Terwyl Suid-Afrika se natuurlike habitat stadig krimp, wys Rooibosboere in die Cederberg dat daar ander oplossings is. Een wat boerdery én natuurbewaring kombineer. Volgens Marthane Swart van die Rooibos Raad is meer en meer boere besig om hul grond nie net vir Rooibos te gebruik nie, maar ook om bedreigde spesies en plante te beskerm.

Dink byvoorbeeld aan die Kaapse luiperd, wat nog in die berge rondsluip, maar al hoe minder plek het om veilig te leef. Van hierdie boere werk nou saam met organisasies soos Cape Leopard Trust om hul grond ook as bewaringsgebiede te gebruik. ’n Wen vir mens én natuur.
Dis nie net diere wat baat nie. Die Clanwilliam sederboom, wat feitlik uitgewis is deur oorbenutting en klimaatsverandering, kry ook nou nuwe lewe. Boere help om die boom weer aan te plant en die unieke fynbos van die streek te herstel. Dawie Burger van Sustainable Ceder sê die Rooibosbedryf speel ’n groot rol hierin, maar nóg breër samewerking sal nóg meer verskil maak.

Monique Ruthenberg van CapeNature sê dit is bemoedigend om te sien hoe boere, organisasies en gemeenskappe hande vat om iets werklik betekenisvol aan te pak.
Benewens bewaringswerk, boer baie Rooibosprodusente ook meer volhoubaar – met wisselbou, minder chemikalieë en gesonde grondbestuur. Sommige het reeds 500 hektaar grond onder rehabilitasie. Die Rooibosbedryf werk ook saam met inisiatiewe soos die Union for Ethical Biotrade (UEBT) en Rainforest Alliance.
Selfs toerisme kry ’n hupstoot. Die Rooibos Heritage Route gee besoekers ’n kykie in die plaaslewe, die streek se biodiversiteit en sy stories. Dit bring ook ’n ekstra inkomste vir boere.
Met klimaatsverandering en biodiversiteitsverlies wat wêreldwyd toeneem, wys die Rooibosboere van die Cederberg dat dit moontlik is om volhoubaar te boer én die aarde te beskerm. Dis plaas-trots op sy beste.
Besoek rooibosheritageroute.co.za vir meer inligting.