Vyf vroue van die Makholokoe-gemeenskap in die Vrystaat pak ’n gekombineerde hoender- en groenteprojek aan wat uiteindelik ’n volhoubare inkomste moet oplewer. Die projek begin met 150 Boschveld-kuikens en ’n verskuifbare hoenderhok wat ook vir groenteproduksie ingespan sal word.

’n Nuwe landbouontwikkelingsprojek in Mahaseng, naby Harrismith in die Vrystaat, kombineer pluimveeboerdery met groenteverbouing om voedselsekerheid te verbeter en kleinskaalse kommersiële landbou te bevorder.
Die projek is op 19 November deur AfriForum en die Makholokoe-kultuurgemeenskap van stapel gestuur. Dit vorm deel van die Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN), ’n gesamentlike landbouontwikkelingsinisiatief van AfriForum en Saai.
Vyf vroue, onder wie die projekbestuurder, prinses Masetjhaba Moloi, is direk by die onderneming betrokke. Sowat 40 ander gemeenskapslede wat reeds aan die groter groenteprojek van die organisasie Ulwazinempilo NPO deelneem, sal ook by die opleiding en beskikbare hoendermis baat vind.

Geharde hoenders vir laer insetkoste
Die projek begin met 150 vier weke oue Boschveld-kuikens. Volgens Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, is dié ras spesifiek gekies omdat dit gehard is en met minder medikasie kan floreer.
Die Boschveld-ras is uit inheemse hoenders ontwikkel en is daarom geskik vir omgewings waar hulpbronne beperk is.
Wanneer die hoenders 12 weke oud is, sal 50 uitgesoek word om verkoop of aan gemeenskapslede geskenk te word. Drie hane sal by die oorblywende henne gehou word sodat die projek ook self kuikens kan teel.
Die aanvanklike ondersteuning sluit ’n hoenderhok met toebehore, genoeg groentesaad vir ’n jaar en tien vrugtebome in.
Hoendermis gee groente ’n hupstoot
Die projek gebruik ’n verskuifbare hoenderhok van 2 m by 6 m wat maandeliks na ’n nuwe gedeelte grond geskuif word.
Nadat die hok verskuif is, word die helfte van die opgehoopte hoendermis verwyder om in die groter gemeenskapstuin gebruik te word. Die res word in die grond ingewerk voordat groente op die voormalige hokoppervlak geplant word.
Oor twaalf maande kan die stelsel uiteindelik tot 144 m² grond vir groenteverbouing beskikbaar stel, benewens die bestaande gemeenskapstuin.
Gewasse soos beet, spinasie en uie word beoog, maar volgens Barend sal die deelnemers eers daarop konsentreer om die hoenderboerdery behoorlik te vestig voordat die groenteproduksie begin.

Van voedselvoorsiening tot kommersiële onderneming
Hoewel die onmiddellike prioriteit is om toegang tot voedsame, proteïenryke voedsel te verbeter, is die langtermyndoel om eiers, hoenders en groente kommersieel te verkoop.
Volgens Barend kan die projek slegs finansieel volhoubaar wees indien verkope uiteindelik voldoende inkomste lewer om voerkoste en ander bedryfsuitgawes te dek.
“Die doel van die projek is dus spesifiek nie om afhanklikheid te skep nie, maar om deelnemers selfstandig te maak,” verduidelik hy.
Deelnemers ontvang opleiding in pluimveeboerdery en word ook in rekordhouding en ondernemingsbestuur ondersteun. Hulle moet daagliks kontrolelyste voltooi en weekliks terugvoer deur ’n WhatsApp-groep aan die projekspan verskaf.
Uitdagings word telefonies of deur die groep hanteer, met kundiges wat waar nodig betrek word. Afgri Retail Harrismith ondersteun die projek met plaaslike kundigheid en toegang tot sy netwerk.
’n Sonkragaangedrewe kamera met selfoonverbinding help ook om die veiligheid van die projek te monitor.
Ander projekte begin reeds produseer
Die Makholokoe-projek is nie die eerste landbouonderneming wat deur RRAIN ondersteun word nie.
In September is ’n soortgelyke hoenderprojek by Disaneng in Noordwes saam met die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi begin. Die verkoop van die eerste 50 hoenders is reeds aan die gang.
By Thaba’Nchu in die Vrystaat het ’n inheemseveldbokprojek van die Barolong Boo Seleka vanjaar vir die eerste keer bokke op ’n vleissentraalveiling verkoop. Die projek het ook in September aan die Inheemseveldbokgenootskap se nasionale veiling in Bloemfontein deelgeneem.
Ander projekte het reeds produksieresultate gelewer. Die Ikageng-groentetuin by Noga’s Post, Thaba’Nchu, voorsien groente aan plaaslike voedingsprojekte, terwyl die Mofumahadi MaMontoeli Mota-groenteprojek by Tsheseng, Phuthaditjhaba, reeds ’n surplus bo die plaaslike voedingskema se behoeftes geproduseer het.
’n Gesamentlike lêhoenderprojek in Thaba’Nchu het ook in Februarie met eierproduksie begin.
Watervoorsiening bly ’n uitdaging
Vir die uitbreiding van die Makholokoe-projek is die verbetering van watervoorsiening die eerste prioriteit.
Volgens Barend bly beperkte infrastruktuur, bestuursvaardighede, tegniese kennis en die koste van deurlopende insette van die grootste struikelblokke vir landbouontwikkeling in diep landelike gemeenskappe.
Die plan is daarom om die projek stelselmatig uit te bou namate deelnemers se vaardighede en bestuursvermoë ontwikkel en die produksie meer gevestig raak.
AfriForum en die Makholokoe het tydens die bekendstelling ook ’n wedersydse erkennings- en samewerkingsooreenkoms onderteken.
Volgens die Makholokoe se tradisionele leier, morena e moholo Paulos Moloi, bied die projek die gemeenskap die geleentheid om praktiese landbouvaardighede te ontwikkel en op die lang duur ’n meer volhoubare inkomste te verdien.

