News
Leave a comment

Rooibos laat tilapia vinniger groei – nuwe studie baan weg vir volhoubare akwakultuur

In ’n studie deur Walter Sisulu Universiteit het navorsers ontdek dat die byvoeging van groen Rooibos-ekstrak tot tilapia-voer visgroei en voereffektiwiteit merkbaar verbeter. Onder leiding van prof. Grace Okuthe, senior navorser aan die Universiteit, is kommersiële visvoer vergelyk met voer wat óf met gefermenteerde Rooibos (die bekende rooi variëteit) óf ongefermenteerde groen Rooibos-ekstrak verryk is. Die resultate was duidelik: tilapia wat groen Rooibos gevoer is, het sowat 2.83% vinniger gegroei en 0.9% meer doeltreffend voer omgeskakel in liggaamsmassa as die kontrolegroep.

“Dit lyk dalk min, maar in kommersiële akwakultuur beteken selfs fraksionele verbeterings in voeromskakeling beduidende kostebesparings, vinniger produksiesiklusse en ’n verminderde omgewingsimpak.” sê prof. Okuthe

Groen Rooibos-ekstrak (links) en rooi Rooibos-ekstrak (regs).

Hoe Rooibos in visvoer werk

Die span glo die effek hou verband met Rooibos se bioaktiewe fenoliese verbindings, wat die voer smaakliker kan maak, dermgesondheid bevorder en voedingstofabsorpsie verbeter. Die studie het ook bewyse gevind van DNS-beskerming in die visse, wat dui op ’n algehele gesondheidsvoordeel.

“Hierdie verbindings werk in harmonie met die vis se spysverteringstelsel, wat hulle help om meer uit dieselfde hoeveelheid voer te kry. Dit gaan nie oor ekstra proteïene of kalorieë nie – dit gaan oor die verbetering van die vis se doeltreffendheid en veerkragtigheid.” verduidelik prof. Okuthe

Omgewings- en ekonomiese voordele

Verbeterde voereffektiwiteit beteken minder afval beland in die water – ’n groot omgewingsuitdaging in visboerdery. Deur voedingstof-afloop te verminder, help dit om algebloei te voorkom en beskerm dit akwatiese ekosisteme.

Die innovasie hou ook duidelike ekonomiese potensiaal vir landelike Suid-Afrika in. Rooibos word uitsluitlik in die Wes-Kaap gegroei. ’n Kommersiële vraag na groen Rooibos-ekstrak kan ’n nuwe mark vir produsente skep en werksgeleenthede ondersteun in oes, verwerking en verspreiding.

Eksperimentele tenks (links), sowel as hou-tenks in die vislaboratorium (middel) by die Departement Biologiese en Omgewingswetenskappe, Fakulteit Natuurwetenskappe, Walter Sisulu Universiteit. Heel regs is studente besig om te help met dataversameling aan die einde van die eksperimentele periode.

Die navorsing wys hoe ’n inheemse gewas soos Rooibos nuwe waarde kan ontsluit. As visboere ’n deel van ingevoerde sintetiese byvoegings met plaaslik verkrygde Rooibos-ekstrak vervang, kan hulle insetkoste sny en die toevoerketting eenvoudiger maak – iets wat al hoe belangriker raak met stygende internasionale verskepings- en regulatoriese kostes. Só word Rooibos se pad mooi belig: van ’n tradisionele tee tot ’n moderne, wetenskapgedrewe bestanddeel met hoë waarde.

Geleenthede en uitdagings

Al is die laboratoriumresultate baie belowend, sal dit versigtig benader moet word voordat Rooibos op groot skaal in visboerdery gebruik kan word. ’n Betroubare voorsiening van Rooibos moet verseker word, die ekstrak se krag moet tydens industriële verwerking behoue bly, en die voordele moet ook in verskillende boerdery-omgewings bevestig word. Verder is regulatoriese goedkeuring nodig en sal langtermynstudies moet wys dat daar geen negatiewe uitwerking op die vis se smaak, tekstuur of kwaliteit is nie. Die volgende stap is om die Rooibos-ekstrak ook op ander spesies soos varswater vis en garnale te toets – met die potensiaal om uiteindelik ’n natuurlike, veelsydige voerbyvoeging vir die hele akwakultuurbedryf te skep.

Prof. Grace Okuthe, senior navorser aan Walter Sisulu Universiteit.

Die wêreldwye potensiaal

Met akwakultuur wat nou meer as die helfte van die wêreld se vis vir menslike gebruik produseer, is innovasies wat doeltreffendheid verbeter en omgewingsimpak verminder in groot aanvraag. Tilapia, in besonder, is een van die mees gekultiveerde visse wêreldwyd, geliefd vir sy sagte smaak, aanpasbaarheid en bekostigbaarheid. ’n Natuurlike, plaaslik verkrygde byvoeging soos groen Rooibos kan produsente help om aan die groeiende vraag na proteien te voldoen sonder om verdere druk op mariene ekosisteme of landbouhulpbronne te plaas.

“Suid-Afrika het hier ’n geleentheid om leiding te neem. Ons kombineer erfenis, wetenskap en volhoubaarheid op ’n manier wat aanklank vind in wêreldmarkte,” beklemtoon Prof. Okuthe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *