Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont
“Die tuna was in 1979 so volop, vyf dae ná ek en my vrou, Elna, getroud is, is ek vir ses maande diepsee toe. Daar was so baie vis, jy kon daarop loop. Toe maak ek in ses maande genoeg geld om die plaas te koop,” se Piet Dreyer, wat sy wyn Raka vernoem het na sy geliefde boot waarmee hy vir dertig jaar in die diepsee om Afrika se suidpunt visgevang het.
INSPIRASIE UIT POËSIE
Piet is ‘n baie praktiese man. Omdat pylinkvis, of tjokka, swart ink uitskiet wanneer dit gevang word, het hy ‘n swart boot gebou sodat hy dit nie gereeld hoef te verf nie. En hy’t hom Raka genoem, soos die ondier in N. P. van Wyk Louw se epiese gedig.
Visvang en wyn vloei in die familie se are. Die storie van hoe Piet die plaas Remhoogte in 1982 gekoop en saam met sy familie omskep het, het soveel kinkels soos die Kleinrivier wat deur die vallei kronkel.
Die plaas is 17 kilometer van Stanford af op die R326 en is 700 ha groot, waarvan die berggrond deel van die Akkedisberg-bewarea vorm. Die Dreyers bedryf ‘n familiebesigheid met ‘n paar vertakkings.
Ons ontmoet Josef, die tweede oudste seun, op die stoep van Raka se proelokaal. Josef is Raka se wynmaker en finansiële bestuurder. Sy ouer broer, Gerhard, het by Piet oorgeneem as tjokkavisserman en bestuur Raka Marine se vissersbote in Port Elizabeth. Die jongste broer, Pieter, is ‘n wingerdboukundige en saaiboer, terwyl hul enigste dogter, Jorika, bemarking en verkope behartig.
WINGERD-ERFENIS
Ná Piet die uie- en skaapplaas in 1982 by ‘n Italianer gekoop het, het sy vrou en kinders hier gewoon terwyl Piet vir lang tye aaneen op see was. Hulle het aanvanklik met bees geboer en sitrus geplant, maar Piet het besef dat die area te nat is vir sitrus. Die eerste wingerd is in 1999 aangeplant: tien hektaar met Sauvignon Blanc, Cabernet Sauvignon, Merlot en Shiraz.
“Ek het begin met dit wat ek graag drink,” vertel Piet. “As die vis geloop het, het ek my vrou gebel om te sê die bulldozer moet nog 50 m voorberei, want ek’t die vorige nag bleddie baie vis gevang!” Soos die een Raka vis ingebring het, het die ander Raka se wingerd gegroei. Piet vertel dat die vorige eienaar van Remhoogte, Francesco Disanti, hom aangeraai het om wingerd te plant. “Hy was ‘n meesterboer met uie en skape maar hy’t nie kinders gehad nie, en dis hoekom hy nie self wingerd geplant het nie,” sê Piet. Josef was 14 toe hulle die kelder begin bou het. “Wyn was op daai stadium vir my baie cool,” lag hy. En dit is steeds die geval.
Raka se eerste wyne is in 2002 vrygestel – ‘n Sauvignon Blanc en ‘n droë rooi versnit. “Ek het wynmaak by Elsenburg geswot en met 2007 se oes het ek voltyds by Raka begin werk,” sê Josef. Die plaas het nou 70 hektaar wingerd en met ‘n kelderkapasiteit van 600 ton, produseer Raka ‘n indrukwekkende verskeidenheid enkelkultivar- en versnitwyne, insluitend Sauvignon Blanc, Cabernet Franc, Merlot, Pinotage, Mourvedre en, ter ere aan die Italianer, ‘n Sangiovese.
Piet en Josef se gunsteling is die Quinary Bordeaux-styl versnit met Cabernet Sauvignon, Merlot, Cabernet Franc, Petit Verdot en Malbec. Piet se ander gunsteling is die Biography Shiraz. Ek vra oor die naam, maar Piet antwoord nie dadelik nie.
