Uncategorized
Leave a comment

Jongboere wat inspireer – twee wenners, twee stories van groei

Twee toegewyde jong boere is onlangs bekroon vir hul leierskap in Suid-Afrikaanse landbou. Die kompetisies, aangebied deur AgriCulture Mpumalanga, Agri Wes-Kaap en Santam, help om toekomstige landbouleiers te identifiseer en aan te moedig. Dit bevorder debat, netwerkgeleenthede en kennisdeling binne georganiseerde landbou.

Hendy-Hein Mathews is aangewys as AgriCulture Mpumalanga se Jongboer van die Jaar 2025 vir sy volhoubare bestuurspraktyke en gevorderde veeboerdery op die Janvos-landgoed. Francois Rossouw van Mooigezicht Estates in die Hexriviervallei het die Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-toekenning ontvang vir sy werk in presisieboerdery en produksiebestuur.

Hendy-Hein Mathews (AgriCulture Mpumalanga se Jongboer van die Jaar 2025, en op regterkant is Francois Rossouw (Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar)

Grond tot Mond het met albei wenners gesels.

HENDY-HEIN MATHEWS:
van swaarkry tot sukses op die Hoëveld

Hendy-Hein Mathews ken van swaarkry, weer begin en deurdruk, en ongeag moeilike omstandighede, daarin slaag om ’n sukses van sy loopbaan te maak. Hendy-Hein – “noem my sommer Hendy, my familie praat van Hendy-Hein,” sê hy wanneer ons telefonies kennis maak – is kuddebestuurder en mede-melkerybestuurder op die Janvos-landgoed naby Bethal in Mpumalanga.

“My vroeë herinneringe aan boerdery was nie baie rooskleurig nie. Wat ek van boerdery geweet en geleer het, was altyd gekoppel aan swaarkry en finansiële druk.”

Hendy-Hein glo in die belangrikheid van aanpasbare, geharde vleisbeeste.

Die plaas is aanvanklik deur Jan Grey, ’n bekende boer van Mpumalanga, opgebou en dit is hier waar hy in 2007 sy stoet begin het. Maar ander paaie het Hendy-Hein hierheen gelei.

“Ek is eintlik al die vyfde geslag boer op ons familieplaas Graslaagte by Lichtenburg. Ek is in Lichtenburg gebore, maar toe kom die groot droogtes van die laat 1980’s en moes ons noodgedwonge die boerdery laat vaar.

Op Janvos boer Hendy-Hein en Carike Mathews saam met hul kinders, en hul rooikop-beeste is net so familiegefokus soos hulle.

My pa het eers weer gaan werk en deeltyds op Marken in Limpopo geboer. Ek het skoolgegaan op Ellisras.

“Na voltooiing van matriek in 2005, het ek vir twee jaar eers gaan werk – eers in ’n bank en later op ’n wildsplaas, terwyl ek deeltyds bietjie met hoenders geboer het terwyl ek besluit het wat om met my lewe te doen. ’n BSc- en honneursgraad in geografie en omgewingsbestuur het gevolg, en dit kom vandag handig te pas – veral as dit gaan oor volhoubare boerderypraktyke en ’n omgewingsvriendelike benadering tot kuddebestuur,” vertel hy.

Na ’n onsuksesvolle soektog na werk in die omgewingsbestuursveld, het hy op ’n plaas in die Waterberge begin werk vir ’n naweekboer wat met beeste geboer het. Kort daarna het hy ’n aanloklike aanbod van ’n voerkraal in Delmas ontvang en daarheen geskuif.

Daar het dinge begin beter verloop en vandat hy elf jaar gelede by Jan Vos begin boer het, het sy lewe ingrypend verander. Sy universiteitsvakansies het hy as toergids saam met sy suster se toeronderneming deurgebring, en in daardie tyd het hy ook gehelp om sy pa se beeste groot te maak.

