Mense eet minder geblikte vrugte. Vars is in. Suiker is uit. En enigiets wat as verwerk beskou word, moet toenemend teen die persepsie beveg dat dit minder gesond is. Dit is volgens Kobus Gertenbach, uitvoerende hoof van die Premier groep, een van die groot strukturele probleme wat nou agter Premier se plan staan om sy R1 miljard Fruit Products Western Cape inmaakfabriek op Tulbagh te sluit.

Die voorgenome sluiting het skokgolwe deur die Wes Kaapse vrugtebedryf gestuur. Sowat 200 produsente, ongeveer 2 000 ha boorde en duisende permanente en seisoenale werksgeleenthede word met die aanleg verbind. Die fabriek verwerk normaalweg tussen 55 000 t en 60 000 t vrugte per jaar en koop jaarliks vrugte ter waarde van ongeveer R300 miljoen van produsente. Maar die probleem begin nie op Tulbagh nie. Dit begin duisende kilometers verder, op winkelrakke in Amerika, Europa en Asië.
Verbruikers draai weg van die blik
Gertenbach sê die afname in vraag na geblikte vrugte is reeds oor jare sigbaar. “Oor die laaste tien jaar eet die Amerikaners amper 40% minder geblikte vrugte as voorheen. En dit voel asof daardie tendens besig is om te versnel in terme van hoe dit afneem.” Hy meen die verskuiwing hou onder meer verband met ’n wêreldwye beweging weg van produkte met ’n hoë suikerinhoud. “Ek dink dit is maar tot ’n groot mate deel van die wêreldwye beweging verder weg van suikerprodukte af.”
Daarby kom ’n tweede probleem: persepsie. “Ek dink die geblikte vrug word maar gesien as iets wat geprosesseer is en dan word dit nie noodwendig uit ’n gesondheidsoogpunt dieselfde gesien as vars vrugte nie.” Dit beteken nie noodwendig dat alle geblikte vrugte ongesond is nie. Vrugte wat sonder groot hoeveelhede bygevoegde suiker ingemaak word, kan steeds heelwat van hul voedingswaarde behou. Die probleem vir die bedryf is eerder hoe die moderne verbruiker daarna kyk. Ontleders in die VSA wys reeds geruime tyd daarop dat verbruikers vars produkte toenemend met beter gehalte en gesondheid vereenselwig, terwyl geblikte produkte teen ’n negatiewe persepsie oor verwerking, suiker en gehalte moet baklei. Vir ’n bedryf wat grootliks van volume afhanklik is, maak selfs ’n geleidelike verandering in eetgewoontes uiteindelik ’n enorme verskil.
Daar is eenvoudig te veel vrugte
Die dalende vraag kom boonop op dieselfde tyd as ’n wêreldwye ooraanbod. “Die internasionale situasie lyk besonder sleg. Daar is geweldige oorproduksie wêreldwyd. Die Chinese het in die laaste drie jaar die mark in enorme hoeveelhede begin betree,” sê Gertenbach. China was volgens hom vroeër ’n belangrike afsetmark vir Suid Afrikaanse geblikte vrugte, maar het intussen self ’n beduidende mededinger geword.
By ’n vergadering met produsente op 11 Augustus het Gertenbach gesê Premier het voorheen sowat 300 houers produk na China gestuur, terwyl dié uitvoer nou bykans verdwyn het. Die Amerikaanse mark het terselfdertyd sy eie ontwrigting beleef. Del Monte Foods, een van die bekendste name in Amerikaanse geblikte voedsel, het in Julie 2025 om Chapter 11 bankrotskapbeskerming aansoek gedoen. In Februarie 2026 is ’n transaksie goedgekeur waardeur Pacific Coast Producers Del Monte se voorraad geblikte vrugte en vrugtekoppies, asook sekere handelsmerkregte, bekom het.

