farmers
Leave a comment

Wortels in woestynsand

Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Michel Dei-Cont

Die Khomani-San-projek is ’n unieke gemeenskapsprojek waar grond deur verskeie San-boere bewerk word en ’n jagplaas deur die gemeenskap besit en bestuur word. Die gemeenskap het die grond ná ’n suksesvolle restitusie-eis in 1999 ontvang.

Met sy koeldrankbottel lyk ons gids besonder baie na N!xau uit ‘n eertydse Jamie Uys-fliek.

Die totale gebied hier bestaan uit 43 000 hektaar wat agt stukke plaasgrond insluit, ook ’n jagplaas van 6 000 ha en 3 500 ha by Witdraai waar die inwoners ’n tradisionele lewenstyl handhaaf. Daar is ook 25 000 ha in die Kgalagadi-oorgrenspark wat gebruik word vir tradisionele regte soos veldskole, medisinale plantversameling en kultuurbevordering deur die gemeenskap se ouer mense aan die jongmense. 

ERKEN AS ERFENIS

Charl Page is die afgelope vyf jaar die plaasbestuurder van die projek en hy vertel: “Die hele Suid-Afrikaanse gedeelte van die park, 960 000 ha, is in Julie 2017 deur UNESCO as negende Wêrelderfenisgebied in Suid-Afrika verklaar en staan bekend as die Khomani-San-Wêrelderfenis Kulturele Landskap. 

Onder sy toesig het die jagplaas ’n werklikheid geword. Sonkrag word ingespan om alles in stand te hou. Daar is ’n kantoorgebou, en water en blyplek vir personeel en gaste en dis in die jagseisoen volbespreek. Die projek spog met nuwe wildkykvoertuie, kapasiteitsbou-programme, sowel as hul eie geregistreerde handelsmerke en logo’s. Wild is van SanParke verkry.

“Die jagplaas werk baie goed, want alle inkomste uit die projekte, gaan na die gemeenskap. Ons wil nog een van die agt plase wat geboer word, in ’n jagplaas omskakel om in die aanvraag te voorsien,” vertel hy. 

Die paaie na verskillende kampe word goed in stand gehou.

Ons ontmoet ook vir Fred Padmaker, operasionele bestuurder van die projek en Elvis Swartz, wat ons by ’n wildkykvoertuig inwag. Elvis het ’n klein velletjie om sy heupe en om sy skouers en loop met ’n lang kierie. Ons ry deur Erin, die jagplaas van 6 000 ha.

DORINGMEDISYNE

Elvis wys ons die driedoringbosse langs die pad en vertel dis baie goeie maagmedisyne. Toe ek die ruie graspolle sien, vra ek uit waarvoor dit gebruik word. “Dié suurgras? Nee, dis nie goed vir enigiets nie, dit brand net my bene,” laat hy hoor.

Versamelvoëlneste is eie aan die Kalahari.

In ’n boom sit drie witrug-aasvoëls en Fred wys vir ons kamele in die verte. Hy vertel opgewonde dat hulle die kamele “hier kom kry het” en dat hulle baie respek het vir die woestyndiere wat oor die eeue in die vlaktes ingespan is. Elvis vertel dat hulle net kleinwild mag jag; vir grootwild het hulle ’n permit nodig.

“Die jagplaas werk baie goed, want alle inkomste uit die projekte, gaan na die gemeenskap. Ons wil nog een van die agt plase wat geboer word, in ’n jagplaas omskakel om in die aanvraag te voorsien,” vertel Charl.

“Die kleinwild soos springbok, steenbok, bakore [jakkals] is die beste om te jag, maar die maklikste is die katte soos die groukat, sien jy?” Elke sin word afgesluit met ’n “sien jy” en ek moet later glimlag as ek myself vang soos ek vir die frase wag.

Kamele is jare lank as trekdiere gebruik.

Hy verduidelik hoe hulle met pyl en boog jag. Die pylpunt word met die “veld se gif” gesmeer, maar as jy wil doodskiet, moet jy naby wees. Hy vertel dat die groukat ’n maklike prooi is, maar sy vleis maar min is. Ek wonder hoe verskil ’n karnivoor se vleis van ’n herbivoor. Hy frons en antwoord: “Dit smaak soos vleis. Vleis is vleis.”

KAMPVUURSTORIES

Fred stop vir ons by die tentekamp, ’n groot gunsteling onder jagters. Hy wys ons die voëlskuiling by die watergat en die lekker groot braai-area. Hy vertel met ’n knipoog dat dit is waar daar snags onder die sterre baie brandhout tot as verander word. 

Gaste wat op Erin-jagplaas, net buite Askham, wil oorslaap, kan hierdie oulike, gemaklike safari-tente bespreek.

Die ses tente kan 12 mense slaap en daar is ’n gemeenskaplike kombuisgedeelte, maar elke tent het ’n gasbraai op die stoep, sou jy nie lus wees om saam met die groep te kuier nie.

“Hier op Erin loop gemsbokke, blouwildebeeste, rooihartebeeste, elande, sebra, volstruise, kameelperde, kamele en springbokke. Koedoes is mos maar rondloperdiere, so hulle kom en gaan, maar nie alle wildsoorte word geskiet nie.”

Jagters kan ’n pakket bespreek wat gidse, verblyf, jag en die verwerking van hul vleis insluit. Ek is verbaas oor die jag-aspek, want dis bewaringsgrond. Fred antwoord: “Ons is conservationists en ons weet hoe dit werk, maar ons moet ook iets opbou en die inkomste van die jag is juis dit.”

Ons kyk na die driedorings wat vir skerms gebruik word en hoor dat jagters op jagtogte stap en nie na aan die watergate mag skiet nie. Daar word ook nie sonder gidse op die jagplaas gery nie.

Hy sê hierdie is maar ’n “mond tot mond besigheid”. Fred is van Andriesvale buite Askham en het sy vlak 5 veldgids-kwalifikasies by die Wildlife College voltooi.

Die akkommodasie by die jagkamp is lekker gerieflik ingerig sodat jy sag kan slaap ná ’n lang dag in die veld.

HULP UIT DIE NOORDE

Ek vra uit oor ’n artikel wat ek oor die Boesmans gelees het oor hoe dinge vir ’n paar jaar goed voortgegaan het nadat hulle hul grond teruggekry het, maar hoe dinge toe vinnig skeefgeloop het. Hulle het toe by Rotariërklubs in Duitsland en Suid-Afrika om hulp aangeklop. Die Duitse Ministerie vir Internasionale Samewerking en Ontwikkeling (BZM) het aangesluit om die projek vir vier jaar te ondersteun.

“Khoisan kom uit die Kaap. San is anders. Ons is Boesman.” Elvis voeg by dat “toe ek gebore word, ek maar net gehoor het van Boesman en dis wat ek is”.

Ek vra vir Fred hoekom hulle projek amper gefaal het. As die Boesmans – ’n nomadiese stam wat geen besittings het nie en van die land leef – hul grond teruggekry het en nou weer vry kan wees, hoekom het hulle finansiële hulp nodig? “Ons het soveel verbaster oor die jare, ons het nie meer daai in ons om in die veld te leef nie. Jy kom daar in die Kalahari en jy het grond, maar daar is nie werksgeleenthede of geld nie. Sonder werksgeleenthede is daar nie geld nie; sonder geld kan jy nie eet nie.”

Ek wonder hoekom dit vir die Boesmans belangrik is om hulle kultuur en tradisies te bewaar, waarop hy antwoord dat dit belangrik is om te weet waar ’n mens vandaan kom. “As jy wegdwaal van jou tradisies, het jy niks om voor te leef nie. Jou tradisie en kultuur moet uitgeleef word en dis hoe jy weet wie jy is en hoe jy vir jou kinders kan leer wat hul geskiedenis is.”

Verskeie wildkykvoertuie gee besoekers van oraloor die geleentheid om die kamp te verken. Fred Padmaker, operasionele bestuurder van die projek, en Elvis Swartz maak ons touwys.  

Die 700 mense wat uit sowat 120 gesinne bestaan, boer en woon in ’n gebied van net minder as 47 000 ha wat uit agt plase en tradisionele grond bestaan. Fred sê hulle voel nie – soos mense soms dink – of hulle nou weer binne grense moet woon, soos die tuislande van ouds nie. “Ons het die finale sê; ons is die besluitnemers oor wat op die land gebeur. Die gemeenskap is betrokke en hulle het die sê hier oor die grond. Die grensdrade is daar bloot om die diere binne te hou.” 

Fred vertel dat hy en die gemeenskap uitsien na die toekoms. Hul hoop is dat die plaas onder goeie bestuur sal groei tot dié spogplaas in die Kalahari en die gemeenskap nog meer kan baat. Hy vertel met trots dat dinge baie verbeter het vandat die projek tot stand gekom het. Jongmense is vir opleiding gestuur wat hulle dan daar kom terugploeg; werksgeleenthede is geskep en mense is bemagtig om hul eie baas te wees.

HOE’S JOU NAAM?

Ons kom natuurlik by die groot vraag: daardie issue van wat hulle genoem wil word: Khoisan, Khoi, San, Boesman. Elvis en Fred is altwee vinnig om te sê dat hulle Boesman is. “Khoisan kom uit die Kaap. San is anders. Ons is Boesman.” Elvis voeg by dat “toe ek gebore word, ek maar net gehoor het van Boesman en dis wat ek is”.

