News
Leave a comment

SIYABONGA (dankie) landbou!

Die opwindende Agri-Expo inligtingsdae wat jaarliks tydens Agri-Expo Livestock buite Stellenbosch aangebied word, het ‘n nuwe baadjie aangetrek en staan nou bekend as SIYABONGA-dae. Wat dit nog meer besonders maak, is dat dié geleenthede nou in verskillende streke plaasvind en regstreeks uitgesaai word sodat boere van oraloor kan deelneem.

‘n Groep boere tydens ‘n vorige inligtingsdag, nou bekend as Agri-Expo se SIYABONGA dae.

Die SIYABONGA-dae is daarop gemik om basiese landbou-inligting aan boere deur te gee in ‘n unieke formaat waar boere ‘n platform met kenners in die bedryf deel, die geleentheid kry om vrae te vra en sodoende met meer kennis na hul boerdery terugkeer om uiteindelik meer produktief te wees.

Die inligtingsdae was oor baie jare van die suksesvolste platforms tydens Agri-Expo Livestock en daarom is hulle opgewonde om die SIYABONGA-dae nou ná die boere toe te neem, sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo. “Die Covid-19-pandemie het baie landbougeleenthede aan bande gelê en om met innoverende maniere die landbougemeenskap te bereik is nie maklik nie, maar dit is presies wat ons met die SIYABONGA-dae doen. Ons moet aanpas en die geleenthede benut wat tegnologie ons bied, maar ons moet ook mense op grondvlak bereik.

“Hoekom SIYABONGA? Siyabonga beteken dankie en wat is meer gepas as om vir landbou en die boere van Suid-Afrika dankie te sê in ‘n tyd waar landbou so baie vir ons land beteken. SIYABONGA is ook ‘n akroniem vir ‘Sharing Information to improve Yields in Agriculture for a Better-Off Next Generation of Agriculturalists’.”

Agri-Expo se inligtingsdae word sedert 2014 in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied en is reeds ‘n instelling by veral kleinboere in die Wes-Kaap. Hierdie sewe jaar lange vennootskap is ‘n bewys van hoe die regering en privaatsektor saam kan werk om landbouers te bemagtig. “As die Wes-Kaapse Departement van Landbou, is ons hier om die landbousektor te dien,” sê dr Mogale Sebopetsa, die departementshoof. “Die landbousektor is die sonskynsektor wat die sleutel is tot die ekonomiese herstel van nie net die Wes-Kaap nie, maar ook vir Suid-Afrika. Ons wil graag die nodige ondersteuning bied aan ons boere om produktiwiteit te verbeter en voedselsekerheid te verseker. Die SIYABONGA-dae skep ‘n uitstekende platform om nou meer mense te bereik as in die verlede. Ons sien daarna uit om weer met Agri-Expo saam te werk.”

Volgens Breyton Milford, Operasionele Bestuurder van Agri-Expo, vind die eerste drie SIYABONGA-dae vind in Beaufort-Wes, Grassy Park en Clanwilliam plaas. “Nie net is die naam verander nie, maar weens Covid-19 wat die gewilde Agri-Expo Livestock aan bande gelê het, word die SIYABONGA-dae nou in verskillende streke aangebied om die inligting na dié mense te neem wat hierdie dae in die verlede getrou ondersteun het.”

Weens die beperkinge op getalle, kan slegs ‘n beperkte aantal boere genooi word om die geleenthede by te woon, maar boere en belangstellendes kan gratis aanlyn inskakel, vrae vra en deel wees van die gesprekke deur te registreer by www.foodformzansi.co.za/siyabonga-registration/.

Beaufort-Wes SIYABONGA-dag: Vrydag 2 Oktober, 10:00 – 13:00

Beaufort-Wes se program fokus op bestuur en voedingsbeginsels om droogtes te oorkom asook vennootskapgeleenthede in die Karoo. Dr Louis du Pisani, ‘n kenner van droogtetoestande sal die gesprek oor bestuur lei, waarna Hans Greeff, ‘n dosent verbonde aan Grootfontein Landboukollege, oor die korrekte voeding in hierdie tye gesels. Konsortium Merino en die Mohair Empowerment Trust sal samewerkingsgeleenthede bespreek.

Grassy Park SIYABONGA-dag: Vrydag 9 Oktober, 10:00 – 13:00

In Grassy Park is die programfokus op kleinskaalse boere in ‘n stedelike omgewing. Die skrywer van die boek Boer met Kleinvee, Leon Kruger, sal raad gee oor produktiewe bestuur in beperkte ruimtes. Donald Mouton, plaasbestuurder van Fairview in die Paarl, sal gesels oor watter diere in watter omstandighede aanpas. Inspirasie kom van Carol Kirkwood Pretorius, ‘n bekroonde vroueboer van die Ceres Karoo, asook van ‘n klein skool met ‘n groot landbouhart in Belhar, ‘n Kaapse voorstad.

Clanwilliam SIYABONGA-dag: Vrydag 16 Oktober, 10:00 – 13:00

Clanwilliam kan uitsien na kundiges se raad oor gemengde boerdery. Wintergrane is onder bespreking deur Graan SA waarna die fokus skuif na die voordele van wolproduksie deur die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV). Daarna volg ‘n praktiese demonstrasie met riglyne oor waarna om te kyk by kleinvee asook ‘n bespreking van verskillende skaap- en bokrasse. Die bekende rooibosboer Niklaas Slinger sluit die program af met raad, inligting en motivering.

Die programme in Beaufort-Wes en Clanwilliam word in Afrikaans aangebied, maar vrae kan in Engels gestel word, terwyl die program in Grassy Park in Engels plaasvind, maar vrae ook in Afrikaans gestel kan word. Vir meer inligting, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za, besoek www.agriexpo.co.za en www.livestock.org.za, en volg Agri-Expo op sosiale media.

Leave a Reply

Your email address will not be published.