Farm Tourism, News, Through the lens
Leave a comment

Groente, Gemeenskap en Guts: Die Rix’e van Philippi

Woorde: Clivé Burger | Fotografie: Mia Truter

Philippi, wat aan die suidoostelike kant van Kaapstad geleë is en deel vorm van die Kaapse Vlakte, is al vir eeue bekend vir families wat vir geslagte lank in die omgewing boer. Die area is ook bekend vir die groente wat hier verbou word en wat na raming tot 50% van Kaapstad se vars groente voorsien.

Leon Rix woon al 75 jaar hier in Philippi, waar hy saam met sy gesin boer. Hier is hy saam met sy geliefde worshondjie, Bokka. 

Een só familie is die Rix’e, wat al dekades lank bekende boere in Philippi is. Leon Rix (75) is hier gebore en getoë, en sy familie boer met groente al so lank as wat hy kan onthou. Sy seun, Adriaan, is al sowat 20 jaar lank op die plaas en boer saam met hom.

Nadat Adriaan sy studies aan Elsenburg Landboukollege voltooi het, het hy plaas toe gekom om saam met sy pa te boer. 

“Hy het vir my gesê ons kan nie so aanhou boer met ou trekkers en implemente nie. Hy wou graag saam met my een neef hier in Philippi gaan boer. Ek het vir hom gesê dis in orde so. Hy moes ’n paar ‘tips’ gaan vang en dan terugkom plaas toe,” vertel Leon glimlaggend.

“Ná ses maande vra ek hom toe wat hy geleer het. Sy antwoord was: ‘Pa, as jy met groente wil boer, moet jy jou eie bemarking doen.’ Toe begin ons ons eie bemarking doen, en dit het eintlik verbasend goed gegaan.”

Verskillende tipes krulkool word geplant. Hierdie gewilde kultivar staan bekend as swart krulkool (black kale). 

Leon sê hy besef hulle het eintlik “dom” geboer en net geplant wat hulle kon en waarvoor hulle water gehad het. Daar was een goeie jaar, en dan weer een minder goeie jaar, en so het hulle voortgegaan. 

“Ons het wortels aan my ander neef gelewer wat groot kontrakte met kettingwinkels het. Later het ons aartappels begin plant. Dit het goed gegaan. Ek was die eerste aartappelboer van Philippi wat 100 000 sakke (15 kg) in een seisoen mark toe gestuur het.”

Hierdie krulkool is reeds ’n paar weke oud en is ’n gesogte groente onder plaaslike inwoners.

KAN NIE VOORBLY MET BLAARPRODUKTE VIR PAP NIE

Die Rix’e plant groente, en veral blaarprodukte, op sowat 50 ha grond. Voorheen het hulle grond gehuur, maar nie meer nie. Aangesien die gebied teenaan Mitchells Plain, Hanover Park en Lansdowne geleë is, voorsien die groente wat hier verbou word, ook baie van die plaaslike informele markte.

Leon, wat as kind by die plaasskooltjie oorkant die pad skoolgegaan het, het met een van die omliggende bure
se dogter, Marita Buhr, getrou. Uit die huwelik is drie kinders gebore. Vandag nog woon die familie naby mekaar. “Elkeen van ons woon op ’n plaas, terwyl ons oudste dogter in die stad woon.”

Dit was ’n hegte gemeenskap van families, en vandag nog is daar Duitse nageslagte wat steeds ’n lewe in die gebied maak.

In die middel 1800’s het Duitse immigrante in Philippi gebly, wat destyds as ’n semiwoestynagtige gebied gesien is. Hulle het egter bewys dat hulle suksesvol met groente in hierdie gebied kon boer en Kaapstad se inwoners daarvan kon voorsien. Dit was ’n hegte gemeenskap van families, en vandag nog is daar Duitse nageslagte wat steeds ’n lewe in die gebied maak.

’n Gesonde bondeltjie sprietuie is gewild in bredies of saam met ander blaargroente in pap.

