Travel Snaps
Leave a comment

Pleinvrees

writer: Hein Eksteen

“Dis heerlike Lente. Die lockdown is so te sê verby…” bulder deur Hansie Slim se brein waar hy in sy bakkie aan die begin van die grondpad na die Bokveld toe sit. Die roete deur die Hantam vir sy blomme, die Boesmanland en uiteindelik die Richtersveld. Landsdele wat deel van Hansie se DNS geword het. Streke waardeur hy reeds dekades reis. Alles bekend.

Hein Eksteen

Maar iets weerhou Hansie daarvan om die bakkie na Drive oor te skakel. Aanvanklik dink hy dit is die ou FAK-liedjie wat hom nou irriteer, soos wat dit hom jare gelede geïrriteer het toe hulle dit Maandagoggende ná saal in brekende puberteitstemmetjies moes teem. Hansie is baie lief vir sy taal en tradisies. Maar ter versagtende omstandighede, Hansie se tienerjare was die epog van Led Zeppelin en Strawbs en Emmerson, Lake and Palmer. Nié ‘Dis Heerlike Lente’ nie. Al is die lockdown so te sê verby.

Hierdie laaste gedagte, ‘Al is die lockdown so te sê verby’, verpletter dit hom onverwags soos ʼn plettertoetspop teen die sitplek. ʼn Skim verskyn in Hansie se geestesoog en oorweldig hom met doembeelde en voorbodes. Maar in ʼn taal wat Hansie nie verstaan nie. Wat hy wel besef: hy moet bly sit waar hy is. En wag. Waarop? Helderheid?

Hansie gooi ʼn dop. Steek ʼn sigaret aan. Sit op die bakkie se tailgate. En wag.

Wysgere het tydens die grendeltyd laat weet niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Daar is gerugte van Die Nuwe Normaal. Is dit wat hom nou uitmergel? Dat hierdie Nuwe Normale ʼn vreesaanjaende post-apokaliptiese landskap is?

Is dit wat hom nou uitmergel? Dat hierdie Nuwe Normale ʼn vreesaanjaende post-apokaliptiese landskap is?

Hansie moet bieg hy het lockdown heimlik geniet. Daar was nie juis skryfwerk nie, maar sy spaargeld het langer as gewoonlik gehou, omdat hy nie elke week duisende rande se brandstof in die bakkie moes gooi nie. Hy het houtwerk begin doen om hom besig te hou. En dit lawend gevind. Hansie het die huis omtrent nooit verlaat nie. Ja, hy het gekerm omdat hy nie kon ry soos hy wou nie. As hy egter eerlik met homself is – soos wat hy nou deur ongesiene magte gedwing word om te doen – het hy in die veiligheid en voorspelbaarheid van sy saai bestaan gedy.

Maar hierdie nuwe karaktereienskappe is nie eie aan hom nie. Hansie, die deurwinterde reisiger. Die een wat op ouderdom 10 weggeloop het. Nié omdat sy huishoudelike omstandighede haglik was nie. Eerder omdat hy Jan J. van der Post se voorste dissipel geword het en saam met Vonk en Agarop in die Kalahari wou swerf.

Kan dit wees dat die ouderdom hom ingehaal het? Nee. Kingsley Holgate is ouer as hy. Oukei Die Baard reis in ʼn groep onderhou deur borge en ondersteuningspanne. Hansie ry meerendeels alleen. In vele plekke in Suider-Afrika het sy voertuie gebreek en was hy dodelik siek, maar Hansie was nooit bang nie. Sy lewensbenadering was nog altyd om alle moontlike rampspoed uittartend in die oë te kyk.

Kan dit wees dat die ouderdom hom ingehaal het? Nee. Kingsley Holgate is ouer as hy.

Straks lê die antwoord in die Nuwe Normale, maar met betrekking tot die draaiduik waarin die moederland haar bevind. Die flagrante korrupsie. Moraliteit wat uiteindelik vanaf die radar verdwyn het.

Hansie hoef egter nie daaraan onderhewig te wees nie. Hy kan in sy bakkie klim en na enige plek te wêreld ry. Soos wat hy nou probeer doen. Maar om welke rede nie kan nie.

Uys Krige skryf, ‘Die lewe is alleenlik draaglik as ʼn mens ʼn bietjie dronk is’ en Hansie skink nóg ʼn dop. In vino veritas en al daai. Soos die whiskey sy geesteshorisonne verbreed, begin hy aan homself dink as ʼn neofiet – iemand wat nog altyd rebels teenoor die bekende en voorspelbare gestaan het.

Uys Krige skryf, ‘Die lewe is alleenlik draaglik as ʼn mens ʼn bietjie dronk is’ en Hansie skink nóg ʼn dop. In vino veritas en al daai.

Nou versuip Hansie egter in ʼn rioolsloot wat oorloop met neofobie – bykans ʼn patologiese vrees vir alles wat nuut is. Selfs die bekende grondpad voor die bakkie se snoet is skielik onheilspellend.

Nóg ʼn knerts (dalk was dit twee) en Hansie kom tot ʼn plotselinge wete. Hy het soos wilde diere wat te lank in hokke aangehou was ʼn vrees vir alles buite die hok ontwikkel. Tydens grendeltyd was die wêreld buite die hok ʼn bedreiging. Binnekant die hok was alles veilig. Nou is die hok oop en Hansie is te bang om te vlieg. Hansie ly bloot aan pleinvrees.

Hansie druk die bakkie in Drive. En katvoet gaan Hansie Slim die Nuwe Toekoms te gemoed.


Hein Eksteen is ’n storietrekboer wat saam met Ben Rumson (Lee Marvin in Paint Your Wagon) glo: ‘I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back.’ Die Wes-Kaap is sy herkoms. Suider-Afrika sy herwaarts en derwaarts.

Filed under: Travel Snaps

by

Hein is a wandering collector of stories who lives by the words of Lee Marvin in Paint Your Wagon, "I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back." He was born and bred in the Western Cape, but criss-crosses Southern Africa in this quest.

Leave a Reply

Your email address will not be published.