Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont
“Ek is al my hele lewe hier,” sê Jan-Hendrik Basson wat op die familieplaas Dasbosch grootgeword het. Dit behoort nou aan sy oom, die bekende sakeman Whitey Basson. Jan-Hendrik het die stuk grond van 80 ha, wat vandag Wêreldsgeluk is, in 2003 aan Advokaat Willie Duminy verkoop. Hy besit steeds die buurplaas, Windvlakte, waar sy vrou, Merna, help om die 444 ha met beeste, skape, weiding en haar 45 Arabierperde te bestuur. Jan-Hendrik en Merna het in Stellenbosch ontmoet waar sy ‘n BSc Landbou behaal het, en hy by Elsenburg ‘n diploma in landbou.
Wêreldsgeluk se eerste olyfboorde is in Maart 2005 geplant met ses olyfolie-kultivars, sowel as Mission- en Kalamata-olywe om in te lê. Tans het die plaas 40 ha onder olywe en die olyfolie word onder die handelsmerk Andante bemark. “Willie reis baie en hy hou veral van Spanje. Dit het sy besluit om ‘n olyfplaas te vestig beïnvloed, sowel as die naam Andante. Dit is ‘n Italiaanse musiekterm wat “stadige tempo” beteken. Al die olies in die reeks is na musiekterme vernoem.”
Die plaas pars die Andante-reeks, sowel as grootmaat olie uit hul eie en ander produsente se olywe. “In 2012 het ons 15% van al die olyfolie in Suid-Afrika gepars,” sê Jan-Hendrik. “Op ‘n stadium het ons die olie gemaak vir Nataniël se reeks wat in Checkers verkoop word.”
Jan-Hendrik het ‘n proe-sessie met drie olies voorberei: ‘n bekertjie om elkeen mee te proe en bakkies eet-olywe. Sy gunsteling kultivar is Noccelara wat groener gepluk word en kleiner volumes premium kwaliteit lewer. “Ek is mal oor intensiewe olies met ‘n peperige smaak,” meen Jan-Hendrik terwyl ek ‘n sopie Intenso in my keel laat afgly. Die olie pas by sy naam. “Sit julle brandrissie by?” vra ek. “Nee, dis pure Noccelara del Belice. Ek is mal daaroor,” sê Jan-Hendrik. Plaaslike en internasionale kenners van Italië tot New York stem volkome saam en Intenso het al indrukwekkende toekennings behaal. Die olie se peperige debuut op die palet word gevolg deur subtiele note van artisjok, kruie en rou amandels.
Dit is ‘n uitmuntende olie om kwaliteit bestanddele mee af te rond. “Het julle al ooit vanieljeroomys met olyfolie en growwe sout probeer?” wil Jan-Hendrik weet. “Dit klink dalk weird, maar dis ongelooflik hoe romerig roomys saam met die olyfolie proe. Veral Noccelara gee dit ‘n lekker spicy kick!”
Die reeks word voltooi deur die vars grasgeure van Forte (Favoloso kultivar), die ligte vrugtigheid van Delicate (‘n versnit van Frantoio, Leccino en Mission) en die veelsydige en gewilde Mezzo (‘n klassieke versnit van Frantoio, Leccino, Mission en Coratina) wat baie populêr by restaurateurs is. Die plaas het sy eerste toekennings in 2011 gewen en Intenso gaan eersdaags by Woolworths beskikbaar wees.
Andante se bottelering en verpakking word deur Wilson’s Food in Kaapstad behartig en Vinpac in Wellington hanteer hul uitvoer-olie, wat 15% van die totale produksie behels. Hulle het markte in Sjina, Taiwan, die VSA, Finland, Swede en Kanada. Die olyfolie-bedryf is nie sonder sy uitdagings nie. Volgens Jan-Hendrik druk Spanje die wêreldprys af met die massiewe volumes wat geproduseer word. Die internasionale prys vir grootmaat olie het sedert 2018 gesak van R85 tot R45 per liter. Die plaas verkoop hul grootmaat olie aan plaaslike restaurantgroepe teen R100 per liter. Met premium olie is die uitvoermark beslis meer lonend as plaaslike verkope. In 2019 het Andante 10 000 liter in die buiteland verkoop. Hulle het agente in Sjina en Taiwan, wat hul beste uitvoermark is. “Die Taiwanese is glad nie besorg oor smaak nie. Hulle kyk nét na die polifenol-telling, omdat olyfolie hoofsaaklik vir gesondheidsredes gebruik word,” sê Jan-Hendrik.
