Duisende nertse (mink) is vandeesweek uit hul hokke by ‘n plaas in die noordweste van Ohio deur inbrekers (uitbrekers?) vrygelaat.
Tussen 25 000 en 40 000 van die pelsdiertjies is vrygelaat nadat verdagtes by die Lion Farms USA Mink Farm in Hoaglin Township, Ohio, ingebreek en heinings vernietig het.
CNN sê volgens die balju het baie van die nertse Dinsdagnag op die plaas gebly – en sommige is “deur werknemers vasgetrek,” sodat slegs ‘n geraamde 10 000 steeds op vrye voet is.

Nertse is otteragtige roofdiertjies.
“Hulle kan ‘n plaag vir huiseienaars en veeboere wees,” sê die balju. “Veral problematies vir pluimveeboere sowel as huiseienaars met koi en ander visse.”
Mense is versoek om nie die diere te nader nie omdat hulle kan byt.
Die Amerikaanse nerts is waardevol vir pelsjasse en mode-items. Dierewelsyn-aktiviste is gekant teen hul behandeling op pelsplase. Amerikaanse nertse het populasies in Europa (insluitend Groot-Brittanje en Denemarke) en Suid-Amerika gevestig. Sommige mense glo dit het gebeur nadat die diere deur aktiviste van minkplase vrygelaat is, of ontsnap het.
Coronavirus
In Junie 2020 het Science berig owerhede in Nederland moes tienduisende nertse vergas, die meeste van hulle kleintjies wat slegs weke gelede gebore is. SARS-CoV-2 het pelsplase infekteer en die Nederlandse regering was bekommerd dat besmette mink ‘n virale reservoir kan word wat nuwe uitbrake by mense kan veroorsaak.
Die mink-uitbrekings was ‘n “byproduk” van die menslike pandemie – ‘n tipe omgekeerde soönose wat wetenskaplikes in Nederland ‘n unieke kans gebied het om te bestudeer hoe die virus tussen spesies spring en deur groot dierebevolkings versprei.
Saamgestel van CNN, Science Journal en Wikipedia