Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Michel Dei-Cont
Ek gesels met Johann, sy vrou, Retha, en seun, Lothar (beter bekend as Loot) Stadler, oor hul lewe hier op die plaas. Lothar is die vierde geslag Stadler op die grond. Die droogte het hier ook sy tol geëis, maar daar is hoop ná die reën.
Die plaas is verdeel in ’n groot boerdery waar hulle met kuddes dorpers, Bonsmaras en Simbras boer en ’n deel wat in ’n gasteplaas omskep is. Die Stadlers se ander seun, Marius, boer ook saam en is die vleisagent. Johann sê hul samestelling in terme van grootte is skaap, bees en wild, in daardie volgorde. Die drakrag van vee is een bees op 24 hektaar; een skaap op ses hektaar. Johann verkoop speenkalwers en skaapkarkasse aan die mark.

ALOMTEENWOORDIGE DROOGTE
Hy sê destyds was daar gemsbok en springbok wat natuurlik voorgekom het. Vandag het hy heelwat wild. “Almal hier om ons boer maar op klein skaal met wild en ’n paar bokke, maar niemand anders bied die toerisme-deel soos ons aan nie.”
Die plaas – semi-woestyngebied – kan nie boorgate vir water gebruik nie, want sowat 13 meter onder die oppervlak is die water hopeloos te sout. Aan die noordwestelike kant van hul wildkamp strek ’n soutpan oor meer as 800 hektaar, waar meer as 200 ton sout daagliks weggery word. Loot vertel dat die mynregte aan ’n ander maatskappy behoort, hoewel dit op hul grond val.

“As dit lekker reën, is die pan vol water en hoewel dit vlak is, lyk dit kompleet soos ’n meer.” Dis seker maar waaraan die Skotse landmeter, “Malkop” Jackson, in die laat 1800’s gedink het toe hy die plase in die omgewing vernoem het, want hier is heelwat ander Loch-voorvoegsels.
Dis seker maar waaraan die Skotse landmeter, “Malkop” Jackson, in die laat 1800’s gedink het toe hy die plase in die omgewing vernoem het, want hier is heelwat ander Lochvoorvoegsels.
Loch Maree is deel van die Kalahari-Wes Veesuipingskema, wat 83 plase (695 432 hektaar) van water uit die Oranjerivier voorsien. Die pyplyn is 430 kilometer lank. Loch Maree het 30 opgaardamme en 101,4 km privaat pyplyn wat in die somer twee maal per week nagery word.
Die droogte is ’n alomteenwoordige gees wat om die kamp waak. Die reën het groot verligting gebring, maar soos Johann tereg opmerk, is daar geen waarborg dat dit volgende jaar en die jaar daarna weer gaan reën nie. Jy moet slim werk met weiding en kuddebestuur.
Hy sê: “Jy kan nie net aanhou voer nie, want voer moet aangery word en dan moet jy die produk terugry mark toe. Dis onekonomies. Die gesegde lui mos in hierdie geweste dat boerdery soos dobbel is. ’n Mens kan nie glo die NG Kerk laat dit nog toe nie!”

NUWE TENDENSE IN REËNPATRONE
Benewens die boerdery saam met sy pa, is Loot ook verantwoordelik vir die finansiële bestuur nadat hy op Stellenbosch gaan swot het. Hy kon nie wag om terug te kom plaas toe nie. “Ek geniet dit hier. Ek is mal oor die mense en die diere en ek is mal oor die werk wat ek doen. In hierdie wêreld is daar wonderlike mense en ons almal staan saam, want ons weet hoe afhanklik ons van mekaar is.”
Sy oë blink toe ek vra hoe hy oor die toekoms van landbou voel. “Ek is positief en sien uit na baie goeie boerdery-jare,” vertel hy.
“Die gesegde lui mos in hierdie geweste dat boerdery soos dobbel is. ’n Mens kan nie glo die NG Kerk laat dit nog toe nie!”
Die veranderende klimaat is iets wat hier in die Kalahari onweerlegbaar is. Johann sê dit het beslis warmer geword en die reënpatrone het nuwe tendense, “maar die reën is darem nie negatief vir ons nie. Ek vat hom soos hy kom; dis al waaroor ek beheer het.” Hy sê jy moet altyd sorg dat jou watertoevoer in perfekte toestand is. Elke druppel is kosbaar en geen lekke kan geduld word nie.

