Farm to Fork, farmers
Leave a comment

Die wiele daai

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont

Ons vat ’n verkeerde afdraai en sukkel om weer op die regte pad na Graskloof buite Porterville te kom, waar die Van der Merwes hul eie koring groei en maal. Maar toe ons by Bolkor Steenmeul stop, word ons deur drie generasies ingewag, skryf Bianca du Plessis.

Drie generasies van der Merwes. Van links na regs; Dawie, Schalk en Dawie.

Dawie van der Merwe bestuur Bolkor-meul, en sy pa, Schalk, boer die meer as 400 ha koring op hul plaas van 490 ha. “My naam is ook Dawie,” stel Schalk se pa homself voor, “Maar ek het net ‘n ander adres.” Jong Dawie vertel dat sy oupa op 87 jaar in sy eie huis in die dorp woon, reg oorkant die ouetehuis. Maar hy’s nog nie reg om oor die straat te trek nie. Hulle is onseker oor die presiese aantal jare, maar hulle weet dat Graskloof al minstens 250 jaar in die Van der Merwe-familie se besit is.

ONAFHANKLIKE GEES

Volgens Dawie is dit nie moontlik om hul koring heeltemal organies te boer nie, maar die verwerkingsproses by die meul is wel organies. Nadat die Koringraad in 1996 afgeskaf is, het Dawie senior die meul in 1998 gestig om ‘n mark vir hul koring te skep. “Ek moes ‘n mark vir ons koring gaan soek en het uit my onnoselheid die meul begin. Ek het ‘n steenmeul uit België ingevoer. Op ‘n lening met 24% rente!” voeg Dawie senior by, en hy lyk opnuut omgekrap oor die hoë syfer. 

Die Van der Merwes wil koring op die outydse manier maal, sonder die toevoeging van versterkte chemiese bymiddels.

Die naam Bolkor is ‘n samestelling van Boland en Koring. Die meul produseer witbrood-, bruinbrood- en koekmeel. “Ons werk nie met buite-landse koring nie,” sê Dawie senior. “Maar nou wil die Departement van Gesondheid hê ons moet ingevoerde koring gebruik en hulle probeer ons ook dwing om allerhande bymiddels in te gooi. Maar ons wil nie,” meen hy. Die Van der Merwes wil koring op die outydse manier maal, sonder die toevoeging van versterkte chemiese bymiddels. Die familie het hul bedenkinge oor die voedingswaarde van die voorgeskrewe bymiddels. 

Gras-kloof se premium koring word in silo’s langs die meul geberg.

Die Bolkor-aanleg maal ‘n ton koring per uur en daar word heel jaar lank gemaak. “In die somer maal ons nie die hele week nie, want die aanvraag na meel is laer. Mense drink meer water as wat hul eet,” verduidelik Dawie junior. Dit maak sin. 

‘n Span van net vier beheer die totale aanleg. Jurie Syster werk al sedert 2004 by Bolkor en bestuur die meul wanneer Dawie nie daar is nie. Bolkor stoor 1 400 ton van hul eie premium koring op die plaas en die ba-lans word by Wesgraan Porterville geberg of verkoop. Dawie beskryf die siklus van saad tot meelsak.

Gedurende die eerste skoonmaakproses in die silo hardloop die koring deur ‘n sifskerm om klippies en growwe doppies te verwyder. Dit word dan weer in die silo geberg tot dit deur nog ‘n masjien gesif word om fyner klippies uit te haal. Daarna volg ‘n benattingsproses. “Koring moet natgemaak word sodat die lae van die pit oopgedruk kan word. Dit maak die koring sagter, sodat dit fyner gemaal kan word. As jy kurkdroë, harde saad tussen die stene meul, breek dit in groter stukke wat ‘n harde bruinmeel lewer,” sê Dawie. Die nat koring moet vir minstens 18 uur in ‘n silo lê voor dit gemaal kan word. 

Bolkor verskaf aan klein winkels, tuisnywerhede en bakkerye in die Swartland en Wes-Kaap. 