Hendy-Hein Mathews tussen sy vleismerino’s – een van die kuddes wat hy met toewyding en volhoubaarheid bestuur op Janvos-landgoed.

“My vroeë herinneringe aan boerdery was nie baie rooskleurig nie. Wat ek van boerdery geweet en geleer het, was altyd gekoppel aan swaarkry en finansiële druk. Dit was altyd ’n gespook en ek het ’n negatiewe gevoel daarmee geassosieer. Ek het altyd gesê ek sal nooit boer nie. Tog het ek deurgaans my eie Afrikaner-kudde opgebou as stokperdjie en nooit gedink dit sou my loopbaan word nie. Met tyd het ek besef dat landbou in my bloed is, en dat dit is wat ek wil doen.”

Hendy het ’n groot passie vir die veebedryf – veral vir beeste – en sien dit nie as werk nie, maar as ’n voorreg en plesier. “Dit is die passie van my lewe. Ek eet, slaap en droom vee.”

Hy is eintlik ’n gebore boer en kan hom nêrens anders indink nie.

“Dis nie iets wat jy aanleer nie, dis in jou.”

Hendy bestuur ‘n Boran-kudde, ’n deel van die Holstein-melkery en vleismerino-skape. Die Holstein-beeste word hoofsaaklik met die TMR-stelsel gevoer, waardeur hulle volvoer kry, aangesien die natuurlike weiding op die Hoëveld nie voldoende is nie. Volgens Hendy is dit die enigste metode wat vir hul melkery werk, en die Holsteins is besonder geskik vir hierdie stelsel.

“Hulle is die enigste beeste wat regtig goeie winste uit die TMR-stelsel kan gee. Ons voeg ’n bietjie Jersey-melk by vir die bottervet, en die genetiese materiaal wat ons gebruik, is van die beste in die wêreld.”

Jy moet jou werkers positief ondersteun en hulle na waarde ag.

Hy verduidelik dat hul Boran-kudde ideaal aangepas is vir die strawwe Hoëveldse toestande. Die beeste hanteer die koue wintermaande goed, aangesien hulle swak kwaliteit ruvoer effektief in vleis kan omskakel. Die kudde word op drie vlakke bedryf: ’n kommersiële komponent, waar kruisteling met rasse soos Droughtmaster, Brangus en Beefmaster vir speenkalfproduksie plaasvind; ’n opteelkudde; en ’n stoetafdeling.

Vir Hendy is volhoubaarheid in die boerdery van kardinale belang.

“Om suksesvol te wees, moet jy holisties boer. Dit beteken jy moet fokus op ekonomiese omstandighede, maatskaplike faktore én die natuur. En jy moet steeds finansieel vorentoe beweeg. Jy moet jou werkers positief ondersteun en hulle na waarde ag. As jou werknemers verantwoordelikheid vir hul take kan aanvaar – veral omdat hulle met lewendige diere werk – is die pad na sukses korter.

Met sy Brahmane bou hy doelgerig aan ‘n stoet wat aangepas is vir beide vleisgehalte en gehardheid.

“Wat ek wel besef het, is dat jy ’n aptyt vir risiko moet hê as jy wil groei. Maar jy kan nie net eksponensieel uitbrei nie – die natuurlike, ekonomiese en politieke omgewing is onvoorspelbaar en kan maklik ’n swak jaar veroorsaak. As jy nie dan ’n ‘spaarbussie’ het nie, kan dinge vinnig moeilik raak.

“Die kompetisie het my weer tot selfrefleksie gedwing – dit het my laat besef ek wíl beter boer, nuwe dinge aanpak, innoverend dink en oplossings soek,” sê Hendy.

Francois Rossouw boer saam met sy familie op Mooigezicht Estates in die Hexriviervallei, waar hulle op 400 ha met verskeie tafeldruifkultivars spesialiseer. Hy is verantwoordelik vir die helfte van die plaas se produksie.

