Events, farmers, News
Leave a comment

Marjolijn Malan en Fifty Shades of Green by NAMPO Kaap

Besoekers aan NAMPO Kaap staan jaarliks verstom oor die indrukwekkende Nedbank blommerangskikkings-uitstalling onder leiding van Marjolijn Malan. Vanjaar sal geen uitsondering wees nie. Met die tema Netwerk met die natuur, beloof dit om weer ‘n skouspel van blommeprag te wees.

Marjolijn Malan se fantasievoel

Vir NAMPO Kaap 2022 bou Marjolijn ‘n reuse-gedekonstrueerde protea-installasie en ‘n fantasievoël wat gemaak is van volstruis- en bloukraanvoëlvere en honderde Sewejaartjies, wat ook die skaars Aarbei Sewejaartjie insluit.

Aarbei Sewejaartjie

Bekende blommerangskikkers van so ver as Kaapstad en George gaan aan ’n kompetisie met die tema Fifty Shades of Green deelneem. Die publiek sal weer die beoordelaars in hierdie kompetisie wees en kan vir hul gunsteling stem. By NAMPO Kaap 2019 het meer as 1000 besoekers aan die stemming deelgeneem.

Besoekers sal hul ook kan verlustig aan blomontwerpe getiteld Kleure van die Overberg. Dit sluit in ‘n blou kraanvoël, ‘n plaas en ‘n spesiale ontwerp wat uitbeeld hoe ‘n bontebok en ‘n miskruier aanleiding gegee het tot die voortbestaan van ‘n seldsame restoïede. Daar sal ook ’n uitstalling van inheemse medisinale plante wees.

Gerhard van Deventer van Zandberg Fynbos gaan ’n indrukwekkende versameling plante en rotse vertoon. Lede van die CREW (Custodians of Rare and Endangered Wildflowers) Program is betrokke by die versameling van hierdie plantspesies.

Geoffrey Visser, ‘n botaniese waterverf kunstenaar van Swellendam, sal as deel van die uitstalling skilder en sy kunswerke ten toon te stel. Marina Blight, ‘n plaaslike kunstenaar van Bredasdorp sal ook spesiale olieverfskilderye van fynbos vertoon.

Eikenhoff Orchid Farm sal asemrowende orgideë, insluitend ‘n paar skaars spesies, vertoon en verkoop. Pierre Martheze, die eienaar, sal daar wees om enige navrae oor die voortplanting en versorging van orgideë te beantwoord.

Psychopsis Mariposa

Besoekers sal vars blomme van Floraland Fresh kan koop en daar sal ‘n uitstalling van speelgoed vir kinders deur Blooming Essentials wees. Die speelgoed is gemaak van natuurlike materiale en gebaseer op die werklikheid.

Elim Fynbos-uitstalling

Vanjaar is daar ‘n bykomende fees van blomme tydens NAMPO Kaap met die Elim Fynbos-uitstalling in die Shellsaal. Die verskeidenheid van spesies van die Elim-streek sal op ‘n natuurlike wyse in hierdie uitstalling uitgebeeld word.  ‘n Verteenwoordiging versameling van die Fynbos spesies uit die Elim-omgewing sal te siene wees. Die blomme sal vertoon word soos hulle in hul natuurlike habitat groei en sal aan besoekers  die gevoel gee asof hulle in die veld stap.

Die Elim-opsienerraad is verantwoordelik vir hierdie uitstalling asook die teetuin en stalletjies waar besoekers aan tipiese Overbergse lekkernye  kan smul en waar plaaslik vervaardigde Elim kuns, kunsvlyt en vars fynbosblomme te koop sal wees.

Skaars en bedreigde spesies

Rupert Koopman, Bewaringsbestuurder van die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika sal Woensdag en Donderdag in die Shell-gebou wees om oor die skaars en bedreigde spesies van die Elim-gebied te praat. Hy sal ook praat oor ’n nuwe spesie wat onlangs vir die eerste keer beskryf is.

Toegangskaartjies

Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za maar daar sal ook kaartjies by die hekke verkoop word. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders.  Voorskoolse kinders kom gratis in. Die ekspo duur van Woensdag 14, tot Vrydag, 17 September, van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 17 September, van 08:00 – 14:00. Vir verblyf kan besoekers  gerus die Kaap Agulhas Toerismekantoor by 028 424 2584 / 082 896 2225 kontak of www.overberg-info.co.za.


Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2022, besoek www.expo.org.za of of laai die NAMPO CAPE 2022 App af. Die  Android weergawe is beskikbaar op  Play Store.en die  iOS weergawe op  App Store.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *