Farm Tourism, farmers, Sustainability
Leave a comment

Grootbos – beskermheer van die Kaapse Blomkoninkryk

Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Clifford Roberts en verskaf

Grootbos Privaat Natuurreservaat net buite Gansbaai bied soveel meer as ’n luukse lodge. Onder die vaandel van die Grootbos-stigting word verskeie projekte hier bestuur – een daarvan sluit navorsing oor fynbos en die hervestiging van hierdie unieke plantbioom in die Walkerbaai-bewarea in, skryf Maryke Roberts.

Die fynbos-toere wat gaste by Grootbos kan onderneem, is baie uniek. Gidse vertel hoe fynbos voortplant, die rol van insekte en voëls en beheerde brande en die plante se
medisinale gebruike.

Die Grootbos-stigting is ’n organisasie sonder winsbejag wat in 2003 gestig is met die doel om bedreigde fynbos te bewaar en te help met opleiding en vaardigheidsontwikkeling van die omliggende gemeenskap.

PLANTLIEFDE BLOM

Die eienaar van Grootbos, Michael Lutzeyer, het ‘n voorliefde vir botanie geërf by sy oorlede pa, Heiner, wat in 2012 oorlede is. Vir meer as 20 jaar was dit hulle stokperdjie om fynbos te verken en foto’s daarvan geneem. Hulle het minder as ’n kwart van die fynbosspesies wat hulle daar gevind het, verwag.

Twee van die spesies wat hulle ontdek het, die Lachenalia lutzeyeri en die Capnophyllum lutzeyeri, is na Heiner vernoem. Hy het die boek Field Guide to the Flora of Grootbos Nature Reserve and the Walker Bay Region saam met Sean Privett geskryf. Nog ‘n unieke plant, die Grootbos-erica (Erica magnisylvae), is ook daar ontdek en kom net op Grootbos voor.

Sean Privett en Rebecca Dames is die twee botaniste aan die hoof van die fynbos-navorsingspan. Sean verduidelik dat fynbosbewaring noodsaaklik is omdat fynbos die kleinste dog die mees diverse plantbioom in die wêreld is en baie van die plante kom nêrens anders voor nie. Die fynbos word erg bedreig en party veldtipes is al byna heeltemal uitgewis.

KWEEK JOU EIE TOEKOMS

Die Green Futures-kollege bied volwasse-onderrig en -opleiding aan met kursusse in inheemse tuinboukunde, die gasvryheidsbedryf en gids-opleiding Die kweek van inheemse fynbos en die bestuur van indringer-plante is deel van die kurrikulum. Die studente kweek endemiese fynbosplante en inheemse bome, soos die melkhoutbome, by die kwekery. Die plante word teen groothandelpryse aan die publiek verkoop.

Die kwekery se winste word vir die kollege aangewend. Die kollege het sy eie landskap-ontwerpspan wat tuin-uitleg vir plaaslike munisipaliteite en privaat persone kan behartig.

Soos sy pa, is Michael se stokperdjie ook botanie. Twee van die spesies wat hulle op Grootbos ontdek het, die Lachenalia lutzeyeri (bo) en die Capnophyllum lutzeyeri (onder), is na Michael se pa vernoem.

Die Stigting het al meer as 10 200 mense uit sewe gemeenskappe en 16 skole bevoordeel. Grootbos word internasionaal as ‘n wêreldleier in volhoubare en progressiewe toerisme gereken. Benewens al dié programme, word navorsing oor ekologiese, opvoedkundige en maatskaplike kwessies gedoen en oplossings wat waarlik ’n verskil maak, word geïmplementeer.

Phil Murray, die fondsinsamelingsbestuurder, verduidelik: “Al ons projekte is herhaalbaar en die sukses is meetbaar, en baie van hulle genereer hul eie inkomste of is gedeeltelik selfonderhoudend. Van byeboerdery tot veeteelt, die herwinning van kerse tot die uitroei van indringer-plantegroei, elke program word sorgvuldig saamgestel om ’n beter toekoms vir die plaaslike mense sowel as vir die omgewing te help verseker.”