FRANCOIS ROSSOUW:
Presisieboerdery en bestuur van mense gaan hand aan hand

Francois Rossouw boer saam met sy familie op Mooigezicht Estates in die Hexriviervallei op sowat 400 ha produksiegrond, waar hulle spesialiseer in ’n verskeidenheid tafeldruifkultivars. As jong boer wat verantwoordelik is vir alle fasette van die helfte van hul onderneming se produksiepraktyke, rus daar ’n reuse-verantwoordelikheid op sy skouers.

Van al die tafeldruifproduksiegebiede het ons die langste seisoen in die wêreld.

“Min of meer die helfte van die plaas se aktiwiteite val onder my bestuur – dit sluit aspekte in soos dag-tot-dag take, die bestuur van chemiese programme, spuit- en waterbestuur, begrotingsbeplanning en personeelbestuur, met alles wat daarmee saamgaan. Ek het ook verantwoordelikhede ten opsigte van strategiese beplanning as deel van Mooigezicht se direksie. Ons oorhoofse doelwit is om volhoubaar produkte van die hoogste gehalte teen die winsgewendste pryse aan die mark te lewer,” som hy sy rol op.

Mooigezicht Estates se verpakking- en versendingsfasiliteit is ’n toonbeeld van doeltreffendheid.

Francois vertel dat hy van kleins af ’n liefde vir boerdery ontwikkel het. As boorling van De Doorns het hy sy laerskoolloopbaan daar voltooi en is daarna Hoërskool Stellenbosch toe. Hy het daarna ’n honneursgraad in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

“In 2018 het ek ’n paar maande gebruik om ’n wyer perspektief op die bedryf te kry – ek het kliënte in China besoek, al die afdelings van ons onderneming deurgegaan, en tyd spandeer by ’n kultivarteler in Kalifornië, waar baie van ons kultivars vandaan kom.”

Die ingang na Mooigezicht, waar die regte hoeveelheid koue-eenhede elke winter verseker dat die tafeldruive hul volle gehalte ontwikkel.

“Ek het as produksiebestuurder begin. Aanvanklik was dit uitdagend, maar ek het baie geleer deur voltyds betrokke te wees. Dit het my goedgedoen om onder te begin en prakties te verstaan wat elke produksieverantwoordelikheid behels,” sê hy.

By Mooigezicht word elke tros tafeldruiwe noukeurig gekeur vir kleur en grootte.

Volgens Francois bring ’n familie-onderneming sy eie unieke uitdagings mee, maar dit bied ook wyer toegang tot meer fasette van die boerdery.

“’n Mens moet seker maak jy trap nie op mekaar se tone nie, maar gelukkig is elkeen se rol duidelik uiteengesit. ”

“Deesdae kan jy nie meer produseer as jy minder as 4 000 kartonne per hektaar kry nie.”

“My vrou, Jean-Mari, is ’n arbeidsterapeut en speel ’n belangrike rol in die maatskaplike ontwikkeling van ons werknemers. Sy help met die bestuur van fasiliteite vir voorskoolse kinders, kinder- en tienerklubs, leesgroepies en ’n koffiekroeg vir die werkers, en lewer arbeidsterapiedienste soos nodig.”

Francois Rossouw en sy vrou, Jean-Mari, onder die oorvloedige tafeldruiwe – ’n simbool van hul gedeelde passie vir boerdery.

Francois beklemtoon die belangrikheid van hul arbeidsmag – veral omdat tafeldruiwe soveel handearbeid vereis. Hy glo dit is een van die mees kritieke aspekte van druiweboerdery, veral gegewe die regulasies, wetgewing en voortdurende opleiding. Volgens hom is mensebestuur noodsaaklik vir sukses.

Vir ’n jongboer soos hy is presisieboerdery onontbeerlik. Hy glo dis die werkswyse van die toekoms – en iets wat reeds vandag toegepas moet word.

Mooigezicht Estates se druiwe reis wêreldwyd.