GROND IN DIE AREA WORD AL HOE MEER GEOORMERK VIR BEHUISING

Grond in Philippi is geweldig onder druk omdat dit deur ontwikkelingsprojekte, veral vir behuising, geoormerk word. Dit veroorsaak dat die landbougebied oor tyd al hoe kleiner word. Natuurlik speel veiligheid en misdaad
ook ’n groot rol hier, want diefstal en sabotasie kom algemeen voor en bedreig boere se vermoë om volhoubaar te produseer.

Ja, misdaad is ’n probleem in ons gebied, maar aan die ander kant word ons ook nie te erg daardeur geraak nie. 

“Ja, misdaad is ’n probleem in ons gebied, maar aan die ander kant word ons ook nie te erg daardeur geraak nie. Mense wat groente steel, kan ook net soveel in ’n streepsak kry — dan is hulle weer vort. Die bietjie wat gesteel word, is maar ’n druppel in die emmer van wat ons produseer en bemark,” vertel Leon.

Hoewel hy en Adriaan vir jare groente soos aartappels, wortels, kool en slaai geproduseer het, is dit eers die afgelope vier jaar dat hulle ’n heel nuwe rigting met hul aanplantings ingeslaan het.

AFRICAN LEAF FARM STALL

Die Rix’e plant nou uitsluitlik groen blaarprodukte. Dit sluit in spinasie, sprietuie, krulkool, raap, Afrika-krulkool, mosterd, brokkoli en kool. Hul grootste mark is die plaaslike gemeenskap wat graag hierdie groen blare in hul pap gooi. Hulle kan skaars voorbly om duisende van hierdie bossies per dag aan groot- en kleinhandelklante te verkoop.

Dit is ’n besonder groot mark as ’n mens in ag neem hoeveel informele nedersettings in die onmiddellike omgewing van Philippi is. Die groothandelverkope vind plaas aan die agterkant van ’n groot stoor, terwyl die kleinhandelverkope gedoen word aan die voorkant vanuit hul plaaswinkel, African Leaf Farm Stall, wat gerieflik langs die pad geleë is wat voor die plaas verbyloop. Hier kan verbygangers en informele handelaars dié gewilde produkte koop.

Adriaan Rix by die vloot Mahindra trekkers.

Hulle verkoop tans ’n bossie groen blaarprodukte en kool vir R5 elk, maar indien dit skaars raak, styg die prys na tussen R8 en R10, sê Leon.

Die blaarplante word in ’n rotasiestelsel geplant. Die plante word deur die week natgemaak en die blare word geoes. Kool en brokkolikoppe word afgesny, waarna die grond met ’n draaiskoffel (rotavator) bewerk word. Kraalmis word dan op die grond gegooi en die land word geploeg voordat daar weer geplant word. Alle besproeiing geskied uit boorgate op die plaas.

Leon sê hulle plant raap op die grond waar brokkoli en kool geplant was, om wisselbou toe te pas en nuwe elemente in die grond terug te bring. Gesonde grond lewer gesonde produkte. Vanaf die agtweke-plantjie wat geplant word, neem dit sowat drie maande voordat ’n kool- of brokkolikop weer geoes kan word.

Kompos wat die Rix’e eiehandig op die plaas produseer.

VROUE PLANT EN OES

Alle plantjies word met die hand geplant en later weer geoes. Daar is 25 permanente werkers op die plaas en sowat 50 dagwerkers — almal vroue. Daar is ook ’n vrou wat die tarentale verjaag in die rye waar die jong plantjies geplant is, want hulle skrop dit uit die grond uit. Sy maak ook tussen die rye skoon waar die trekker gery het en sorg dat dit vry is van onkruid.

Die blare en koppe word uit die land uit met trekkers na die stoor gery, waar dit dan skoongespuit word. Sommige produkte word gelaai vir die groothandel, en ander word in groot kratte in die winkel gepak, waar verbygangers hul produkte kan koop.

Kool word uit die land gebring, skoongemaak en in houtkratte verpak vir groot-handel of verkoop by African Leaf Farm Stall.

Die Rix’e maak hul eie kompos van die afvalkos wat op die plaas weggegooi word, waar sy oudste dogter, Lerita, met skape spekuleer. Daar word ook met varke geboer. “Varkvleis het baie gewild geword. Daar is ’n reuseverskil in die hoeveelheid vleis wat ’n klant kry as hy R3 000 betaal vir ’n skaap teenoor wat hy vir ’n vark kry.”

