Agri-Apps, farmers
comments 2

Boer op jou foon – letterlik

Koop vir iemand ‘n boom volgende Kersfees of vir hul verjaarsdag. Nie een wat later stof gaan vergader nie – ‘n regte boom, wat neute dra en oor jare ‘n stewige opbrengs kan verdien. Jy kan ook ‘n aandeel in ‘n groentetuin koop, of ‘n os of ‘n dragtige koei.

Deur René Lötter

Duisende kantoorwerkers in Suid Afrika met so min as R2000 om neer te sit kan nou ‘n belegging in ‘n boerdery koop.

• Jy koop die bate (bees of boom) van die boer, via die Livestock Wealth APP.
• Die bate word vir jou geboer, deur ‘n regte boer.
• Die boer koop jou bate terug sodra dit sy volle potensiaal bereik het. Jy maak’n wins uit die verkoop daarvan.

Toegang tot landbou en finansiering in Suid-Afrika soos in die meeste lande was nog altyd deur regeringsbeleid en banke bepaal en dis moeilik vir klein of beginner-boere om suksesvol te begin boer.

Die digitale ekonomie begin hier ‘n groot verskil maak. Beginner-ondernemings skep digitale platforms om boere toegang te bied tot kapitaal wat deur groepfinansiering verkry word, terwyl dit ook verbruikers in staat stel om direk van boere en verskaffers te koop. Dit stel boere in staat om kapitaal van ‘n groep beleggers te verkry, dikwels met ingeboude winsdelingskemas. Sulke platforms bemagtig landbouers om te floreer waar hulle voorheen gesukkel het.

“Crowdfarming” is die nuwe woord wat soos “crowdfinancing” die afgelope paar jaar begin spoed optel het. Livestock Wealth, ‘n Suid-Afrikaanse “skare-finansiering” tegnologie platform, is in 2015 deur die elektro-meganiese ingenieur Ntuthuko Shezi, gestig. Dit word nou deur duisende “foonboere” gebruik om beeste, tuine en macadamia bome te produseer.

Livestock Wealth het duisende mense gehelp om via sy platform in tasbare, groeiende bates te belê. Die besigheid het onlangs ‘n R10 miljoen befondsing hupstoot van die Mineworkers Investment Company (MIC), deur die Khulisani Ventures beleggingsvoertuig ontvang.

Grond Tot Mond het vir Ntuthuko Shezi gevra hoe sy tipiese App-boer lyk, asook wat die minimum bedrag is wat mens moet neersit om saam te boer.
“Die minimum bedrag is sowat R2000 vir een boom. Ons tipiese belegger is soos verwag meestal professionale mense wat tegnologies vaardig is en met enkele uitsonderings, in die ouderdomsgroep van 39 tot 54 is.”

Hoe werk dit?
“Eenvoudig, jy registreer en betaal. ‘n Netwerk van kleinboere word dan in verbinding gesit met aanlyn-beleggers. Jy het geen ondervinding met boerdery of beleggings nodig nie, alles word vir jou gedoen.”

Vryweibees bees:
“Jou vryweibees bees word vir 6 maande bestuur. Sodra dit die toepaslike gewig (+/- 500 kg) bereik, sal dit as vryweibees geslag en verkoop word.”

Dragtige koei:
“Die dragtigheidstydperk vir beeste is 9 maande. Die belegging begin sodra bevestig is dat die koei dragtig is en eindig wanneer die kalf gespeen en verkoop word. Die gemiddelde tydperk vir hierdie is 12 maande.”

Gekoppelde groentetuin:
“Ervare boere bestuur jou tuin. Hulle sal groente produseer wat maandeliks vanaf die 3de maand aan kopers gelewer word.”

Makadamia-boom:
“Makadamias is tans die hoogste verdienste landbouproduk per hektaar. Jy kan die Macadamia-neutboom besit soos dit groei. Hulle neem 6 jaar om die eerste oes en inkomste te produseer.”

Ander boerdery en bates?
“Ons platform is gereed vir enige produk dis net ‘n kwessie dat ons moet voel die produk sal op die langtermyn ‘n goeie belegging wees.

Die 10-jaar vooruitsig.
“Ons is al die afgelope agt jaar deur ‘n hele paar resessies en ons het hikes en crashes gesien. Een ding wat altyd taamlik stabiel bly is beesboerdery – kyk na markverslae van die afgelope 40 jaar.”

Enige anekdotes van jou beleggers?
“Onlangs het een van ons beleggers wat al ‘n geruime tyd met ons besigheid doen, se suster ‘n tweeling gehad. Vir hul eerste verjaarsdag in plaas van die gewone geskenkies, het sy vir elkeen van die tweeling ‘n sertifikaat vir ‘n macadamia-boom gekoop. Vir my beteken dit vertroue in die toekoms. Dat ons besig is om iets goed te doen.

Wat as my bate vrek of verlore gaan?
“Dit word vervang teen geen ekstra koste.”

Ek is ‘n boer, kan ek betrokke raak?
“Ja, LiveStock Wealth is op soek na boere, veral beeste en Makadamia.”

Shezi is optimisties dat die vennootskap met MIC se Khulisani Ventures sal help om die model uit te brei na ander Afrika lande. Dit sluit in nuwe langtermyn beleggings wat ‘n goeie opbrengs kan lewer en groter toegang tot markte. “Ons druk nie vir oorsese beleggers nie. Ons vat dit stap-vir-stap, vir eers rondom die rand monetêre-area.”

Die maatskappy wil dus ‘n groter rol in die Suider Afrika Ontwikkelingsgemeenskap speel en hoop om die beleggings-evaluasie goed op te stoot. Die platform, soos baie ander digitale platforms, het tydens Covid19 groot aanvraag begin toon, omdat baie Suid-Afrikaners na alternatiewe beleggings begin soek het.

Livestock Wealth het in Oktober 2021 hul lisensie ontvangs om as ‘n gemagtigde Finansiële Diensverskaffer op te tree. Foto: facebook.com/livestockwealthZA

Hier is die website en ‘n video vir meer inligting: https://livestockwealth.com/how-it-works/

Wie is MCI?
Livestock Wealth het die jongste strategiese vennoot geword van die MIC, ‘n 100%-beleggingsmaatskappy in swart besit wat in 1995 deur die Mineworkers Investment Trust gestig is. Dit fokus op innoverende besighede. MIC het ‘n wye beleggingsportefeulje wat media, finansies, nywerhede, tegnologie en gaming insluit.

2 Comments

  1. Johan says:

    Kan ek asseblief meer inligting kry oor die lifestock as ook die groente tuin..plus n +-prys op als baie dankie geseende dag

  2. Dirkie Scheepers says:

    I am interested

Leave a Reply

Your email address will not be published.