Dis nou la dolce vita hier in Porterville
“Ek is al my hele lewe hier,” sê Jan-Hendrik Basson wat op die familieplaas Dasbosch grootgeword het. Dit behoort nou aan sy oom, die bekende sakeman Whitey Basson. Jan-Hendrik het die stuk grond van 80 ha, wat vandag Wêreldsgeluk is, in 2003 aan Advokaat Willie Duminy verkoop. Hy besit steeds die buurplaas, Windvlakte, waar sy vrou, Merna, help om die 444 ha met beeste, skape, weiding en haar 45 Arabierperde te bestuur. Jan-Hendrik en Merna het in Stellenbosch ontmoet waar sy ‘n BSc Landbou behaal het, en hy by Elsenburg ‘n diploma in landbou.