Studente werk in die Grootbos-kwekery. Die kwekery is oop vir die publiek en alle wins word weer in die kollege teruggeploeg.

ONTDEK NUWE BLARE

In die laaste paar maande het hul bewaringspan 26 nuwe spesies by die plantelys in dié klein deeltjie van die unieke Kaapse Blomkoninkryk gevoeg. Tot dusver is 863 plantspesies op die reservaat geïdentifiseer en tydens grendeltyd is ’n nuwe plantspesie ontdek, die Indigophera sp. Dis die sewende nuwe plant wat in die laaste 20 jaar hier ontdek is.

Grootbos het ook drie melkhoutwoude, waar melkhoutbome wat honderde jare oud is, groei.

Phil vertel dat die stigting meer as 10 200 mense uit sewe gemeenskappe en 16 skole bevoordeel.

“Ons is ’n organisasie wat daarop ingestel is om mense te bemagtig deur middel van ekotoerisme en deur die ontwikkeling van sake-ondernemings, sport en opleiding in die gemeenskap. Wat Grootbos-stigting se bedrywighede ook anders maak, is dat gaste wat in die luukse lodges oorbly, direk tot die bewaring-inisiatief bydra omdat die winste in bewaring en opheffing teruggeploeg word,” verduidelik Phil terwyl sy ons deur die verskillende afdelings by die stigting se perseel neem.

Een van Grootbos se gidse, Nashlin Groenewald, help ’n jong gas om sy melkhoutboom te plant.

INDRINGERS WORD UITGEKAP

Die bestuur van indringer-plante word in die groter Walkerbaai-bewarea onderneem en 33 mense wat voorheen werkloos was, is nou voltyds hiermee bedrywig. Die bewarea is in 1999 gestig en beslaan sowat 21 000 hektaar waarvan Grootbos 2 560 hektaar beslaan. Die bewarea is op die been gebring om die gebied se unieke flora- en fauna-diversiteit te beskerm. Tans is daar 48 lede en Grootbos se bewaringspan werk nou saam met die ander grondeienaars.

Rebecca voeg by dat baie van die groter indringerplante wat verwyder word, as vuurmaakhout gebruik word.

Speldekussings (Leucospermum patersonii) het al op baie plekke uitgesterf en van die besbewaarde bosse kom in die kalksteen-heuwels op Grootbos voor.

“Omtrent 12% van die bewarea bestaan uit bewerkte landbougrond en die res is fynbos. Indringerspesies is ’n bedreiging vir die hele bewarea en verg bestuur op verskeie vlakke. Die verwydering van indringerplante is deel van fynbos-restourasie en ons mik om soveel as moontlik te verwyder om die veld kans te gee om te herstel.”

Albei botaniste noem dat die bedreigde spesies waarvan hulle al steggies gemaak en nuwe plante geplant het, onder meer melkhoutbome en die Elim-tolletjiebos (Leucadendron elimense) insluit. “Elim ferricrete fynbos van hierdie omgewing is ’n veldtipe met baie endemiese spesies wat krities bedreig word. Aangesien die grond waarop dit natuurlik groei, gewoonlik baie vrugbaar is, word dit intensief vir landbou gebruik en dus is daar nou net 5% van die oorspronklike spesies oor,” vertel Sean.

Rebecca voeg by dat fynbos op ’n rehabilitasiestrook op Plaas 215 herplant is en dat plante ook as deel van rehabili-tasiewerk ná padwerke, langs die pad na Baardskeerdersbos herplant is. Hoofsaaklik Elim-fynbosspesies is herplant waarvan ’n groot deel Elim-tolletjiebos was.

Die Grootbos-erica (Erica magnisylvae) is op Grootbos ontdek en kom net daar voor.

PIENK BLOMMESEE

As ‘n mens tussen Junie en Oktober op Grootbos kuier, is die veld oortrek met die pienk Gansbaai-erica (Erica irregularis). Die Kaapse Blomkoninkryk is die enigste plek in die wêreld waar hierdie plant natuurlik voorkom, vertel ons fynbosgids, Jo de Villiers.

“Ons het nie genoeg natuurlike brande om ons fynbos te onderhou nie en sonder gereelde brande sal die plante steriel word en doodgaan.”

Sy verduidelik dat fynbos ’n vuurgedrewe stelsel is. “Maar dié brande is teen die regte intervalle nodig. Onbeplande veldbrande rig baie groot skade aan omdat die plante nie behoorlik kan herstel nie. Ons het egter nie genoeg natuurlike brande om ons fynbos te onderhou nie en sonder gereelde brande sal die plante steriel word en doodgaan.”

Ons fynbosgids, Jo de Villiers, wys ons die Leucadendron coniferum, ook bekend as lollipops. Die plant hou die saad in totdat dit deur ’n veldbrand oopskiet. Dit word net in die Kaapse Skiereiland gevind en ook op die Agulhasplein van Kogelberg tot by Soetanysberg.

Sedert 2018 word die insekte wat in die fynbos gevind word en ’n integrale van bestuiwing en dus fynbos-voortplanting vorm, deur twee entomoloë bestudeer. Die Grootbos-versameling het 16 000 insekte met ’n beraamde 2 300 spesies.

As jy tussen Junie en Oktober daar kuier, is die veld oortrek met pienk Erica irregularis, ook bekend as Gansbaai-erica. Die Kaapse Blomkoninkryk is die enigste plek in die wêreld waar dit natuurlik voorkom.

BOSSIETEE-DOEPA

“Die passie vir fynbos het tot Grootbos se eie reeks organiese kruietees gelei, genaamd Vitality, Harmony en Tranquility. Die plante is uit volhoubare bronne afkomstig en is vir hul spesifieke gesondheidsvoordele gekies. Vitality bevat onder meer groenment en suurlemoenbos, wat goed is vir verkoue en kopseer; Harmony het peperment, sitroengras en kaneel in wat die immuunstelsel versterk en met spysvertering help; en Tranquility bevat hoofsaaklik boegoe wat anti-inflammatories en kalmerend is,” vertel sy.

Jo de Villiers pluk vir ons anysboegoe (Agathosma cerefolium). Die skerp reuk maak dit ’n gewilde bestanddeel in seep en parfuum.

Al die bestanddele kom van die reservaat en dis deur ’n farma-seutiese botanis en teeghoeroe, Ulrich Feiter van Parceval op Wellington, ontwikkel. Phil meld dat die genesende kwaliteite van rooibos en heuningbos welbekend is, maar dat kankerbos ook besonder baie voordele bevat, sowel as wilde knoffel en skilpadbessie.

Ons gaan sit in die glashuisie by die Stigting se ingang. Phil skink vir ons van die reservaat se eie kruietee. My oog vang die pragtige karton-glasmatjies waarop sy ons bekers neersit. “Daar is ses ontwerpe in die reeks en elkeen het die gewone en wetenskaplike naam van die dier op,” vertel sy. Al ses diere kom op Grootbos voor en die ontwerpe sluit onder meer oranjeborssuikerbekkie (Anthobaphes violacea), witkruispaddavreter (Circus maurus) en ratel (Mellivora capensis) in.

Die drie kruietees wat vir Grootbos ontwikkel is: Harmony, Vitality en Tranquility.

