News
comments 2

So ‘n bek moet jêm kry!

Agri-Expo brei sy tradisie van uitnemendheid uit met die Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe – ‘n splinternuwe kompetisie wat in Mei 2025 afskop en die kollig plaas op topgehalte preserveerprodukte, van ingelegde vrugte tot piekels en konfyt. Die kampioenskappe vier tradisie, bevorder innovasie en gee erkenning aan boere.

Dié kampioenskappe is daar om uitblinkers in die bedryf te beloon en om te wys wie regtig weet hoe om iets lekkers te bottel. Hoofbeoordelaar Susina Jooste verduidelik: “’n Kundige paneel gaan die produkte deur ‘n blinde proe-proses beoordeel, met streng standaarde en ‘n onafhanklike oudit. Net die beste van die beste gaan bekroon word!”

‘n Ry pragtige bottels vol geur en tradisie! Wildebraam se handgemaakte konfyt en preserveerprodukte is ‘n toonbeeld van kwaliteit.

Tradisie, innovasie en erkenning vir boere

By die bekendstelling van die kampioenskappe het Jooste haar waardering uitgespreek vir almal wat hierdie kuns bemeester het. “Om kos te preserveer, is meer as net ‘n manier om dit langer te hou – dit gaan oor kreatiwiteit, volharding en om ‘n bietjie nostalgie in ‘n bottel vas te vang. Wie onthou nie die dae van vrugtesny in Ouma se kombuis of die toets van die jellie se stolpunt nie? Hierdie kompetisie is ‘n huldeblyk aan die mense wat hierdie tradisie lewendig hou.”

Hierdie kampioenskappe erken ook die harde werk van boere en produsente wat jare lank in die ontwikkeling van hierdie produkte belê het. Agri-Expo se Hoofbestuurder, Breyton Milford, verduidelik dat die preserveerbedryf diep gewortel is in landbou en ‘n manier is om die vrugtebedryf verder te bemark en te versterk. “Suid-Afrika is een van die wêreld se voorste produsente van vrugte, en die preserveerkampioenskappe sal help om hierdie sektor nog meer te laat skitter.”

Maar dit gaan nie net oor ou resepte nie – daar is ook plek vir nuwe, kreatiewe kombinasies wat die mark verstom. “Preserveerprodukte is nou ‘n belangrike deel van die voedselbedryf en hierdie kampioenskap gaan help om standaarde te verhoog en klein en groot produsente ‘n platform te gee om hul talent te wys,” sê Jooste.

Van links: Chris Fourie, President van Agri-Expo, Stephanie le Roux, Raadslid van Agri-Expo, dr Mogale Sebopetsa, Departementshoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Susina Jooste, Hoofbeoordelaar van die SA Preserveerkampioenskappe, dr Ivan Meyer, Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme: Wes-Kaap, en Adele Johnson, Hoofbestuurder van Soetmelksvlei.
Foto: Natalie Gabriels Fotografie.

‘n Kompetisie met ‘n bewese resep

Volgens Milford is hierdie kompetisie geïnspireer deur die groot sukses van die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe – ‘n kompetisie wat al sedert 1834 gehou word en jaarliks rekordinskrywings verbreek. “Ons weet hierdie preserveerkampioenskappe gaan net so ‘n groot impak hê op die bedryf en vir verbruikers meer vertroue bring in die produkte wat hulle koop.”

Hy voeg by dat Agri-Expo, wat al vir 194 jaar bestaan, ‘n trotse geskiedenis het van die bevordering van landbou en agri-verwerking. “Die preserveerkampioenskappe skryf ‘n nuwe hoofstuk in hierdie ryk geskiedenis en bied ‘n geleentheid om entrepreneurs, kleinskaalse boere en gevestigde vervaardigers ‘n kans te gee om erkenning te kry.”

Produsente van preserveerprodukte wat reeds kommersieel beskikbaar is, kan hul inskrywings indien vir die Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe en hul gehalte aan die land bewys.

Belangrike datums en inskrywings

Die Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe se inskrywings open op 5 Mei 2025 en sluit op 25 Junie 2025. Beoordeling vind op 23 Julie 2025 plaas en die wenners word in Augustus 2025 aangekondig. Enige kommersiële preserveerproduk kan inskryf.


Vir meer inligting, besoek https://preservechamps.co.za

2 Comments

  1. Jeanette says:

    Can anybody that make preserves enter this competition…thanks so much

Leave a Reply

Your email address will not be published.