‘n Oliomio-pars is uit Italië ingevoer en hierdie grootte is een van slegs twee in Suid-Afrika. Jan-Hendrik mik om 10 ton olywe per hektaar te oes en die aanleg kan 1,5 ton olywe per uur verwerk. Danksy verfynde tegnologie kan Jan-Hendrik en twee kollegas die hele aanleg tydens oestyd hanteer. Die produksiebestuurder, LT de Jager, bestuur die ongeveer 90 seisoenale werkers wat oes en verseker dat die olywe by die pars uitkom.
Wêreldsgeluk pas ultra hoë-digte aanplanting toe met 1 100 bome p/ha. Grondvogmeters bepaal die besproeiingskedule en die plaas gebruik ongeveer 3 500 tot 4 000 liter water per hektaar per jaar. “Sitrus gebruik omtrent dubbel soveel. Dit vat 2 000 liter water om een liter olyfolie te produseer. En 2 700 liter water om een kilogram amandels te groei.” Dit is syfers om oor na te dink.
Op warm dae word die temperatuur van geplukte olywe in koelkamers afgebring na 15 tot 18 °C voor prosessering plaasvind. Blare en takkies word verwyder voor die olywe deur ‘n verpulper gaan wat dit in stukkies van 7 mm of kleiner maal. Die skerp pitfragmente help om die olieselle oop te breek. Die pulp – wat op hierdie stadium vaal van kleur is – gaan deur ‘n malaxer waar dit net 15 tot 30 minute neem voor die olie fisies van die pulp skei. Wanneer die geskeide olie poele langs die kante vorm, word ‘n decanter gebruik om die olie uit te swaai. “Ek weet nie hoekom dit ‘n pars genoem word nie, want dis eintlik sentrifugale krag wat die olie uitswaai,” sê Jan-Hendrik. Olyfolie is ‘n unieke produk in die opsig dat dit binne ‘n uur van pars reeds geproe kan word. “Jy kan in die oggend oes en dit vir middagete eet,” beaam hy.
Die gesofistikeerde Toscana Ecologica Mori-aanleg het ‘n internet-koppeling met tegnici in Italië. Danksy die industriële tasskerm wat Jan-Hendrik van sy foon af kan beheer, kan hy die proses van enige plek in die wêreld beheer met behulp van twee kameras gerig op die olie en die olywe. “Ek kan die masjinerie selfs aan die einde van die dag deur middel van afstandbeheer in die was-siklus sit,” sê hy. Hy gebruik Google om sy boodskappe in Italiaans te vertaal voor hy dit aan die ondersteuningsdiens stuur. Dit gebeur gereeld dat die Italianers ‘n probleem in die sisteem bespeur nog voor Jan-Hendrik dit aanmeld en dan help hulle om dit op te los. Die gesofistikeerde stelsel is ook geweldig behulpsaam met oes-ontledings en sedert April 2013 dien dit as databasis vir alles wat by die aanleg gebeur, van inweeg tot die versending van die finale produk.
“Dis nogal verbysterend as jy dink hoe nederig ons begin het. Ons het die hele oes met ‘n skaaltjie geweeg, kissie vir 25kg-kissie. En nou sit ons met ‘n intelligente twee-ton skaal.” Wat ook Italiaans praat. Dis nou la dolce vita hier buite Porterville.
Na die intensiewe hitte van die vorige dag, waai ‘n sterk wind ons terug Kaap toe met ‘n kattebak voel uitvoerdruiwe soos ek lanklaas geproe het. En wêreldklas olyfolie wat ek beslis met vanieljeroomys gaan probeer.
Willie Duminy | www.andanteoliveoil.co.za
1 Comment