Die groot vloot trekkers op die plaas het elk sy eie werk wat verrig moet word. “Ons het besluit dit is makliker om elke trekker sy eie implement toe te wys, eerder as om elke nou en dan die implemente tussen trekkers te ruil vir die werk wat gedoen moet word. Dit werk nou baie beter. Daar is sewe trekkers wat chemikalieë toedien en nog sowat drie wat rip, ploeg en grond bewerk.”

PLANTBESKERMING IS ONBEKOSTIGBAAR DUUR

Swamme en siektes bly ’n voortdurende uitdaging, en daar skermingsmiddels is ’n groot uitgawe — ’n liter kos sowat R3 000, en vir elke toediening moet sowat 150 ml van drie of meer verskillende produkte gebruik word.
Een middel is gemik op wurms, ’n ander teen motte, nog een teen luise, en dan is daar ook middels vir algemene plaagbeheer. Daarbenewens moet ’n waterdemper en swamdoders ook gespuit word. Die waterdemper help om die pH van die water te reguleer, veral wanneer die watertafel sak en die pH tot sowat 8 styg. Die water moet gebalanseer word, anders kan die plante nie voedingstowwe opneem nie.

Nadat die waterdemper bygevoeg is, bly die pH slegs vir sowat ’n uur en ’n half optimaal. Daarom moet die plante onmiddellik gespuit word nadat die mengsel voorberei is. Beplanning is dus uiters belangrik, want daar
is net ’n klein venster vir sukses. Al die middels wat gebruik word, is veilig vir mense. Bemarkers kom gereeld besoek aflê en stap tussen die rye om te bepaal presies wat en waarvoor gespuit moet word.

Afloopwater uit die land sowel as boorgatwater word hier opgedam, waaruit besproeiing vir die groente verkry word.

“’n Boerdery soos ons s’n, waar die produk daagliks van die hand gesit word en boonop aan verskillende tipes markte verkoop word, se grootste uitdaging is om die administratiewe werk en boekhouding van plant, plaagbeheer, benatting, arbeiders, oes en verkope daagliks op datum te hou.”

Leon sê hulle besef al geruime tyd dat die gebied onder druk kom weens die uitbreiding van behuising vir die groeiende bevolking. Die regering probeer vir almal huise voorsien en soek voortdurend na nuwe grond. Die Departement van Landbou was nog altyd die boere goedgesind, maar selfs hulle kom nie meer hierheen nie, omdat hulle geen beloftes kan maak nie. Selfs die polisie-hoof van Philippi, wat die boere goedgesind is, kan net sy skouers optrek — hulle sit al drie maande sonder ’n voertuig. Dit is duidelik dat Philippi met geweldige uitdagings te kampe het.

So wat 50 vroue werk in twee spanne, en daar word sewe dae per week in die lande gewerk. 

PHILIPPI MAAK STERK MENSE GROOT

Persoonlike uitdagings vir produsente en ander inwoners in die gebied sluit die beperkte toegang tot skole in. Die meeste skole is reeds vol, en ouers spandeer baie tyd op die paaie om hul kinders na skole in ander voorstede te neem. “My skoondogter moet al voor 06:00 soggens met die kinders ry om betyds by die skool te wees,” vertel Leon.

Hy sê hul eie kinders was destyds gelukkig om in goeie skole in die omgewing te wees. Die twee dogters was in Hoërskool Jan van Riebeeck. En al lê Philippi in die Kaapse Vlakte, moenie sy mense onderskat nie — die Rix-familie spog byna almal met Springbokklere. As dit nie vir tou-trek is nie, is dit vir ysskaats of swem.
Adriaan het enkele maande gelede aan die Wêreldtou-trekkampioenskappe in Nottingham, Engeland, deelgeneem, terwyl Leon self 52 jaar gelede aan dieselfde wêreldkampioenskappe in Engeland meegeding het.

Philippi maak duidelik sterk manne én vroue groot.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *