Farm to Fork, farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Só word een se kompos ’n ander kosbaarheid

Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Verskaf

Deur die eeue heen het koeiskedels ’n groot kulturele en geloofsimbool in lande regoor die wêreld geword. In ander lande, soos in Suid-Afrika, word diereskedels meestal vergruis om as veevoer of troeteldierkos gebruik te word, of die horings word blinkgemaak en as ornamente verkoop. Maar Jacqueline Chantler verander hierdie afvalproduk in pragtige skedel- en horingkuns.

Jacqueline Chantler se pragtige skedel- en horingkuns is treffende kunswerke in eie reg. Sy werk met verskeie dierskedels, maar verkies die buffelskedel omdat dit ’n groot oppervlak gee om te versier en dit vir haar ’n ongelooflike dier is.

Jacqueline het vyf jaar gelede begin om diereskedels te verf en te versier. Drie jaar gelede is haar onderneming, Koppe, gebore. Voor sy met die skedels begin het, het sy haar eie klere gemaak of vintage klere versier en verander. “Ek sit basies krale op enigiets, oud en nuut, en alles wat ek kan kry.”

LEER SPEEL-SPEEL

Sy het aanvanklik modeontwerp studeer en toe as stilis in Kaapstad gewerk. Sy vertel: “My ma, Anet, het toevallig vir my die idee gegee om skedels te verf, toe sy ’n paar skedels wat in die veld gelê het, op my pa, Peter, se plaas naby Bethulie in die Vrystaat, opgetel het en die kleinkinders daarop laat teken en verf het. “Ons het pas na George verhuis en ek wou iets hê wat ek vir ’n ekstra inkomste van die huis af kon doen terwyl ek kinders grootmaak,” vertel sy.

Die skedels word eers tot op uitvoergraad skoongemaak, geen haartjie of ander stukkie vel bly agter nie. Sy wil nie te veel oor die proses verklap nie – hoe sy verhoed dat goggas en kewers later die skedels besmet, watter verf sy gebruik, of hoe sy die skedels verseël nie, want dis haar intellektuele eiendom en natuurlik die rede vir haar sukses. Wat sy wel erken is dat haar tegnieke die afgelope vyf jaar baie verbeter het, want sy leer voortdurend.

Haar vernuf het haar vroeër vanjaar die gesogte Britse Business Excellence Awards 2021: Beste Internasionale Kunstenaar (Suid-Afrika) besorg. Die organiseerders het haar werk op sosiale media gesien en haar toestemming gevra om haar in te skryf.

Jacqueline het onlangs ’n klein winkel en ateljee in Courtneystraat op George geopen, om haar werk- en gesinstyd te skei.

TIPIESE PATRONE

Die skedels in die reeks het name soos Mandala, Africana, Sugarskull, Espana, Delft en Boho en hulle ontwerpe kom van die lande en die temas waarna die verskillende name verwys. Mandala is byvoorbeeld ’n Indiese patroon soortgelyk aan ’n Henna-tatoeërmerk, Sugarskull is deur die Meksikaanse Dag van die Dode-fees geïnspireer, Delft is geskoei op ’n Hollandse verftegniek, en so meer.

Haar eerste Africana-kop met sy Afrika-kleure, -motiewe en -krale, bly haar grootste gunsteling en vandag pryk dit in Boston, Amerika, teen ’n gelukkige koper se muur. Africana is ook die gewildste in haar reeks, maar baie klante vra vir spesifieke kleure of patrone, om by hul huisdekor aan te pas. “Die ontwerpe en motiewe vir die skedels kom van my reise deur Europa, die Midde-Ooste en Suidoos-Asië af. Buiten Suid-Afrika, kom die grootste belangstelling van kopers uit Europa.”

Jacqueline het al skedels van eland, water-bok, springbok, impala, wildebees, buffel, skaapram, vlakvark, sebra en donkie geverf, maar die beesskedels bly die gewildste. “Ek verkies die buffel,” gesels sy. “Ek hou daarvan om op die groot oppervlak te werk en dis net eenvoudig ’n ongelooflike dier.”

Skedels word eers tot op uitvoergraad skoongemaak, geen haartjie of ander stukkie vel bly agter nie.
“Behalwe vir verf, is ek mal oor kralewerk. Al my koppe het krale op. Ek versier alles in my huis met krale – tot my man, John, se branderplank!” vertel sy laggend.

PAS DIE KLEURE BYMEKAAR

“Die skedelbeen self verskil nie van een soort dier tot ’n ander nie, maar die grootte verskil wel. Sekere skedels is baie kleiner as ander. Die uitdaging is om die patrone vir elke skedel uit te werk en daarom is elkeen waarlik uniek!” Tans het sy 15 verskillende reekse. Sy wissel die kleure, motiewe en afwerking af en sy sit soms krale by. “Maar eintlik is my reeks eindeloos, want die meeste koppe word volgens die koper se spesifieke behoeftes gemaak.” Dit neem haar ongeveer drie tot vier weke om een skedel te voltooi. Dit sluit die skoonmaak, versiering en verseëling in.

Jacqueline het vir twee jaar uit die gesin se motorhuis gewerk. Dit was ’n veelkleurige ruimte met musiek as inspirasie. “Daar is heeldag musiek – musiek is my lewe; ek kan nie daar-sonder werk nie en dit help my om te fokus.” Sy vertel: “Ek verf terwyl my kinders, Anna (4) en John (6), in die skool is, maar ek doen baie van my werk in die nag terwyl almal slaap. Ek is ’n grensgeval insomniac en kry my beste idees wanneer die huis stil is!”

TOE KRY DIE PERDE HORINGS

Maar soos haar koppe al hoe gewilder geword het, het die aanvraag te veel vir een mens geword en moes sy drie mense aanstel. Die uitbreiding het ook haar werksruimte ontgroei en daarom het sy besluit om haar werk en familielewe te skei. Die werkswinkel het dus onlangs na ’n klein winkel/ateljee op die dorp verskuif, vanwaar sy deesdae werk.

Lede in haar span doen van die krale- en verfwerk saam met haar, maar Jacqueline doen altyd die laaste afrondingswerk op elke produkte en sy verpak dit ook self. Sy kry aanlyn bestellings van regoor die wêreld op haar webwerf: www.koppe.co.za – of as jy by haar winkel wil gaan inloer, die adres is Winkel 29B, Courtneystraat, George.

Haar inspirasie kom uit musiek, verskillende kulture en kleure. Sy stoor idees uit die diverse kultuurkuns van Afrika, Spanje en die Midde-Ooste in haar onderbewussyn, maar verf alles uit haar kop uit, soos die inspirasie haar beetpak.

Sowat 2,5 jaar terug het sy besluit om haar aanbieding te vergroot en ander markte te teiken. Die uitvloeisel van dié besluit was skedels van klei en glas wat sy versier, bak en glasuur. Hierdie skedels is heelwat kleiner as die diereskedels waarmee sy begin het. Die klei en glas skedelvorms word deur iemand anders gemaak en sy versier dit met verskillende ontwerpe.

Jacqueline staan nie net in verwondering oor hoe haar onderneming die laaste paar jaar gegroei het en die belangstelling in haar kuns toegeneem het nie, maar sy is ewig dankbaar. “Ek voel ’n band met elke kop waarmee ek werk, want dit was ’n lewende wese. Ek staar vir ongeveer twee weke tydens die proses in die oogkaste wat my ’n ongelooflike band met elkeen gee. Dis hoekom ek so sukkel om hulle te laat gaan! Die kop-kunswerke het my lewe verander.”


EIENAAR: Jacqueline Chantler NAAM: Koppe KONTAK: www.koppe.co.za


Filed under: Farm to Fork, farmers, Niche Farmers

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published.