Fred stap weg en sê so in die loop dat hy net gou ’n sigaretjie “wil brandmaak”. Ek gesels met twee Namibiërs wat gereeld hier kom jag. Hulle weet te vertel dat dit lekker is om hier teen die duine te jag en hulle hoop om met hierdie jagtog gemsbokke en blouwildebeeste te skiet.

Ons groet vir Fred om vir ’n uur saam met Elvis deur die veld te stap. Sy kennis van die veld kom van sy pa en ma af. Hulle is albei lankal oorlede, maar as klein seuntjie het hulle hom die dinge van die veld geleer. “Hulle was my skool; my meneer en my juffrou. Hulle het my geleer wat jy eet; waar jy loop en wat goed is vir medisyne.”

Elvis Swartz soek vir diere in die oop veld.

Hy stap voor; ons stap vir veiligheid in enkelgelid agterna. Hy wys ons bokspore in die sand en so in die loop sê hy hoe opgewonde die Khomani-San-projek hom maak; hy sien uit na die toekoms.

Ons sien ’n aardvark langs pad en ’n rooihartebees wat oor ’n duin verdwyn. Hier is meer as 700 diere op die plaas. Ná onlangse buitengewone reënval was alles grasgroen; die gemiddeld is 50-60 mm, maar in 2018 het daar selfs meer as 240 mm geval.

Elke keer as ek van die Kalahari praat, lag hy uit sy maag. Ek vra hoekom. “Ons roep hom die Kalari. Julle roep hom só hoog: Ka-la-haarie. Dis vir my snaaks,” vertel hy.

Hy pluk verkouebos in die veld, want hy sukkel met ’n kopverkoue en wys so tussen die plukkery deur vir ons die gebreekte takke van ’n bos wat deur ’n gemsbok só gekarnuffel is om sy horings skerp te maak en hy ril toe hy ’n haarskeerder sien. Hy sê as jy langs die vuur lê en die haarskeerder kry jou beet, skeer hy ’n pad oop deur jou hare. “Hy maak ’n blinkkol deur die hare,” vertel hy.

Die spore van die Khomani-San lê diep.

Ons gesels weer met Charl. Hy sê as hy een ding moet uitlig waaroor hy spyt of hartseer is, is dit die feit dat daar geen daadwerklike vooruitgang of ontwikkeling ná die restitusie-eis in 1999 plaasgevind het nie.

“Daar was in 17 jaar baie min ontwikkeling. Ekonomiese én sosiale ontwikkeling in projekte van hierdie aard is van kardinale belang. Die projek se werksaamhede moet deursigtig en volhoubaar wees.” Die Khomani San Common Property Association (CPA) neem die besluite en die kantoor implementeer dit.

TRADISIEVEREERDERS

Natuurlik is daar die kwessie oor hoe om die moderne leefstyl van selfone, kitskos en die internet met die tradisionele leefstyl van die Boesmans te versoen. Charl sê dat verwestering sekere voor- en nadele inhou, maar dat die kultuur en tradisies deur veldskole en die spoorsnyskool behoue moet bly. “Maar daar moet ekonomiese ontwikkeling wees om sosiale ontwikkeling te laat gebeur.”

As hy die boere besoek en sien hoe goed dit met hulle gaan, maak dit hom bly om te sien dat hul kapasiteit opgebou is en hulle selfonderhoudend is. “Maar hulle het steeds hulp en leiding nodig,” voeg hy nadruklik by.

Die kinders van die Kalahari streef daarna om hul natuurlike leefwyse met moderne leefstyl te vereenselwig.

Charl is baie positief oor die toekoms van die projek en sy mense. “Ek voel baie goed; daar is min ander projekte in die land wat op hierdie stadium ’n inkomste toon en soveel planne vir die toekoms het.”

“Ek wil nie voorloop nie; ek wil nie agterloop nie; ek wil net saam met my gemeenskap die pad stap.”

Die gemeenskap se geliefde leier, Dawid Kruiper, wat ’n groot rol in die sukses van die restitusie-eis gespeel het, is in 2012 oorlede. Hy is opgevolg deur Petrus Vaalbooi. Charl sê: “Hy is ’n man met ’n visie vir sy gemeenskap. Ek het baie agting vir sy standpunt as hy sê: ‘Ek wil nie voorloop nie; ek wil nie agterloop nie; ek wil net saam met my gemeenskap die pad stap.’”


Eienaar: Gemeenskap | Besigheid: Khomani-San-projek | Area: Askham, Noord-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: www.khomanisan.combushmancouncil@khomanisan.com

Filed under: farmers

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published.