TUSSEN TWEE STENE

‘n Moderne steenmeul bevat twee klipwiele wat in ‘n staalsilinder bo-op mekaar rus. Die idilliese prentjie van koring wat op klip kraak is nie meer sigbaar nie. Dis wel goed om te sien hoe die fyn meelwolk van varsgemaalde koring in ‘n sagte lagie op elke masjien in die produksieproses gaan lê. Dawie rol een van die ou meulklippe met moeite uit sy stoorplek om te wys hoe dit lyk. Die gleuwe in die klip moet elke drie maande uitgebeitel word. “Ek was nog op skool toe ek aangeleer het hoe om dit te doen,” sê hy. Bolkor se meulstene word steeds uit België ingevoer omdat hulle harder en meer duursaam as die plaaslike stene is. “Die Suid-

Die gleuwe in die klip moet elke drie maande uitgebeitel word. “Ek was nog op skool toe ek aangeleer het hoe om  dit te doen,” sê hy.

Afrikaanse stene kraak makliker,” meen hy. “Dié stene word vervaardig uit ‘n mengsel van graniet en harde klip. Ons het die Belge al gevra watter klip hulle gebruik, maar hulle wil nie sê nie.”

Die twee steenmeule wat van België ingevoer is. 

Dit moet ‘n aardige bedrag kos om die swaar stene van België na Porterville te vervoer, maar in twintig jaar moes Bolkor gelukkig nog net twee stelle aankoop. 

Die steenmeulproses is ‘n koue maalproses wat nie die natuurlike voedingswaarde van meel vernietig nie. Groot, kommersiële meule gebruik die rollermaalproses wat warm is en die voedingswaarde verminder. Dit verklaar ook hoekom rollermeel goedkoper is. 

Die aanleg maal ’n ton koring per uur.

GRADE VAN FYN

Die koring word gemaal en gesif om verskillende grade te lewer. “Ons werk sonder handskoene want ons moet die tekstuur van die meel gereeld voel,” sê Dawie. “Maar ons hande is altyd skoon,” voeg hy vinnig by. Koekmeel is die fynste, gevolg deur nommer 1 witmeel. Witbroodmeel bestaan uit ‘n mengsel van nommer 1 en nommer 2, bruinbroodmeel bestaan uit nommers 2 en 3 saam met semels, en nommer 4 is meel wat vir dierevoer gebruik word. Meel se voginhoud word deurentyd gemonitor. My aanname dat ‘n oormaat vogtigheid in winter proble-maties mag wees, is nie juis ter sprake nie. “Dis eintlik moeiliker in die somer, want die meel raak te vinnig droog, wat meer afvalprodukte skep en die volume afbring,” sê Dawie. Dis weer Porterville en sy hitte vir jou. 

Om verantwoordelik te wees vir 400 ha koringland sonder enige besproeiing en met dalende reënvalsyfers is nie speletjies nie.

Dawie het direk ná matriek in die meul begin werk. “Die plaas ‘het ‘n terugslag beleef en ek moes besluit: òf ek studeer verder en my familie sluit die meul, òf ek begin onmiddellik by die meul werk.” Gelukkig het hy die meul gekies. 

Bolkor se span van links is Louis Barends, Dawie van der Merwe, Sofia Vlotman en Jurie Syster. 

DIE WEER DRUK

Die plaas het drie 1 000-liter tenke reënwater wat vir die benattingsproses gebruik word. “Ons moet suiwer water daarvoor gebruik,” beaam hy. Dieselfde ontstellende klimaatsveranderings kom ook op Graskloof voor. “Met die jongste droogte het dit die helfte minder gereën as in die droogte wat my oupa destyds beleef het.” Om verantwoordelik te wees vir 400 ha koringland sonder enige besproeiing en met dalende reënvalsyfers is nie speletjies nie. Dawie se broer, ook Schalk, is ‘n grafiese ontwerper en oorweeg tans nog of hy eendag die saaiboerdery by Schalk senior gaan oorvat. “Dis bitter harde werk daai,” sê Dawie van die koringoes wat sy pa uit die grond moet haal, ongeag weer of water. Vandag se mense ignoreer meestal hoe hul kos geproduseer word. En die hoër koste van voedselproduksie, vir mens en natuur. Die feit van die saak is dat selfs ‘n vierkantige winkelbrood met ‘n kunsmatig verlengde rakleeftyd, eens op ‘n tyd ‘n koringaar op die land was.

Jurie Syster het in 2004 by Bolkor aangesluit en bestuur die aanleg in Dawie se afwesigheid. 

Eienaar: Van der Merwe-familieplaas | Besigheid: Bolkor Steenmeul op Graskloof | Area: Porterville, Wes-Kaap, Suid-Afrika Kontak:  022 931 3200 | Bolkor.bk@gmail.com

Filed under: Farm to Fork, farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published.