Volgens Gertenbach het dié voorraad verdere druk op ’n Amerikaanse mark geplaas wat reeds met ’n ooraanbod sit. Dan is daar ook Amerikaanse invoertariewe. Ongeveer 90% van Tulbagh se geblikte vrugte word uitgevoer, wat die onderneming besonder blootgestel maak aan veranderende handelsomstandighede. Premier het swak wêreldvraag, hoë bedryfskoste en Amerikaanse tariewe as deel van die redes vir die voorgenome sluiting genoem. Gertenbach het aan produsente gesê sowat 35% van Premier se volumes het voorheen na die Amerikaanse mark gegaan, maar dat dié mark ná die nuwe tariewe vir Premier feitlik tot stilstand gekom het.
Van 60 000 t na ’n mark vir net 25 000 t
Die syfers verduidelik waarom Premier meen die probleem nie eenvoudig deur kostebesnoeiing opgelos kan word nie. Die Tulbagh fabriek moet tussen 55 000 t en 60 000 t vrugte per jaar verwerk om sy skaal te benut. Premier se verkoopspanne het egter volgens Gertenbach ná gesprekke met klante in onder meer die VSA, Europa, Nieu Seeland en Asië tot die gevolgtrekking gekom dat daar tans ’n mark vir slegs ongeveer 25 000 t is. Dit laat Premier met ’n aanleg wat eenvoudig te groot is vir die hoeveelheid produk wat hy glo verkoop kan word. Gertenbach sê daar is tot dusver geen voorstel op die tafel wat die kernprobleem oplos nie. “Daar is geen ander opsies op die tafel wat enige iemand opgebring het wat gaan maak dat ons nie oor twee jaar van nou af honderde miljoene rande agter gaan wees, en presies in dieselfde proses gaan sit en steeds nie die probleem opgelos het nie.”
Vir ’n boer kan die kraan nie net toegedraai word nie
’n Fabriek kan ophou produseer. ’n Boer kan nie drie maande voor die oes ’n boord afskakel nie. Baie van die sowat 200 tot 220 produsente wat Tulbagh voorsien, verbou kultivars wat spesifiek vir inmaak ontwikkel is en nie eenvoudig na die vars uitvoermark herlei kan word nie. Boorde is langtermynbeleggings en produsente het teen die tyd van Premier se aankondiging reeds ’n groot deel van hul produksiekoste vir die komende oes aangegaan. Die Canning Fruit Producers’ Association, Agri SA en Agri Wes Kaap het daarom gevra dat Premier bestaande verpligtinge teenoor produsente eerbiedig en alle moontlike alternatiewe ondersoek voordat onomkeerbare stappe geneem word.
Premier het intussen ’n belangrike toegewing gemaak. Gertenbach het op 11 Augustus aan produsente gesê die maatskappy sal hulle betaal vir vrugte waarvoor daar in die komende seisoen nie ’n ander bestemming gevind kan word nie. Premier wil volgens hom eers bepaal hoeveel vrugte Langeberg kan absorbeer en hoeveel na droogvrugte, sap of puree herlei kan word. Daarna sal daar gekyk word na vrugte waarvoor daar geen alternatiewe mark is nie.
“Ons wil van hier af, boer vir boer, area vir area, met almal werk,” sê hy.
Premier beskou dit volgens Gertenbach eerder as ’n morele verantwoordelikheid as ’n voortgesette kontraktuele verpligting, ’n standpunt waaroor produsenteorganisasies nie noodwendig met die maatskappy saamstem nie.

Rhodes se geblikte vrugte kan verdwyn
Indien die artikel 189 konsultasieproses nie ’n werkbare alternatief oplewer nie, sê Gertenbach Premier se besluit sal verder strek as die sluiting van een fabriek. Die groep is van plan om heeltemal uit die geblikte vrugtekategorie te tree. “Die Rhodes handelsmerk vir ’n geblikte peer of perske gaan van die rak af verdwyn,” sê hy.
Dit beteken nie die Rhodes handelsmerk self verdwyn nie. Produkte soos tamaties, beet, groente, agurkies en sappe sal steeds onder die Rhodes naam verkoop word. Dit is spesifiek die tradisionele geblikte vrugtekategorie waaruit Premier wil tree. Die artikel 189 konsultasieproses met werknemers is egter nog nie afgehandel nie en geen finale besluit oor die sluiting kan geneem word voordat dié proses voltooi is nie. Gertenbach het aangedui dat Premier teen die einde van Augustus in ’n posisie behoort te wees om daadwerklike besluite te neem.
Is dit die mark of bestuur?
Die aankondiging het ook debat ontlok oor wie verantwoordelikheid dra wanneer ’n landboumark struktureel verander. Op sosiale media wys sommige daarop dat produsente reeds in ander streke gewasse uitfaseer en na nuwe markgeleenthede beweeg, terwyl ander meen swak bestuur kan nie bloot op marktoestande geblameer word nie. Wat wel duidelik is, is dat die probleem veel groter is as een fabriek op Tulbagh. Die inmaakvrugtebedryf sit met dalende verbruik, sterker internasionale mededinging en moeiliker uitvoeromstandighede. Produsente kan egter nie ’n boord soos ’n fabriek afskakel nie. Boorde word oor dekades beplan en kan nie binne enkele maande na ’n ander gewas omgeskakel word nie. Premier wil daarom saam met produsente kyk watter vrugte elders geplaas kan word, watter boorde moontlik uitgehaal moet word en watter gewasse op lang termyn beter vooruitsigte bied.
Wanneer verbruikers ophou koop, kan ’n fabriek sy masjiene afskakel. Vir ’n boer met ’n volwasse perske- of peerboord is die antwoord veel minder eenvoudig.

