Die 2026 SA Suiwelkampioenskappe trek hierdie week die suiwelbedryf se voorste rolspelers na Eensgezind buite Durbanville, en vanjaar is dit groter as ooit. Rekordgetalle vir inskrywings, produsente, beoordelaars en vennote getuig van ’n bedryf wat, ten spyte van uitdagings, steeds op gehalte ingestel bly.
Met altesaam 1 227 produkte, 81 produsente, 130 beoordelaars en 20 vennote word nuwe rekords oor die hele linie opgestel. Dit bevestig weer die omvang van die kampioenskappe, wat reeds vir byna twee eeue as ’n belangrike maatstaf vir uitnemendheid in die suiwelbedryf dien.

Groter as ooit tevore
“Dit is deur die bank die hoogste getalle wat ons nog gesien het,” sê Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, wat die kampioenskappe reeds sedert 1834 aanbied. Volgens hom wys die volgehoue deelname dat produsente steeds groot waarde in die platform sien.
“Die bedryf het uitdagings, maar die volgehoue fokus op gehalte op hierdie vlak wys die vertroue wat produsente steeds in Agri-Expo en hierdie platform het,” sê hy.
Die beoordeling het Woensdag 25 Maart met melk en roomys afgeskop, gevolg deur kaas en botter op Donderdag 26 Maart. ’n Belangrike mylpaal vanjaar is dat 700 kase beoordeel is, die meeste nóg in dié kategorie. Die kampioenskappe word op Vrydag 27 Maart afgesluit met jogurt en gefermenteerde produkte in die kollig.

Gehalte onder druk, maar steeds op standaard
Volgens hoofbeoordelaar Graham Sutherland kom vanjaar se rekords in ’n tyd waarin die bedryf onder groot druk funksioneer. Hy verwys veral na die huidige bek-en-klouseer-uitbreking en die bykomende vereistes waaraan produsente en vervaardigers moet voldoen.
“Met die huidige bek-en-klouseer-uitbreking as agtergrond, verdien suiwelboere erkenning vir hul veerkragtigheid en vasberadenheid om melkproduksie vol te hou,” sê hy. “Ook vervaardigers wat aan bykomende vereistes moet voldoen, lewer steeds ’n uitsonderlike reeks produkte. Die gehalte van inskrywings bly deurgaans op ’n baie hoë vlak.”
Dit is juis hierdie vermoë om aan te pas en aan te hou presteer wat die kampioenskappe jaar ná jaar relevant hou.

Meer as net ’n kompetisie
Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, dr. Ivan Meyer, het die beoordeling bygewoon om beoordelaars persoonlik te bedank en die kampioenskappe se bydrae tot die ontwikkeling van bedryfskennis te beklemtoon. Hy het veral verwys na die belangrike rol wat sensoriese evaluering speel, asook na internasionale samewerking en planne om suiweluitnemendheid in die provinsie verder te versterk.
Vanjaar sluit die beoordeling ook nuwe elemente in. Dit sluit onder meer ’n toetslopie van beskrywingsgebaseerde terugvoer in sekere klasse in, asook verfynde beoordelingsmetodes wat met internasionaal erkende navorsing belyn is. Die doel is om beoordelaars beter te ondersteun en produsente van nog meer bruikbare terugvoer te voorsien.
Agri-Expo se president, Chris Fourie, sê deelname aan die kampioenskappe strek veel verder as die kompetisie self.
“Dit gaan daaroor om terug te ploeg in die bedryf, standaarde te verhoog, innovasie aan te moedig en die sektor as geheel vorentoe te neem,” sê hy.

Vennote help om gehalte moontlik te maak
Milford het ook sy dank uitgespreek teenoor die bedryfsvennote wat die kampioenskappe moontlik maak. Volgens hom speel hulle ’n belangrike rol om die platform op hierdie vlak aan te bied.
Die platinumvennote is IMCD en DSM-Firmenich, terwyl Novonesis, SIG en Synercore as diamantvennote betrokke is. Goue vennote sluit Woolworths, Condio, Hollard, Checkers, IFF, Orchem en die Wes-Kaapse Departement van Landbou in. Mane, SPAR en Fruitique tree as silwervennote op, met Agrana Fruit, Polyoak Packaging, Tetra Pak en Ecowize as bronsvennote.

Oë nou op die toekennings
Die wenners word op 23 April tydens die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings by Nederburg Wynlandgoed in Paarl aangekondig. Die kampioenskappe sluit sowat 150 klasse vir kaas, melk, room, jogurt, botter, roomys en gefermenteerde produkte in. Nuwe klasse vanjaar sluit onder meer smoothies en kondensmelk in.

Klaswenners word as SA Kampioene aangewys, terwyl produkte van uitstaande gehalte met die gesogte Qualité-merk bekroon word, die hoogste erkenning in die suiwelbedryf. Die beste produk algeheel word as Produk van die Jaar aangewys.
Vir die bedryf is dit dus nie net ’n kans om mee te ding nie, maar ook om standaarde te toets, innovasie te wys en erkenning vir uitnemendheid te ontvang.