Interessante fynbos-feite wat ons fynbosgids, Jo de Villiers, met ons deel:

  • Die suurvy-kruiper (Carpobrotus edulis), help om grond-erosie te beveg en, in geval van ’n brand, kruip klein diertjies onder die brandbestande blare weg. Die eetbare vrugte maak heerlike konfyt. Die blaarsap is oorspronklik gebruik om brandwonde en bloublasie-steke te behandel omdat dit ’n natuurlike antiseptiese middel is.
  • Roosmalva (Pelargonium graveolens) is bekend vir sy kalmerende effek en vermoë om stres en angs te verminder. Die roosgeurige vlugtige olie is gewild in verskeie produkte, van kerse tot brander-olie.
  • Boegoe (Agathosma betulina) word nie verniet die ewige jeugplant deur die San genoem nie. Dit is uitstekend as insekweerder en ideale bevogtiger as dit met olie vermeng word.
Vanjaar was ’n rekord-oes van 1 212 kg heuning, ’n rekord in agt jaar.

SELFS DIE BYE IS BLY

Op pad terug deur die fynbos, merk ek byekorwe en ’n groentetuin. Jo vertel dat die reservaat tans 180 byekorwe het. Hulle het die afgelope jaar 1 212 kg heuning geoes, ’n rekord in agt jaar. Die heuning word deur die hoofsjef, Ben Conradie, en sy span in geregte op Grootbos se spyskaart gebruik en is ook in die aandenkingswinkel te koop.

Die groentetuin is deel van die reservaat se volhoubaarheidsprojek en lewer sowat 40 persent van die kombuis se groentebehoeftes. Die res word by plaaslike verskaffers gekoop om die koolstof-voetspoor so klein moontlik te hou.

Van Grootbos se heuning word in die aandenkingswinkel in die reservaat se lodge verkoop.

Grootbos het ook sy eie organiese plaas met hoenders en varke wat die organiese afval uit die kombuis vreet. Die fyngebaksjef verkies vars plaaseiers en daar is beslis geen tekort daaraan nie, lag Jo.

Hoofsjef Ben Conradie en ʼn ander lid van die groot sjef-span stap deur die groentetuin op Grootbos.

LOS NET JOU VOETSPOOR

Daardie middag kyk ons na die reservaat se staproetes wat deur fynbos kronkel. Elke roete het ’n kleurvolle kaart wat die hoogtepunte aandui.

Die geel roete strek oor 800 meter deur die melkhout-woud; die rooi roete van 1 km strek reg rondom die woud met uitsigte oor Walkerbaai en vertel meer oor Bartholo-meus Diaz. Op die blou roete van 2,5 km sien ‘n mens verskeie fynbosspesies en voëls en selfs Lomond Wynplaas in die verte. Die pers roete van 7,6 km loop verby die melk-houtwoud en stinkhoutbome oortrek met mos, en in die somer word jy ook met honderde speldekussings in blom beloon. Dis duidelik dat Grootbos se voorliefde vir fynbos beslis iets kosbaars vir die toekoms bewaar.

HEUNINGBROS

Dis heerlik saam met roomys of kan ook in donkersjokolade gedoop word om op sy eie te geniet.

Bestanddele:

  • 125g strooisuiker
  • 4 eetlepels fynbosheuning
  • 1½ teelepels koeksoda

Metode:

  • Meng die suiker en fynbosheuning in ’n kastrol en verhit tot die mengsel smelt. Dit sal donkerder word en borrel. Probeer om nie te veel te roer nie. Dit sal so 3 minute neem. Draai die vlam dood en klits die koeksoda by. Dit sal ’n vaalgoue kleur word.
  • Gooi dit onmiddellik op ’n stuk bakpapier of gesmeerde foelie uit. Laat dit stol en slaan dan met ’n houtlepel tot dit in honderde glinsterende stukkies versplinter. Gooi oor goeie kwaliteit roomys.
  • As jy dit op sy eie wil gebruik, neem groter stukke en doop in gesmelte donkersjokolade.

Naam: Grootbos Privaat Natuurreservaat | Area: Gansbaai, Wes-Kaap | Kontak: www.grootbos.co.za

Heiner, Michael se oorlede pa, het ’n boek saam met Sean Privett geskryf, genaamd Field Guide to the Flora of Grootbos Nature Reserve and the Walker Bay region.
Filed under: Farm Tourism, farmers, Sustainability

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published.