WAT IS IN ’N NAAM?
“Jy moet harder praat,” bulder Josef. “My pa is stokdoof, want hy’t sy lewe lank op ‘n enjin geslaap!” Ek vra weer. “Man, elke keer as iets goed in my lewe gebeur, dan kom bogger iets anders dit op. Dis die storie van my lewe. Dis hoekom die wyn se naam Biography is,” verduidelik Piet.
Piet se oupa was ‘n wynmaker en sy pa was ‘n visserman. Hy het ná skool regte gaan swot. “Ek was mal. Ek moes wyn gaan swot het,” meen hy. Maar die sout in sy bloed het hom see toe gelok. Hy’t in sy derdejaar opgeskop en begin visvang terwyl hy deeltyds verder geswot het.
Hy het Elna, wat ‘n landdros was, ontmoet terwyl hy as staatsaanklaer gewerk het. Piet het steeds naweke in ‘n klein skuitjie gaan snoek vang. Tot een nag in Januarie 1974, toe hy saam met ‘n ou omie en ‘n skollie verskriklik baie geelbek in Struisbaai gevang het. Hy’s die volgende nag en die een daarna weer terug see toe. Hy’t besluit hy’s klaar met die hof en hy het vir hom ‘n pragtige 60 voet skuit in Durban gaan koop.
EN TOE DIE ENJINS
“Ek kan nie op my gat sit nie, ek moet werk,” sê Piet.
Toe die kaalvoet skipper uiteindelik besluit om as visserman af te tree, het hy begin boot-enjins invoer en kragopwekkers bou. Piet bedryf sy sideline bo en behalwe sy betrokkenheid by die boerdery en die wynbemarking. Die hele familie is hardwerkend. Pieter het in 2012 begin saai en bewerk tans 1 300 ha saaigrond wat huurgrond insluit. Jorika, wat binnekort haar eersteling verwag, is net so effektief soos haar pa wanneer dit by wynverkope kom. Elna versamel oudhede, veral breekware, wat sy in ‘n hoekie van die proelokaal verkoop.
Raka voer slegs tien persent van hul wyn uit en plaaslik is Johannesburg hul grootste afsetpunt. Gegewe hul unieke ligging op die Stanford-wynroete – in ‘n smal vallei tussen die Kleinrivierberge en Akkedisberg – is die proelokaal gewild onder motoriste wat stop om die wyn, uitsig en geselskap te geniet. ‘n Welkome briesie wat koel seelug oor die berg bring, waai gereeld in die kloof. “Ons kry eintlik wind van albei kante af, maar dit werk lekker hier,” sê Josef. ”Ek noem dit koeler-klimaat wyn, eerder as koel-klimaat.”
DIE KOSTE VAN VOORUITGANG
Raka se breë stoep met wyne wat rustig asemhaal terwyl ‘n wintersonnetjie teen die kliprante weerkaats, is ‘n wenkombinasie.
Ons praat oor die tekort aan vis in die see. “Ek het op die ou manier visgevang. Ons het gekyk na die voëls, die temperatuur en kleur van die water. Voëls sien altyd waar die vis is. Ek kan ook vis ruik as ek onder die wind kom,” sê Piet. “Nou befoeter tegnologie alles. Die vis staan nie ‘n kans nie. Met sonar sien hulle presies waar die vis is en haal hulle te veel uit.”
‘n Visarend skreeu aan die oorkant van die vallei.
“Weet julle, die Kleinrivier is die langste rivier in die wêreld waarvan die mond die naaste aan die oorsprong is? En hierdie is ook die mees suidelike bergreeks in Afrika. Daar’s sommer twee rekords vir jou!” lag Josef.
Hier is stories. En stories.
Eienaar: Piet en Elna Dreyer | Besigheid: Remhoogte | Area: Overberg, Wes-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: www.rakawine.co.za