“Presisieboerdery is belangrik omdat ons baie intensief boer en ’n komplekse bestuurstelsel gebruik wat talle faktore in ag neem. Ons het baie mense in diens, en as jy besef dat tussen 50 000 en 60 000 trosse druiwe per hektaar tussen vyf en sewe keer deur mensehande hanteer moet word vóór dit geoes word, besef jy dis ’n reuse-taak. Tydsberekening is ongelooflik belangrik.

“Dit is ook voordelig vir die landbou dat ons as jong boere kan deelneem aan sulke kompetisies, wat ons die geleentheid gee om betrokke te raak by georganiseerde landbou.”

“Om produksiepraktyke voortdurend te verbeter, moet ’n mens op hoogte bly van nuwe kultivars, die nuutste en korrekte tegnieke, en seker maak dat dit reg deur die onderneming toegepas word. Dit is van kardinale belang om die gaping tussen kennis en praktyk in presisieboerdery te oorbrug.

“Ons doen dit deur sterk op tegnologie staat te maak. Ons spuitprogramme, waterbestuurstelsels – insluitend toediening en boorgatbestuur – sowel as kunsmistoediening met behulp van GPS-koördinate en chemiese beplanning, word alles digitaal bedryf. Met behulp van hierdie programme monitor ons daagliks al die stelsels en pas dit aan indien nodig.” verduidelik hy.

Francois Rossouw saam met sy pa, Francois sr. op Mooigezicht – ’n familieplaas waar generasies lank se kundigheid en toewyding aan kwaliteit tafeldruiwe steeds vandag voortleef.

’n Verdere belangrike aspek wat hulle in ag neem, is die vraag van die markte en die tydige lewering van produkte van hoogstaande gehalte aan die onderskeie afsetpunte wêreldwyd.

“Daarmee saam moet ons verseker dat die regte tipe hier geplant word. Ons grootste kultivar is Crimson Seedless, ons brood-en-botter-kultivar, maar nuwe kultivars soos Sweet Globe, Autumn Crisp, die Sugra-reeks en ARD35 is van die nuwes wat ons aangeplant het. Kultivarkeuse is belangrik vir risikoverspreiding en om so lank moontlik marktoegang te behou. Van al die tafeldruifproduksiegebiede het ons die langste seisoen in die wêreld: ons begin reeds in week 50 pak en gaan aan tot in week 16 of 17.”

“Die verskeidenheid kultivars stel ons in staat om verskillende markte te bedien en beperk ook die invloed van wisselende klimaatsomstandighede. Kultivarvernuwing is ’n konstante proses en dit hang af van hoe die kultivar presteer. Maar ongeag hoe goed ’n kultivar is, moet dit winsgewend wees – en deesdae kan jy nie meer produseer as jy minder as 4 000 kartonne per hektaar kry nie.”

Met jong boere soos Francois Rossouw wat betrokke is by landbou, en meer spesifiek die tafeldruifbedryf, is dit duidelik dat moderne benaderings tot volhoubare en winsgewende produksiepraktyke toegepas word.

“Dit is ook voordelig vir die landbou dat ons as jong boere kan deelneem aan sulke kompetisies, wat ons die geleentheid gee om betrokke te raak by georganiseerde landbou. Die oordrag van kennis en vaardighede na ander produsente binne georganiseerde landbou, en veral na die volgende geslag, is van kardinale belang. Só kan ons help om ’n groeiende en vooruitstrewende bedryf te bou wat wêreldwyd die pas kan aangee,” sluit hy af.

Filed under: Uncategorized

by

Danie is an award-winning journalist with three decades of news writing under his belt. He has a special love for local news, having served as the editor of a community newspaper for seven years. He is has also written for most of the daily newspapers and a variety of online news platforms. People and what make them tick intrigues him, but he is also fond of wine, travel, environmental, investigative and a host of other stories. “Being in the outdoors, with people who has a love for nature in their souls, and to put those feelings and experiences into words, is the ultimate challenge to me as journalist.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *