Agri Biz People, farmers, News
Leave a comment

Dis hoe Suid-Afrika se wêreldkampioen-blom gekweek is

Dit was onlangs groot nuus dat ’n Suid-Afrikaanse blom die Plant van die Jaar by die Die Chelsea-blommeskou in die Verenigde Koningkryk gewen het.

Die naam? Agapanthus Black Jack, geteel deur De Wet Plant Breeders in Hartebeespoort. Die plant, endemies aan Suid Afrika, is deur ‘n uitgelese paneel beoordelaars gekies.

Met swart knoppe wat oopmaak in intens donkerpers blomme, het Agapanthus Black Jack 17 ander spesies in die pas afgelope kompetisie geklop. Die groot prestasie was nie sommer ‘n oornag sukses nie. Andy de Wet en Quinton Bean het al in 1995 die nuwe Agapanthus begin produseer.

Andy en Quinton is beide planttelers en eienaars by De Wet plante.

Andy besit The Aloe Farm in Hartbeespoort dam en CND kwekery Sandton. In 2018 het hulle ‘n derde prys by dieselfde skou gewen met Agapanthus Fireworks. “Die probleem was, hy was nie heeltemal oop nie,” vertel Andy. “Dit was eintlik ‘n goeie leerskool. Timing is belangrik want die blom moet op sy beste wees wanneer die beoordelaar dit sien.”

Andy de Wet en Quinton Bean. Planttelers en eienaars van CND kwekery.

“Hierdie keer het ons hom op vier verskillende plekke gekweek om te kyk watter een sal hom sy beste laat lyk vir die skou.”

Die Agapanthus word deur kruisbestuiwing en seleksie gekweek.

“Ons selekteer die ouers en maak 12-duisend hand bestuifde saailinge per jaar groot.”

Andy meen dat eintlik word ons plaaslike flora nie benut nie. “Ons werk op ongeveer 20 inheemse plant genera, en het heelwat bekende plante al vrygestel, soos Aloe ‘Hedgehog’ en ‘Peri Peri’ alsook Plectranthus ‘Magic Mona’.

“Julle moet hierdie spasie dophou want ons is besig om steeds te werk aan die Agapanthus en ‘n klomp ander plante.”


Die Chelsea-blommeskou is ‘n groot blom-en-tuinskou wat jaarliks in Mei in Londen plaasvind Dit word deur die Koninklike Tuinboumaatskappy (Royal Horticultural Society, RHS) in Chelsea in Londen georganiseer.

Die geleentheid word jaarliks deur sowat 150-duisend mense besoek, waaronder lede van die Britse koninklike familie. (Koning Charles III en koningin Camilla het die onlangse vertoning bygewoon). Nuwe plant- en blom-variëteite word tydens die skou bekendgestel.


Grond Tot Mond het Quinton gevra hoe hulle gevoel het toe hulle hoor hulle gaan dalk wen: “Baie opgewonde! Maar ons was steeds bang ‘n Hydrangea gaan dalk wen by die finale beoordeling”.

Wat is die kriteria vir ‘n wen-blom?

Vereistes is ‘n lang blomseisoen, maklik om te groei en ‘n unieke kleur. Andy verduidelik jy wil ‘n plant groei wat WOW is. “Enige blomplant word ingeskryf. Hulle soek iets splinternuut, iets wat anders was as wat ooit in die mark was en wat regtig ‘n nuwe bydrae maak tot tuinbou”.

Hierdie kampioen Agapanthus is eers in ‘n weefsel-kultuur laboratorium gekweek en toe uitgevoer.

Die Chelsea-blommeskou het hierdie jaar ‘n rekord getal besoekers gehad.

“Om ‘n Agapanthus te vermeerder moet mens hulle fisies verdeel, maar dit neem baie lank” verduidelik Andy.

“Om genoeg te kry om die globale mark te voorsien moet die plant in ‘n laboratorium vermeerder. Dan word die klein plantjies uitgestuur vir mense om te groei.

“Die naam Black Jack is spontaan deur ons Britse groeier gekies en ons het dadelik baie daarvan gehou!

“Die naam moet kort en kragtig, maar ook beskrywend wees. Die blomknoppe is swart en as die blomme oopmaak is hulle ‘n donker fluweel pers van kleur.

Hierdie plant is natuurlik nou baie gewild. Kwekerye in Europa en Engeland is tans almal uitverkoop. Daar is baie beperkte hoeveelhede beskikbaar by CND Nursery en The Aloe Farm. Jy kan dit bestel en ook aanlyn koop by https://www.cndnursery.co.za/online-store


De Wet Plant Breeders
www.cndnursery.co.za
hello@cndnursery.co.za
010 035 5212

Leave a Reply

Your email address will not be published.