Agri SA mediaverklaring | 22 Julie 2020
Die afskaling van die begrotings van kern staatsdepartemente verantwoordelik vir die herstel van die ekonomie, soos die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en die kanalisering van fondse na intervensies om die pandemie te beveg, hou ernstige implikasies vir Tesourie se beloofde onderneming om ekonomiese groei in die land aan die gang te kry.

Agri SA is van mening dat die salarisrekening van die departement eerder as die programme vir voedselsekuriteit, grondhervorming, produksiehulp (Ilima Letsema), infrastruktuurontwikkeling (CASP) en landelike ontwikkeling, besnoei moet word.
Die landbousektor is deur President Ramaphosa geïdentifiseer as een van die sektore met die potensiaal om die ekonomie te stimuleer. Die besnoeiing van programme wat voedselsekuriteit, grondherverdeling en restitusie, landbou-ondersteuning is egter met R1,89 miljard besnoei maak daarom nie sin nie. Verder is die programme Ilima Letsema en CASP met R276,7 miljoen besnoei. Dit hou enorme implikasies in vir opkomende boere wat afhanklik is van hierdie hulp.
Die salarisrekening van die departement wat op R4,44 miljard staan, is egter slegs met R300 miljoen besnoei. Dit is die olifant in die kamer wat die staat nie wil aanspreek nie. Die regering se onvermoë om sy salarisrekening te besnoei en volgehoue fokus op welsynsintervensies eerder as die ontsluiting van welvaartskeppende geleenthede, gaan die land duur te staan kom omdat dit ten koste van ekonomiese groei geskied.
Die begrotingstekort van R761,7 miljard wat voorsien word, teenoor die tekort van R370,5 miljard wat in Februarie geprojekteer is, is tekenend hiervan. Die bruto belastinginkomste wat gedurende die eerste twee maande van 2020/21 ingesamel is, beloop R142 miljard die aanvanklike voorspelling vir dieselfde tydperk was R177,3 miljard. Die SAID is reeds R35,3 miljard agter die 2020/21 teiken. Dit het Tesourie genoop om die bruto belastinginkomste vir die boekjaar 2020/21 vanaf R1,43 triljoen na R1,12 triljoen te hersien. Dit beteken dat die SAID moontlik hul belastingteiken vir hierdie jaar met meer as R300 miljard sal mis.
Vanweë die impak van die Covid-19 pandemie en gepaardgaande inperkings word ‘n die daling in BBP van 7,2 persent voorspel. Terselfdertyd is werkloosheid besig om toe te neem.
Agri SA versoek dat die regering en al die staatsdepartemente ekonomiese groei moet prioritiseer. En om meer in programme wat direk gemoeid is met aksies wat ekonomiese groei ten doel het, te investeer, eerder as om dié se begrotings te besnoei. Dit is wat ons land nou dringend nodig het.
Navrae: Christo van der Rheede | Agri SA Adjunk-Uitvoerende Direkteur (S) 083 380 3492