News
Leave a comment

FNB top 10: Sauvignon Blanc Suid-Afrika bekroon plek-spesifieke wyne

Besonderse plek-spesifieke wyne het uitgestaan in vanjaar se FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie.

Die 10 wenwyne in die 2024 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie. (Foto: Sauvignon Blanc Suid-Afrika)

Die beoordelaarspaneel van die 2024-kompetisie vir Suid-Afrika se topverkoperkultivar het nie minder nie as sewe wyke, ses distrikte en drie streke bekroon. Uit die 160 wyne wat deur 91 produsente ingeskryf is, het die 2023-oesjaar uitgestaan met sewe wenners in die Top 10. Ses van vanjaar se wenwyne is gehout, ‘n styl wat oor die 18 jaar van hierdie jaarlikse kompetisie toenemend sy merk begin maak het.

Sauvignon Blanc Suid-Afrika het die wenners op Woensdag 16 Oktober by De Meye-wynlandgoed in Stellenbosch aangekondig, met Ryan O’Connor en Success Lekabe as seremoniemeesters. Gaste is uitgedaag om die wenwyne uit 20 finaliste te ontsyfer, met ‘n musiek-en-wynnoot-vasvra waarin ZZ Top, Queen, Harry Styles, en André Rieu ‘n helpende hand gegee het! 

Die Top 10 (in alfabetiese volgorde) is: 

  • Alvi’s Drift Reserve Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Scherpenheuvel, Worcester)
  • Cederberg Wines Ghost Corner Wild Ferment 2023 (gehout) (Elim, Cape Agulhas)
  • Diemersdal Winter Ferment Sauvignon Blanc 2024 (Durbanville)
  • Flagstone Free Run Sauvignon Blanc 2023 (Kusstreek)
  • Hermanuspietersfontein Kat met die Houtbeen Sauvignon Blanc 2022 (gehout) (Sondagskloof, Walker Bay)
  • Iona Elgin Highlands Sauvignon Blanc 2024 (Elgin)
  • Lomond Sugarbush Sauvignon Blanc 2023 (Cape Agulhas)
  • Maastricht The Contour Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Durbanville)
  • Stark-Condé Round Mountain Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Jonkershoekvallei, Stellenbosch)
  • Zevenwacht Z Collection Sauvignon Blanc 2023 (gehout) (Polkadraai-heuwels, Stellenbosch)

Die Top 10 sluit vyf wenners van die Kusstreek, vier van die Kaapse Suidkus, en een van die Breederiviervallei in. Altesaam ses distrikte en sewe wyke spog met wenners, met twee elk uit Durbanville, Kaap Agulhas en Stellenbosch, en een elk uit Elgin, Sondagskloof (Walker Bay) en Scherpenheuvel (Worcester).

Die 2024 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10 wenners is op 16 Oktober by De Meye Wynlandgoed in Stellenbosch deur Sauvignon Blanc Suid-Afrika, FNB, en Ever Solutions aangekondig. Agter van links is Stephan Claassen (FNB), RJ Botha (Sauvignon Blanc SA Voorsitter), Success Lekabe (Seremoniemeester), Jean Nel (Cederberg Wines), Ryan O’Connor (Seremoniemeester), en José Condé (Stark- Condé Wines). Voor van links is Werner Muller (Iona Wines), Gerhard Swart (Flagstone Wines), Brent Claassens (Ever Solutions), Leander Lubbe (Lomond Wine Estate), Wheaty Louw (Maastricht Wines), Alvi van der Merwe (Alvi’s Drift Wines), Colyn Truter (Hermanuspietersfontein Wyne), Hagen Viljoen (Zevenwacht Wynlandgoed) en Juandré Bruwer (Diemersdal Wynlandgoed). (Foto: A Gorman Photography)

‘n Paneel vooraanstaande wynkenners onder leiding van die Kaapse Wynmeester dr Winifred Bowman het die kompetisie beoordeel. Saam met Bowman op die paneel was Johann Fourie, hoofwynmaker by Benguela Cove Lagoon Wynlandgoed; dr. Carien Coetzee, wynkundige by Basic Wine; Morgan Steyn, wynmaker by De Grendel Wines; en Mahalia Kotjane, eienaar-wynmaker van Three Quarter Wines, asook twee protégé-beoordelaars, Kelsey Nel, wynmaker by Hartenberg-wynlandgoed, en Anke van Zyl, ‘n intern by Neil Ellis Wines.

“Sauvignon Blanc beleef ‘n opwindende fase, soos die veelsydige style uit verskillende gebiede in die Top 10 uitbeeld,” sê RJ Botha, Voorsitter van Sauvignon Blanc SA. “Die ses gehoute wenners wys hoe ons wynmakers hul vakmanskap inspan om verskillende elemente van hierdie edeldruif te ontwikkel, tekstuur te bou en lae by te voeg. Die uitstekende prestasie van die 2023-oesjaar bevestig weer die verouderingspotensiaal van Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc. Baie dankie aan ons vennote FNB en EVER Solutions vir hul bydrae tot ons sukses,” sê Botha.

Stephan Claassen, FNB Kommersieel se provinsiale hoof vir die Wes- en Oos-Kaap, het die Top 10-wenners met hul uitsonderlike wynmaakvaardighede en -talent gelukgewens. “Ons jarelange vennootskap met Sauvignon Blanc SA dra by tot die bevordering van die internasionale status van Suid-Afrikaanse wyne, sowel as die plaaslike ontwikkeling van hierdie sektor. Hierdie platform erken en beloon produsente vir hul innovasie en uitnemendheid, wat groter potensiaal vir groei skep. Welgedaan aan al die produsente wat daartoe bydra dat ons Sauvignon Blanc-kultivar internasionale erkenning vir sy gehalte en standaarde handhaaf.

Ons betrokkenheid strek verder as die borgskap van die toekennings; ons ondersteun die hele ekosisteem rondom die wynbedryf, insluitend die verskeie besighede in die waardeketting, en stimuleer ook werkskepping in die landbousektor,” het Claassen bygevoeg.


Proe, koop en leer meer oor die Top 10; Laai ‘n Top 10-boekie met proe-notas gratis af by https://sauvignonblanc.com/ EN koop die 2024 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-versameling aanlyn via https://www.wineofthemonth.co.za/ 

Vir meer inligting, besoek https://sauvignonblanc.com/ of skakel +27(0)82 808 1114.

Leave a Reply

Your email address will not be published.