farmers, News
comments 2

Feestyd-eiertekort tref Nieu-Seeland

Deur René Lötter

‘n Verbod op ingehokte batteryhoenders, wat reeds in 2012 aangekondig is, het onlangs ingetree en daar heers tans chaos in die Nieu-Seelandse industrie. 

Winkelrakke staan leeg en supermarkte beperk die aantal eiers wat elke klant kan koop.  Groot winkels soos Pak ‘n Save in Christchurch, New World en Countdown in Levin voel die eiertekort veral baie erg.

Volgens ‘n Woordvoerder van die Eierprodusente Federasie, Michael Brooks, moes meer as 75 persent van hoenderboere hul metodes aanpas:

Eie-rakke is leeg by New World in Levin. Photo: Janice Swanwick/RNZ

“Die feit dat supermarkte weier om batteryhoender-eiers te verkoop, Covid, en die stygende koste van hoendervoer weens die oorlog in Oekraïne dra alles by tot die krisis – dit het gelei tot ‘n daling van tussen 600-duisend en 700-duisend henne”.

In 2012 was 84 persent van die land se eiers van batteryhoenders.

Dit het boere miljoene gekos om hul boerderye aan te pas, en bygedra tot ‘n styging in eiers.

Toe die regering die verbod aangekondig het, het dit boere onder die indruk geplaas dat hulle ’n meer geleidelike oorgang sal kan maak na kolonie (verbeterde hokke met minder hoenders), skuur of vryloop-metodes.

Maar einde verlede jaar het Countdown reeds begin om eiers van gehokte hoenders van winkels te verwyder omdat die winkel teen 2025 net vryloop eiers wil aanhou. En Foodstuffs het verklaar hulle sal vanaf 2027 ook nie meer kolonie-eiers aanvaar nie – ‘n besluit  wat Brooks  ‘n “bom”  genoem het.

“Dit het gelei tot verwarring in die industrie. Een derde het reeds oorgegaan na kolonie-eiers. Maar om heeltemal werf-hoender of vryloop te boer sou boere ‘n hele nuwe plaas moes koop – en die skuur-sisteem is een wat ons kwalik in Nieu Seeland ken,” s Brooks.

Volgens hom het baie boere die industrie verlaat.

Brooks meen dat die kolonie-sisteem wat tussen 20 en 60 hoenders huisves en baie geriewe vir die henne insluit, baie meer menslik is maar diere-regte aktiviste stem nie saam nie. 

Sommige winkels beperk die hoeveelheid eiers wat klante kan koop. Photo: Niva Chittock/RNZ

‘n Woordvoerder van Foodstuffs,  Emma Wooster beklemtoon dat die besluit van supermarkte oor die feesgety ekstra skadelik was omdat daar ‘n veel groter aanvraag na eiers is.” Almal doen meer tuisgebak en pavlovas”

“Terwyl ons battery-eiers van ons winkels uitfaseer sal ons met die industrie saamwerk en ons aanbod van kolonie, skuur en vryloop-hoenders vermeerder. Ons is daaraan verbonde om nou saam met die regering en die produsente te werk om ons doelwit teen 2027 te bereik”.

‘n Woordvoerder van Countdown verduidelik dat hulle ook met die boere saamwerk om so gou as moontlik die eiertekort op te los. Maar volgens Brooks is dit nie so maklik nie. Dit sal dit ten minste 5 maande duur voordat die tekort verby is.

“Dit neem tussen vier-en-’n-half na vyf maande voordat ‘n hen begin eiers produseer. Boere kan dus nou al kuikens bestel maar die mark gaan nie daardie eiers vir ten minste 5 maande sien nie. Nie voor Mei nie.” reken Brooks

Australië sal ook battery-eiers uitfaseer. 

Maar eers teen 2036, ná ‘n lang stryd tussen die eierbedryf en dierewelsynsgroepe wat volgens laasgenoemde die land uiteindelik in lyn met Europa en Nieu-Seeland sal bring.

Die regulasies is in Augustus laasjaar stilletjies aangekondig.

Die nuwe riglyne bepaal dat eierprodusente die gebruik van konvensionele hokke oor die volgende 10 tot 15 jaar, en op die laatste teen 2036, sal uitfaseer, afhangende van die ouderdom van hul huidige infrastruktuur.

Vanaf daardie stadium moet alle lêhenne, indien hulle in ‘n hok saam met twee of meer ander aangehou word, 750 vierkante cm bruikbare spasie elk hê. As die hen alleen ingehok word, moet die hok voorsiening maak vir 1000 vierkante cm bruikbare spasie.

Terwyl dierewelsynsgroepe sê die 14-jaar tydlyn is te lank, het die bedryfsgroep Egg Farmers of Australia ‘n verklaring vrygestel waarin gesê word dat hulle “ontevrede” is.  Die riglyne “versuim om die opsie vir konvensionele hokkeierproduksie toe te laat om vir ‘n verdere 24 jaar voort te gaan ”.

Melinda Hashimoto, uitvoerende hoof, het gesê die riglyne is ‘n “klap in die gesig” vir eierboere en “het bewyse heeltemal geïgnoreer oor hoekom konvensionele hokkeiers tot 2046 moet voortduur”. Boere maak staat op 30-jaar lenings om vir hokke en ander infrastruktuur te betaal, het sy gesê, en ‘n sperdatum van 2036 “kan baie familie-eierboere aan die muur lei”.

2 Comments

  1. MC BEKKER says:

    Please use your common sense. What about the Broilers, sheep and cattle feeding lots.
    Did any of these regulation makers worked out what the financial quincequinces going to be. Or did they got stuck by agh shame the poor chicken.

Leave a Reply

Your email address will not be published.