Johann erken dat hul ander grootste uitdaging naas die droogte en water, beslis die kostes van instandhouding van hul grensdrade is. “Die sandduine loop en waai óf die grensdrade toe, óf heeltemal oop onder en dan kruip al wat ongedierte is onderdeur.”
“Die toeriste soek kaal rooi sandduine vir hul foto’s, maar ons boere soek dit nie. Die oop duine bemoeilik boerdery en al wat ons kan doen, is om dit af te kamp sodat die diere nie daarop wei nie,” vertel hy.

ROOIDUINROETE SE LANDBOUTOERISME
Retha vertel dat die gasteplaas aanvanklik as jagkamp begin is, maar namate meer mense daarvan te hore gekom het, het hulle besef daar is ’n behoefte vir plaasverblyf by toeriste – mense soek iets buite die park. Aanvanklik het die jagters by hulle aan huis gebly, maar later is die veld- en boskampe toegevoeg.

Loch Maree is deel van die Kalahari-rooiduinroete, waarvan Retha-hulle lid is en sy die skakelpersoon is. Die roete het tans 30 lede en strek vanaf Upington op die R360 tot by Rietfontein, Kgalagadi-Park en Van Zylsrus. By Diamond T-koffiewinkel op Askham is ’n netjiese inligtingsentrum in samewerking met Noord-Kaap Toerisme opgerig. Hier kan toeriste nuttige inligting oor die dorp se geskiedenis en die Kalahari-rooiduinroete kry.

Op Loch Maree is ’n wildkamp van 1 000 hektaar met ’n boskamp ingerig, waar gaste nog saans met ’n donkie vuurmaak en wildbesigtiging op hul eie kan doen. Besoekers mag in die veld ry, maar mag nie van die grondpaadjies afwyk nie. Die kamp het elande, sebras, kameelperde, blouwildebeeste, blesbokke, rooihartebeeste, gemsbokke en springbokke en ’n pragtige uitkykpunt oor die soutpanne waar gaste kan piekniek hou, braai of skemerkelkies geniet.

Ons bly vir die nag in die veldkamp waar verskeie chalets om die vuurmaakplek rangskik is. Johann vertel dat hulle eintlik die stilte aan toeriste verkoop. Mense kom hierheen om die son oor die vlaktes te sien ondergaan, om voëls te kyk, naby aan die natuur te voel en uitgerus en rustiger terug te keer huis toe. “Ek het al 28 voëlspesies opgeteken: dis nou sonder daardie valetjies waaroor ek glad nie raaiskote waag nie,” vertel Johann.
“Die sandduine loop en waai óf die grensdrade toe, óf heeltemal oop onder en dan kruip al wat ongedierte is onderdeur.”
Die plaas se 4×4-roete van 50 km lok ook baie besoekers en is ’n roete met pragtige natuurskoon van sand, duine, kalk en panne wat in die wildkamp eindig. Die skaars Oryx Scimitar, voorheen van Noord-Afrika, is ook op die plaas te sien.
Ons gesels ons laaste praatjies oor korslose melktert en tee. Die skaaphonde, Oreo, Mia en Roly lê rustig by ons voete. Die klein Scottie, Bella, kom vra vir ’n kopkrap.

Retha is opgewonde oor die toekoms van die Rooiduinroete. Volgens haar kom toeriste nie meer net na die park toe nie – hulle spandeer tyd by plekke om die park op aktiwiteite wat die park nie bied nie, soos kameelritte, sand boarding, dryf in soutpoele by die soutpan, gaan op uitstappies saam met Prof. Anne Rasa se meerkatte, besoek die San-gemeenskap en hul aktiwiteite, geniet skemerkelkies op ’n duin en neem deel aan 4×4-uitdagings.
“Die roete bied nou ook glam camping aan – waar jy nie self hoef te kom tent opslaan nie, want dit word vir jou gedoen. Daar’s nou pakkette vir almal: of jy nou wil fokus op kos en kultuur, 4×4, Premier (4-ster bederf), backpackers, voëlskyk, fietsry of selfs die erfenisplekke van die Khomani-San tussen Askham en Andriesvale wil besoek,” vertel sy toe ons langs die bakkie staan terwyl sy die karringmelkbeskuit in my hand druk. Soos ons wegry, dink ek met trots aan hierdie erfenis. Dis wonderlik om te weet dis onse wêreld dié.
Eienaar: Johann en Retha Stadler | Besigheid: Loch Maree Gasteplaas | Area: Askham, Noord-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: www.lochmareeguestfarm.co.za | lochmaree01@gmail.com