Paint Your Wagon, "I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back." He was born and bred in the Western Cape, but criss-crosses Southern Africa in this quest.

1 Comment

  1. Thys de Beer says:

    Hi ek stel belang

Leave a Reply

Your email address will not be published.