farmers, News
Leave a comment

Sauvignon Blanc SA se nuwe hoof: Elunda Basson neem die leisels oor

Op Internasionale Vrouedag (8 Maart 2025) vier ons vooruitgang en leierskap – en watter beter tyd om die nuus te deel dat Elunda Basson nou die voorsitter van Sauvignon Blanc Suid-Afrika is? Sy neem oor by RJ Botha, en met haar jare se ondervinding en passie vir wyn is dit ’n groot mylpaal vir die organisasie en vir Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc op die wêreldverhoog.

Sauvignon Blanc SA se nuwe hoof: Elunda Basson. Foto: Natalie Gabriels Photography.

Elunda is al van 2019 af keldermeester by Steenberg Vineyards, waar sy help om Constantia se wynreputasie verder uit te bou. Sy is bekend vir haar kundigheid in Cap Classique, het vir groot name soos Nederburg, Pongrácz en J.C. Le Roux gewerk, en het internasionale toekennings vir haar vonkel- en stilwyne ingepalm.

‘n Nuwe hoofstuk vir Sauvignon Blanc SA

“Om by Steenberg te begin was vir my ‘n groot oomblik – ek het van vonkelwyn oorgeskakel na Sauvignon Blanc, en dis ‘n opwindende uitdaging. Gelukkig is Steenberg se terroir perfek vir topgehalte Sauvignon Blanc, en jy kan dit in elke sluk proe!” sê Elunda.

Sy is sedert 2023 deel van Sauvignon Blanc SA se komitee en glo sterk in samewerking: “Ons moet self die verandering wees wat ons in die wêreld wil sien. Jong wynmakers moet by goeie leiers kan leer, en dit is ‘n voorreg om my kennis met ander te deel.”

Een van die hoogtepunte van die internasionale Sauvignon Selection by CMB-kompetisie was ‘n besoek aan Constantia Wynroete. Voor van links is Brad Paton, wynmaker van Buitenverwachting; ⁠⁠Floricius Beukes, wingerdboukundige van Groot Constantia; Matt Day, wynmaker van Klein Constantia; en Quentin Havaux, uitvoerende hoof van die Concours Mondial de Bruxelles (CMB). Agter van links is ⁠Megan van der Merwe, wynmaker en wingerdboukundige van Beau Constantia; Elunda Basson, keldermeester van Steenberg Vineyards; ⁠⁠Roger Burton, wynmaker van Constantia Royale; Craig Barnard, wynmaker van Eagles Nest; Georgina Wilkinson, bemarkingsbestuurder van Constantia Glen; en Gregory Louw, wynmaker van Silvermist. Foto: Natalie Gabriels Photography.

Sy sien ook uit om innovasie aan te moedig. “Ons verskeidenheid streke is ons grootste bate – ons moet dit benut en verbruikers wys hoekom ons Sauvignon Blanc wêreldklas is. Die internasionale wynbedryf erken dit reeds, nou moet ons net aanhou bou.”

RJ Botha, wat sedert 2018 die voorsitter was, sê Sauvignon Blanc SA is in ’n goeie posisie om vorentoe te beweeg: “Ons het ongelooflike projekte aangepak en Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc op die wêreldkaart gesit. Elunda is die perfekte persoon om dit verder te vat.”

Vroue dryf verandering in die wynbedryf

Elunda is net die tweede vrou wat as voorsitter van Sauvignon Blanc SA dien, en sy is trots daarop om deel te wees van ’n groeiende groep vroue in wynleierskap. “Vroue het bewys dat ons topklas wynmakers en leiers is. Ons moet in onsself glo en mekaar ondersteun.”

Dr Carien Coetzee, wat sedert 2016 as tegniese raadgewer dien, sal in 2025 die sameroeper van die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie wees. Sy beklemtoon dat vroue al hoe meer sleutelpunte in die bedryf inneem en sê mentorskap speel ’n groot rol: “Vroue in wyn breek grense en inspireer verandering – en dit maak ‘n impak!”

Vir meer inligting oor Sauvignon Blanc SA, besoek sauvignonblanc.com of kontak Reinette by reinette@sauvignonblanc.com / 082 808 1114.

Leave a Reply

Your email address will not be published.