Agri Biz People, Agri-entrepeneur, Events, Farm to Fork, farmers, News
Leave a comment

Van Perskesnippers tot Spekboomblatjang: Rekordgetal Preserveerprodukte Beïndruk met tradisie én Innovasie

Die tweede Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe, aangebied deur Agri-Expo, het Woensdag 29 Julie by Eensgezind buite Durbanville nuwe hoogtes bereik toe 85 vervaardigers ‘n rekordgetal van 700 gepreserveerde vrugte- en groenteprodukte vir beoordeling ingeskryf het. Vanjaar is die inskrywings deur ‘n paneel van 61 beoordelaars in meer as 100 klasse beoordeel, van konfyte, marmelades, blatjang en piekels tot pesto’s, olywe en ander vernuwende skeppings.

Agri-Expo se tweede jaarlikse Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe het op 29 Julie 2026 afgeskop met die beoordeling by Eensgezind buite Durbanville. Van links is Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, saam met beoordelaars Marietjie van Jaarsveld, Ministeriële Kantoorhoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Charlene Nieuwoudt, Kommunikasiebestuurder van ClemenGold, en Wendy Petersen, Uitvoerende Hoof van SA Olive.  Foto: A Gorman Photography 

GROEI IN DEELNAME BEVESTIG KAMPIOENSKAPPE SE WAARDE

“Die rekordgetal inskrywings is ‘n bewys van die vertroue wat produsente in hierdie kompetisie het,” sê Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo. “Ons is besonder trots op die beduidende toename op verlede jaar se 456 inskrywings.”

“Die groei bevestig dat die kampioenskappe ‘n waardevolle platform bied vir sowel gevestigde as opkomende vervaardigers om hul produkte teen die hoogste standaarde te laat beoordeel, terwyl dit ook verbruikersvertroue in Suid-Afrikaanse preserveerprodukte versterk.”

‘n Paneel van 61 kenners het 700 inskrywings van 85 vervaardigers beoordeel tydens die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe wat op 29 Julie by Eensgezind buite Durbanville plaasgevind het. Foto: A Gorman Photography

Agri-Expo, wat vanjaar sy 195ste bestaansjaar as landbougenootskap vier, het die kampioenskappe in 2025 gevestig om uitsonderlike gehalte te erken, entrepreneurs te ondersteun en die kuns van voedselpreservering te bevorder.

Hoofbeoordelaar Susina Jooste tydens die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe wat op 29 Julie by Eensgezind buite Durbanville plaasgevind het. Foto: Isabeau Joubert Botha 

KUNDIGE BEOORDELING VERSTERK GELOOFWAARDIGHEID

Volgens Chris Fourie, President van Agri-Expo, lê die sukses van die kampioenskappe nie net in die groot aantal inskrywings nie, maar ook in die gehalte en integriteit van die beoordelingsproses.

“Die kundigheid van ons beoordelaars gee geloofwaardigheid aan hierdie kampioenskappe. Met vyf beoordelaars per produk kan vervaardigers vertroue hê dat elke produk billik, onafhanklik en konsekwent beoordeel word.”

Die televisiepersoonlikheid en sjef Yolani Abrahams, ‘n beoordelaar by die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe wat op 29 Julie by Eensgezind buite Durbanville plaasgevind het.

Produkte is deur middel van ‘n blinde proeproses beoordeel deur ‘n uiteenlopende paneel van kundiges uit die kos-, gasvryheids-, kleinhandel- en landbousektor.

TRADISIE EN INNOVASIE LOOP HAND AAN HAND

Die paneel is beïndruk met die uitsonderlike gehalte van sowel tradisionele, outentieke produkte as vernuwende skeppings wat verrassende geurkombinasies en hedendaagse leefstyltendense weerspieël.

Die beoordeling van die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe het op 29 Julie by Eensgezind buite Durbanville plaasgevind. Foto: A Gorman Photography

“Wat my die meeste beïndruk, is dat die tradisionele, outentieke produkte op presies dieselfde hoë vlak meeding as die vernuwende produkte,” sê hoofbeoordelaar Susina Jooste, bekende koskenner en opleidingspesialis.

“Ons sien produkte wat jou aan jou ouma se kombuis herinner – ‘n beoordelaar het selfs vertel hoe perskesnippers trane in haar oë gebring het – maar ook waagmoedige nuwe skeppings wat vars denke weerspieël, soos groen olywe gevul met kasjoeneute, gedroogde gesoute olywe, spekboomblatjang en ingelegde jalapeños in ‘n soet stroop.”

Volgens Jooste bevestig die inskrywings dat daar ruimte in die mark is vir sowel die bekende smake van vroeër as nuwe, avontuurlustige geurkombinasies.

Anika van der Mescht, hoof van voedselontwikkeling by Shoprite Checkers en ‘n beoordelaar by die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe wat op 29 Julie by Eensgezind buite Durbanville plaasgevind het.

PRESERVEERPRODUKTE VERTEL SUID-AFRIKA SE VERHAAL

“Preserveerprodukte is soveel meer as net produkte op ‘n rak. Hulle vertel die verhaal van mense,” sê Fourie.

“Vir sommige het die maak van preserveerprodukte uit nood ontstaan om ‘n inkomste te verdien. Vir ander was dit ‘n manier om waarde tot vars produkte toe te voeg of ‘n passie in ‘n suksesvolle onderneming te omskep. Oor geslagte heen het verskillende gemeenskappe hul eie resepte, geure en tradisies bygedra. Vandag vier ons daardie ryk kos-erfenis, maar ook die produsente en vervaardigers wat aanhou innoveer en streef na uitnemendheid.”

Volgens Fourie sal dit nie moontlik wees om die kampioenskappe aan te bied sonder die ondersteuning van die wyer landboubedryf nie.

Die televisiepersoonlikheid en resepteboekdoyenne Carmen Niehaus, ‘n beoordelaar by die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe wat op 29 Julie by Eensgezind buite Durbanville plaasgevind het.

“Ons bedank graag ons vennote ClemenGold, Ardagh Glass Packaging–Africa, Hollard, Ecowize en SA Olive.”

Die wenners van die tweede Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe word op 27 Augustus 2026 by Eensgezind aangekondig.

Vir meer inligting, besoek www.sapreservechamps.co.za of stuur ‘n e-pos aan charlotte@agriexpo.co.za. Volg @AgriExpo1 op Facebook, X, Instagram en LinkedIn en gebruik #AgriExpo en #SAPreserveChamps.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *