News
Leave a comment

Tim Atkin se 2021 South Africa report bekend gestel

Tim Atkin MW, steeds ’n groot ondersteuner van Suid-Afrikaanse chenin blanc as ’n bron van opwindende en oorspronklike wyne, stel nou sy visier op syrah. Hy beskou dit as die Kaap se “beste rooi druif”, en dis ook die basis vir die land se enigste wyn wat volpunte in sy 2021 South Africa Report behaal het, naamlik die Rhône-styl Sadie Family Columella 2019.

Tim Atkin MW

Atkin se jaarlikse verslag, nou in sy negende uitgawe en van môre (10 September) af beskikbaar by www.timatkin.com, het ’n belangrike maatstaf vir plaaslike produsente geword wat sy puntetoekennings as kriterium vir hulself gebruik. Atkin word ook wyd erken vir sy ongelooflike vermoë om die land se top talent raak te sien wat van hom ’n gesaghebbende gids maak van die Suid-Afrikaanse kategorie vir sowel die handel as verbruikers regoor die wêreld.

Hierdie is die vierde keer sedert die ontstaan van die South Africa Report dat ’n wyn volpunte ontvang, en die tweede keer vir die Sadie-familie. In 2020 het hul Skurfberg Chenin Blanc 2019 dit ook reg gekry. Vanjaar het die Skurfberg Chenin Blanc 2020 ’n byna volmaakte 99/100 aangeteken.

Twee ander wyne het ook 99 uit ’n moontlike 100 punte behaal. Hulle is die Alheit Vineyards Magnetic North Chenin Blanc 2020 en die Porseleinberg Syrah 2019. (Verlede jaar het die Porseleinberg Syrah 2018 volpunte behaal.)

Atkin sê albei chenin blancs wat 99 punte aangeteken het, is gemaak van druiwe uit ou wingerde op dieselfde plaas in die Citrusdal-berge.

Alesaam 23 wyne het 97 punte of meer aangeteken, met syrah aan die voorpunt. Vyf van die top plekke word deur hierdie kultivar beklee.

“Ek lig my hoed vir die wynmakers en wingerdboukundiges wie se wyne sulke hoë punte aangeteken het, veral in hierdie moeilike tye waarin die Suid-Afrikaanse wynbedryf hom bevind!”

Peter-Allan Finlayson

Vanjaar het die titel van Wynmaker van die Jaar gegaan aan Peter-Allan Finlayson van Crystallum en Gabriëlskloof. “Verlede jaar is sy pa, Peter Finlayson, gekroon as Wynlegende. Daar is iets besonders aan ’n tradisie van familie-uitnemendheid.”

Charles Back

Atkin noem die 2021- wynmaaklegende, Charles Back, “een van die land se mees visionêre, dapper en baanbrekende wynpersoonlikhede. Dit was hy wat die revolusionêre skuif na die Swartland gemaak het en sodoende die katalisator vir aansienlike verandering in druiweverbouing en wynmaak gelei het. Hy het gehelp om nuwe kultivars bekend te stel vir die Kaap, hy het nuwe standaarde vir wyntoerisme daargestel en hy was een van die mees progressiewe werkgewers. En hy het ook vir Eben Sadie ’n werk gegee toe dié nog relatief onbekend was”.

Eben Sadie

Elizma Visser, wat sedert 2015 wyn maak by Olifantsberg in die Breedekloof, is die Jong Wynmaker van die Jaar.

“Die samestelling van my negende SA verslag was ’n voortsetting van dieselfde afstand-beoordelingsproses wat ek verlede jaar gevolg het met die vrygewige hulp van Wines of South Africa (WOSA) en ander rolspelers in die bedryf, om nie eers te noem die sowat 70 Zoom-oproepe met plaaslike produsente nie.”

Elizma Visser

Atkin het 1 783 wyne van 311 produsente geproe, aansienlik meer as verlede jaar se 1 381.

TIM ATKIN MW SOUTH AFRICA REPORT: DIE PODIUM 2021

Wynmaker van die Jaar: Peter-Allan Finlayson van Crystallum en Gabriëlskloof

Jong Wynmaker van die Jaar: Elizma Visser van Olifantsberg

Wingerdboukundige van die Jaar: Marco Ventrella van die KWV

Marco Ventrella

Koöperasie van die Jaar: Koelenhof Winery

Wynmaaklegende: Charles Back van Fairview en Spice Route

Beste Kelderdeur-ervaring: Waterford Estate

Algehele Witwyn van die Jaar: 2020 Alheit Vineyards Magnetic North, Citrusdal-berge

Algehele Rooiwyn van die Jaar: 2019 Sadie Family Columella, Swartland

Algehele Rosé van die Jaar: 2020 Bellingham Founders’ Series Quintessential Couple, Stellenbosch

Algehele Vonkelwyn van die Jaar: Colmant Brut Absolu Zero Dosage Non-Vintage, Wes-Kaap

Algehele Soetwyn van die Jaar: 2018 Klein Constantia Vin de Constance, Constantia

Algehele Gefortifiseerde Wyn van die Jaar: 2004 Boplaas Cape Vintage Reserve, Calitzdorp

Rooiwyn-ontdekking van die Jaar: 2018 Taaibosch Crescendo, Stellenbosch

Witwyn-ontdekking van die Jaar: 2020 Mullineux Iron Chenin Blanc, Swartland

Beste Waarde- Witwyn van die Jaar: 2020 Cape Dreams Chardonnay, Robertson

Beste Waarde- Rooiwyn van die Jaar: 2019 Mountain Ridge Cabernet Sauvignon, Breedekloof

Beste Waarde- Rosé van die Jaar: 2021 AA Badenhorst Secateurs Rosé, Piekenierskloof

Beste Waarde- Vonkelwyn van die Jaar: Saltare Brut Rosé Non-Vintage, Stellenbosch

Beste Waarde- Soetwyn van die Jaar: 2020 Joostenberg Noble Late Harvest Chenin Blanc, Paarl

Beste Waarde- Gefortifiseerde Wyn van die Jaar: 2019 Du Toitskloof Red Muscadel, Breedekloof

Besoek https://timatkin.com/about-tim/ vir meer inligting oor Atkin se loopbaan in wyn.

Leave a Reply

Your email address will not be published.