farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Pronk is in die bloedlyn

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Dewald Kirsten

Daar is min dinge so mooi as ’n manjifieke merrie en haar vulletjie in ’n groen weiveld omring deur ou akkerbome, langs ’n laning Amerikaanse populiere wat jou lei tot by ’n historiese plaashuis. Varsfontein-plaas is, net soos die volbloedperde wat hier woon, in uitstekende kondisie.

Kampioenmerrie Bela-Bela en haar vulletjie wat in Augustus gebore is en op ses maande vernoem sal word.

PASSIE VIR PERDE

Die stoetery is in 1974 deur Anthony Kalmanson begin op wat voorheen ’n wingerd- en graanplaas was. Tony was ’n entoesiastiese amateurryer wat aan wedrenne in Engeland, Suid-Afrika en Zimbabwe deelgeneem het. Hy het die eerste Suid-Afrikaanse Hinderniskampioenskap in 1969 op Thunder Peel gewen. Tony is in 1979 oorlede en die plaas word besit deur sy tweelingkinders, John Kalmanson en Susan Rowett, wat in die buiteland woon. Ons gesels met bestuurder Carl de Vos, wat saam met sy vrou, Amanda, in 2018 hul dertigste jaar op Varsfontein gevier het.

Net die beste perde word gekies om terug te keer na die stoetery vir teeldoeleindes.

“Daar is deesdae min stoeterye, want al die kleiner telers het toegemaak,” sê Carl. In totaal word daar per jaar tussen 3 000 en 4 000 volbloedvullens in Suid-Afrika geteel. Varsfontein is uitsluitlik ’n teelplaas met die doel om vullens te teel wat teen 18 maande verkoop word.

Bestuurder Carl de Vos met assistent-bestuurders, Jaco en Carolyn Erasmus, weerskante van Gimmethegreenlight.

GENETIESE SELEKSIE WORD HAARFYN BEPLAN

“Benewens die merries wat ons self teel, koop ons ook jong perde aan en laat hulle professioneel afrig om vir twee tot drie jaar op renbane dwarsoor Suid-Afrika mee te ding,” sê Carl. Net die beste perde word gekies om terug te keer na die stoetery vir teeldoeleindes. “Die veekunde betrokke by ’n perdestoetery verskil nie veel van ander stoeterye nie. Jy moet altyd nuwe bloed inbring,” meen Carl.

Wat wel uitsonderlik is aan ’n volbloedstoetery, is dat merries op die konvensionele manier gedek word. “Dit is onwettig om volbloedperde kunsmatig te insemineer,” sê Carolyn Erasmus, assistent-plaasbestuurder. “Dis waarskynlik die enigste perderas wat dit steeds só doen,” voeg Carl by. Nie net is kunsmatige inseminasie onwettig nie, in die Verenigde State en Groot Brittanje is daar selfs sprake dat die aantal kere wat volbloedhingste mag dek, beperk moet word. Die doel is om die waarde van kampioenbloedlyne te beskerm en die potensiaal vir inteling te verminder.

Bela-Bela se jong vulletjie se potensiaal is reeds opvallend.

Carolyn vergesel ons na die stalle waar die merries vul. Hierdie is net ’n “babasaal”. Geen perd op die plaas word gery nie en hulle is uitsluitlik daar om te teel en vullens groot te maak. Bela-Bela is tans een van Varsfontein se kampioenrenmerries en die appel van eienaar Susan se oog. Hierdie jong merrie het drie Groep Een-wedrenne en verskeie pryse ingepalm voordat sy op die plaas kon kom “aftree” het om haar bloedlyn voort te sit.

Assistent-plaasbestuurder Carolyn Erasmus by Arcola se vulletjie.

TOPFIKS VIR DEKSEISOEN

Varsfontein huisves 300 perde, wat 150 teelmerries en twee dekhingste insluit. Tydens dekseisoen, van September tot Desember, word die merries twee keer per dag na die hingste gebring. Gimmethegreenlight van Australië was die eerste driejarige in veertig jaar om die gesogte Queens Plate-wedren te wen. Eienaarskap van hingste word gesindikeer met sowat 50 aandele per perd. Die waarde van ’n aandeel kan geweldig toeneem na gelang van die hings se prestasies op die renbaan, asook sy vermoë om sy atletiese potensiaal aan sy vullens oor te dra. In 2019 beloop Gimmethegreenlight se dekfooi R75 000, eks-BTW, (nominasiefooi van R25 000 en ’n addisionele R50 000, plus BTW, met die geboorte van ’n lewendige vul). Hul tweede dekhings, Master Of My Fate, is gebore op Varsfontein en sy dekfooi beloop R40 000, eks-BTW, (nominasiefooi van R15 000 en R25 000, plus BTW, vir ’n lewendige vulletjie). Die hoogste dekfooi in die land is tans R250 000 vir die kampioenhings, Silvano.

Varsfontein het 82 stalle, waarvan 48 gebruik word vir merries wat vul.

“Die oorgangsproses van atleet tot teelmerrie is nie altyd maklik nie,” sê Carl. Die wêreldstatistiek is dat sewentig persent van gedekte merries jaarliks in vul kom. “Ons persentasie is nog hoër,” meen Carl. Merries ovuleer elke 21 dae en die span hou hulle fyn dop om te sien wanneer hul follikels aandui dat hulle reg is om gedek te word. Merries moet binne 48 uur van ovulasie gedek word en op 15 dae word hulle getoets om te sien of hulle dragtig is. “Die veearts is elke oggend hier om hulle te skandeer,” sê Carl. “Teen 24 of 25 dae wil ons ’n hartklop sien.” Met soveel op die spel, is daar van konsepsie af reeds druk op die span om ’n sukses daarvan te maak.

KOSBARE KLEINGOED

Carl of Jaco Erasmus, Carolyn se man, behartig self die geboortes. Jaco en Carolyn het ontmoet toe hulle albei Perdewetenskappe in Pretoria studeer het. Jaco het sy praktiese jaar by Varsfontein voltooi en toe hy weg-ry, het hy gehoop dat hy eendag na hierdie pragtige plaas sou kon terugkeer. Jaco en Carolyn het in 2007 by Varsfontein begin en dit is duidelik ’n roeping eerder as net ’n beroep. “Dis nie die tipe werk wat jy halfhartig kan doen nie,” beaam Carolyn. Carl, Jaco en Carolyn woon binne 100 m van die stalle en doen soveel moontlik veterinêre prosedures self. “Die probleem met vulletjies is, wanneer jy sien ’n vul is siek, is dit reeds te laat,” sê Carl.

“Om 120 merries in ’n seisoen te dek neem sy tol op enige hings se liggaam. Dis ongelooflike fisieke werk en kan baie gevaarlik wees vir die hings en die dekspan as die merrie moeilik is,” sê Jaco.

Elke dier op die plaas word met die grootste sorg hanteer. Sodra ’n merrie gevul het, word sy met die hand gemelk om te toets of haar biesmelk (kolostrum) genoeg teenliggaampies bevat. Indien nie, kry die vul biesmelkvoeding deur ’n maagbuis van ’n ander merrie wie se bies vooraf gevries is. Vulletjies wat nie genoeg teenliggaampies in die bies opneem nie, kry ook ’n witbloedselaanvulling wat deur Carolyn voorberei word. Met volbloedperde is die bewys van bloedlyn en genetika alombelangrik. Elke vulletjie ondergaan DNA-toetsing om die bloedlyn te verifieer, voor registrasie plaasvind.

VYFSTER HUISVESTING

Die spoggerige kwartiere van Varsfontein se twee dekhingste.

Sewentig persent van die perde op die plaas behoort aan Varsfontein en die balans aan eienaars wat betaal om hul merries hier te huisves. “Soos jy kan sien, kry die perde vyfster-akkommodasie en -versorging.” Varsfontein het 82 stalle: 48 vir die merries wat geboorte gee, 32 stalle vir jaarlinge wat gereed gemaak word vir die verkoopseisoen, en twee deftige suites – effens apart van die res – vir die dekhingste. Master Of My Fate lê Carl en die eienaars van Varsfontein na aan die hart. “Ons het sy ouma, Secret Pact, gekoop en sy ma, PromiseFromMyHeart, geteel, wat ook ’n kampioen was. Master Of My Fate is een van ons eie en dit sal die ultimate wees as hy ’n kampioenhings raak,” sê Carl.

Jaco en sy span maak gereed om Gimmethegreenlight die groen lig in die dekstoor te gee.
n Hings sal ongeveer 120 merries per seisoen dek.

Gimmethegreenlight en Master Of My Fate se stalle spog elk met ’n koperplaatjie wat die hings se naam, land van oorsprong, geboortejaar en ouers aandui. Jaco staan reg om Gimmethegreenlight na die dekstoor te neem waar hy tot drie merries per dag kan dek. ’n Hings sal ongeveer 120 merries per seisoen dek. “Om 120 merries in ’n seisoen te dek neem sy tol op enige hings se liggaam. Dis ongelooflike fisieke werk en kan baie gevaarlik wees vir die hings en die dekspan as die merrie moeilik is,” sê Jaco.

Die dekstoor is uniek ontwerp en ingerig om risiko’s te verminder.

Buite dekseisoen fokus Varsfontein op verkope, wat die lewensaar van die stoetery is. Varsfontein is elke jaar een van die beste verkopers by die Volbloedperdvereniging van Suid-Afrika en laat gereeld rekords spat. Mees onlangs, in beide 2017 en 2018, het hulle die hoogste prys vir ’n jaarling behaal by die Nasionale Jaarlingveiling.

As die merrie se kolostrum nie genoeg bevat nie, kry vulletjies aanvullende biesmelk.

Varsfontein Stud | Area: Paarl, Wes-Kaap | Kontak: 021 869 8238 | E-pos: info@varsfontein.co.za | www.varsfontein.co.za

Filed under: farmers, Niche Farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published.