Agri-Expo, in vennootskap met Hollard, doen ’n beroep op die suiwelbedryf om jong uitblinkers vir die derde jaarlikse Hollard Game Changer-toekenning te benoem. Die toekenning vereer uitsonderlike talent wat reeds ’n tasbare verskil in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf maak.

Die ontvanger van die 2026-toekenning word op Donderdag 23 April tydens die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings by Nederburg in die Paarl aangekondig. Die wenner ontvang ’n kontantprys van R50 000, geborg deur Hollard.
“Ons nooi rolspelers in die bedryf om persone jonger as 40 jaar te benoem wat reeds ’n betekenisvolle en meetbare bydrae tot die suiwelbedryf lewer.”
“Ons nooi rolspelers in die bedryf om persone jonger as 40 jaar te benoem wat reeds ’n betekenisvolle en meetbare bydrae tot die suiwelbedryf lewer,” sê Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo.
Pamella Dzindikwa (31), produksiehoof by Puglia Cheese in Somerset-Wes, het die toekenning in 2025 ontvang. Die eerste ontvanger was Clement October (34), hoofkaasmaker van Klein River Cheese in Stanford, wat in 2024 aangewys is.
“Albei se loopbane getuig van merkwaardige groei – van junior poste tot sleutelrolle waarin hulle gevestigde handelsmerke versterk en uitbrei deur uitnemende suiwelprodukte.”
“Albei se loopbane getuig van merkwaardige groei – van junior poste tot sleutelrolle waarin hulle gevestigde handelsmerke versterk en uitbrei deur uitnemende suiwelprodukte,” sê Milford.
“Die sukses van vorige wenners bevestig hoe belangrik dit is om doelbewus in jong talent te belê,” sê Andries Wiese, Hoof van Landbou by Hollard. “Wanneer jong mense tot sleutelrolspelers in die suiwelwaardeketting ontwikkel, is dit nie net wonderlik vir hul individuele loopbane nie; die sektor se langtermyn-mededingendheid en volhoubaarheid baat ook daarby. Die Hollard Game Changer-toekenning is ons bydrae om die volgende geslag kundigheid, innovasie en leierskap te erken en aan te moedig.”
BENOEM ’N GRENSVERSKUIWER
Voltooi die benoemingsvorm by https://sadairychamps.co.za/. Benoemings sluit op 30 Maart 2026. Rig navrae aan charlotte@agriexpo.co.za.
Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe vind plaas met die ondersteuning van platinumvennote IMCD en dsm-firmenich, asook ander bedryfsvennote.

