News
Leave a comment

Vier Internasionale #Sauvblancday in Suid-Afrika

Sauvignon Blanc liefhebbers – staan nader! Sauvignon Blanc Suid-Afrika, as die ambassadeur vir Suid-Afrika se mees geliefde wynkultivar, vier Internasionale #SauvBlancDay 2021 saam met die res van die wêreld – en jy is genooi.

Of jy nou ʼn ywerige drawwer is of ʼn fynproewer, ʼn natuurliefhebber of winskopiejagter, entoesiastiese fotograaf of ernstige Sauvignon Blanc geesdriftige, die naweek van Vrydag 7 Mei tot Sondag 9 Mei 2021 sal Sauvignon Blanc SA in elke behoefte voorsien met spesiale aanbiedinge, heerlike kos- en wynproeë asook interessante aktiwiteite by wynbestemmings regoor die Kaapse Wynlande – van kus tot kus.

As jy van die mees innoverende Sauvignon Blanc produsente in die land wil besoek, kan jy gerus ‘n hele wynnaweek beplan. ʼn Sauvignon Blanc meesterklas, ʼn pretdraf in die wingerd, ʼn Sauvignon Blanc-en-oester-proe, ‘n Moedersdagontbyt én ʼn eksotiese orgidee-uitstalling wag by Elgin Vintners op die skilderagtige Ridgelands-plaas. By Diemersdal sal jy bederf word met Sauvignon Blanc geïnspireerde tapas, ‘n “Celebrate Sauvignon” ete met Sauvignon Blanc van regoor die wêreld, ‘n vertoning deur die Blues legende Albert Frost én ‘n Moedersdagete.
 
WEN GROOT MET SAUVIGNON BLANC
 
Soek jy ʼn groter uitdaging? Dan is Rickety Bridge in Franschhoek net die regte plek met ʼn Sauvignon Blanc “Showdown”, gehout versus ongehout, waar jy vir jou gunsteling kan stem en moontlik ʼn kis wyn kan wen. Flagstone Kelder nooi diegene wat hou van fotografie om ʼn foto van hul gunsteling Flagstone Sauvignon Blanc op sosiale media te plaas vir die kans om ʼn gemengde kis wyn te wen. Moet ook nie die #SauvBlancDay kompetisie op Sauvignon Blanc SA se sosiale media platforms misloop nie – jy kan twee kaartjies wen vir die Groote Post Sauvignon Blanc-en-canapé-proe op Saterdag 8 Mei asook een dag se verblyf vir twee persone op Yzerfontein. Daar is ook twee kiste van die Sauvignon Blanc SA Top 10 wenner Cilmor se Limited Edition Sauvignon Blanc 2019 te wen.
 
PROE BEKROONDE SAUVIGNON BLANC
 
En daar is vele meer: ʼn komplimentêre glas vonkel Sauvignon Blanc by Bonnievale, ʼn Sauvignon Blanc aroma-proe by Zevenwacht Landgoed, ʼn terroir-gedrewe proe by Springfield, en Sauvignon Blanc met ‘n kaasbord by Mooiplaas om maar ʼn paar te noem. Moenie die geleentheid misloop om van die beste Sauvignon Blanc in die wêreld – soos by die onlangse Concours Mondial du Sauvignon-wynkompetisie bekroon, te proe nie. Ander lede van Sauvignon Blanc SA wat spesiale aanbiedinge ter viering van Internasionale Sauvignon Blanc-dag bied, hetsy aanlyn of by die kelder, sluit in Alvi’s Drift Wines, Conradie Family Vineyards, Groenland Wines, Hillcrest Estate, Spier Wine Estate, Bloemendal en Wildeberg Wine Farm.
 
Vir meer inligting oor die Sauvignon Blanc SA #SauvBlancDay vieringe en deelnemende plase, klik op www.sauvignonblanc.com/sauv-blanc-day. Belangstellendes kan Sauvignon Blanc SA skakel by 021 975 4440 of ʼn e-pos stuur na reinette@sauvignonblanc.com.
 
VIERING VAN ‘N NUWE INTERNASIONALE VENNOOTSKAP
 
Sauvignon Blanc, as die kultivar waarvan daar die meeste wyn uitgevoer word, is een van Suid-Afrika se top internasionaalbekende handelsmerke. Sauvignon SA is daarom trots om ʼn nuwe platinumvennootskap aan te kondig met die Italiaans-gebaseerde internasionale handelsmerk EVER srl. Dié handelsmerk word deur EVER Solutions in Suid-Afrika verteenwoordig.
 
Hierdie opwindende nuwe vennootskap lei ʼn nuwe era in vir Sauvignon Blanc in Suid-Afrika. “Die afgelope 15 jaar het ons die Sauvignon Blanc SA-handelsmerk saam met ons platinumvennoot FNB uitgebou,” sê RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc SA. “Sauvignon Blanc is ʼn perfekte voorbeeld van die kompleksiteit en verskeidenheid wat Suid-Afrikaanse wyne bied. Net so bied FNB innoverende en diverse finansiële dienste wat produsente bystaan met die ontwikkeling van nuwe wingerde en ʼn groeiende produksie.
 
“Ons is ontsettend opgewonde oor die betrokkenheid van ons nuwe platinumvennoot, EVER Solutions, ʼn toonaangewende vervaardiger van biotegnologie en prosesseringshulpmiddels in die wynmaakproses, wat nou saamwerk met wynmakers in die ontwikkeling, verbetering en beste aanwending daarvan.”


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *