Through the lens
Leave a comment

Deur die lens van Strijdom van der Merwe

KRINGE IN ’N BOS

Diep respek vir die natuur is duidelik in alles wat op die plaas Kleinood, naby Stellenbosch, aangepak word. Die leuse: “softly, gently” word orals weerspieël, ook in die natuurlike beeldhoukuns wat in die klein woud vol populiere en ander inheemse bome te siene is. 

Die opdrag aan Strijdom van der Merwe was om beelde te vorm uit materiaal wat op die plaas beskikbaar is – reg in sy kraal. Hy het die plaas besoek en voorgestel dat hy die afgesnyde wingerdtakke gebruik om funksionele kunsvorms te maak. Tydens snoeityd is daar natuurlik duisende takke waaruit hy 3 reusagtige potte en ʼn massiewe wiel gevleg het. Strijdom wou die aandag op die mooiheid van die bos en die bome vestig en die groter as groot vorms het dit juis beklemtoon.

Hierdie organiese kunswerke is stille, gerusstellende vorms wat besoekers aan die natuur se siklusse en ons deel daarin herinner. Soos die mens, staan die beelde in die bos, jaar in en jaar uit, blootgestel aan die natuurlike elemente van weer en wind.

GELEI DEUR KLIPLYNE

Min het Strijdom besef wat hom inwag toe hy as fees-kunstenaar na Andelsnes, Noorweë, genooi is. By sy aankoms is hy meegedeel dat dit ʼn bergklimfees is en dat skeppende kuns deel van die feesbedrywighede was. Kuns wat geskep moet word. Bo op die berg.

Strijdom het besluit om hierdie pragtige uitsig en perspektief met water en klip te beklemtoon.

Daagliks moes hy teen die stewige helling uitklim om sy kunswerk te voltooi. En tog was dit ʼn wonderlike ervaring ondanks die fisiese uitdaging, want dit het hom die geleent- heid gegee om met heeltemal nuwe perspektiewe te werk. Sy landboukuns bestaan gewoonlik uit elemente wat hy in die natuur vind. Hy het die dammetjie raakgesien en by nadere ondersoek die klippe op die bodem daarvan ontdek. Die dorpie Andelsnes kon in die verte gesien word. Strijdom het besluit om hierdie pragtige uitsig en perspektief met water en klip te beklemtoon. Die klippe in die dam is eenvoudig regop staangemaak om ʼn reguit lyn te vorm wat na Andelsnes wys. Die res van die kunswerk is deur die natuur self ingekleur. 

STRIJDOM VAN DER MERWE

Strijdom studeer aan die US waar hy in 1984 sy honneursgraad in die skone kunste verwerf. Hy werk as grafiese kunstenaar, doseer grafiese kuns en rekenaargrafika. In 1995 bestudeer hy beeldhouwerk in Praag, waarna hy verbonde raak aan die Kent Institute of Art and Design in Engeland. Hy werk sedert 1996 voltyds as kunstenaar. Strijdom publiseer wyd, neem deel aan talle uitstallings, is die skepper van installasies en ontvanger van vele toekennings. As landskapskunstenaar gebruik hy gewoonlik die materiaal wat op die bepaalde perseel beskikbaar is en omvorm hy die elemente in geometriese vorms wat mettertyd met die natuurlike omgewing sal saamsmelt.


Fotograaf: Strijdom van der Merwe | +27 (0)21 8866496  | info@strijdom.co.za  

Leave a Reply

Your email address will not be published.