News
Leave a comment

Kanola: van wisselbougewas tot lonende kerngewas

Die Suid-Afrikaanse kanolabedryf se sterk groei oor die afgelope dekade skep nuwe geleenthede vir plaaslike verwerking en markontwikkeling. Volhoubare uitbreiding sal egter afhang van toegang tot verbeterde genetika en nuwe tegnologie, verantwoordelike produksiepraktyke en die ontwikkeling van plaaslike én uitvoermarkte.

Dit was die kernboodskap uit die “Kanola: ’n Goue Toekoms”-paneelgesprek wat op 10 September tydens NAMPO Kaap plaasgevind het. Corné Louw, Graan SA se hoof van Graanekonomie en Lededienste, het saam met Franco le Roux, Zander Spammer, Andries Theron en Piet Lombard gekyk na die bedryf se groei, toekomstige produksiepotensiaal, verwerking, markontwikkeling, genetika en risiko’s.

Kanola het oor die afgelope jare van ’n alternatiewe wisselbougewas tot ’n kernkomponent van veral die Wes-Kaapse produksiestelsel ontwikkel. Suid-Afrikaanse aanplantings het van 34 000 ha in 2010 tot 74 120 ha in 2020, 165 750 ha in 2024 en 174 515 ha in 2025 gegroei. In 2026 staan aanplantings op sowat 192 300 ha, waarvan ongeveer 188 000 ha in die Wes-Kaap is.

Die groei weerspieël vooruitgang in genetika, produksietegnologie, meganisasie, navorsing en markontwikkeling, maar ook die waarde van kanola binne ’n volhoubare wisselboustelsel.

Kanola is vandag veel meer as ’n hulpmiddel vir wisselbou en onkruidbeheer. Dit het ’n belangrike ekonomiese gewas in eie reg geword. In moeilike graanseisoene het kanola reeds vir baie Wes-Kaapse produsente ’n belangrike bydrae tot hul boerdery se inkomste gelewer, en dit kan vanjaar weer die geval wees.

Nuwe verwerking volg produksiegroei

Overberg Agri beplan moontlik ’n nuwe kanolapersaanleg in die Swartland teen 2027 en is reeds besig met die nodige aansoeke en studies. Vir produsente kan dit beteken dat meer kanola nader aan die produksiegebied verwerk word, met minder vervoer en meer plaaslike waardetoevoeging. Die plan wys ook dat daar vertroue in die bedryf se verdere groei is.

Meer produksie vra groter markte

Die paneel het beklemtoon dat produksie en markte saam moet groei. Namate meer kanola plaaslik geproduseer word, sal uitvoermarkte belangriker raak, veral as produksie vinniger groei as plaaslike verbruik en verwerking. Plaaslike verwerking bly egter ’n groot geleentheid. Deur meer olie, kanolameel en ander produkte hier te verwerk, bly meer waarde in die plaaslike ekonomie. Daar is ook ruimte om die gebruik van kanolameel in die pluimvee-, suiwel- en veevoerbedrywe verder uit te brei.

Genetika en tegnologie bly belangrik

Nuwe genetika en saadtegnologie sal belangrik wees vir kanola se verdere groei. Beter kultivars het reeds gehelp om opbrengste te verbeter en produsente beter teen produksierisiko’s te beskerm. Die paneel het ook beklemtoon dat landbouchemie verantwoordelik gebruik moet word. Dit help om onkruidweerstand te beperk en beskerm die langtermyn-doeltreffendheid van beheermaatreëls. Verkeerde gebruik kan ook toegang tot sekere markte benadeel.

Die waardeketting moet saam groei

Die kernboodskap is dat kanola se groei deur die hele waardeketting gedra moet word. Meer hektare alleen is nie genoeg nie. Die volgende groeifase vra winsgewende produsente, beter genetika en tegnologie, genoeg verwerkingskapasiteit en groter plaaslike en uitvoermarkte. Kanola se sukses is tot dusver gebou op samewerking tussen produsente, navorsers, saadmaatskappye, verwerkers en bemarkers. Dié samewerking sal ook belangrik wees om die volgende groeifase volhoubaar te maak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *